Oppasser glo meesterbrein agter baba se ontvoering

Die 14 maande oue Siya Mlambo

Die 14 maande oue Siya Mlambo

Die oppasser van die 14-maande oue Siya Mlambo, wat Dinsdag tydens ʼn huisroof in Soweto ontvoer is, was glo die meesterbrein agter die ontvoering.

Die Gautengse polisie het Vrydag tydens ʼn mediakonferensie die besonderhede bekendgemaak waarin Mlambo in Newcastle in KwaZulu-Natal gevind is. Genl.maj. Fred Kekana van die Soweto-Wes polisie het aan verslaggewers gesê Siya se oppasser, ʼn sangoma en ʼn derde verdagte is in verband met die saak in hegtenis geneem.

Siya is Donderdagaand met sy ma herenig nadat die polisie ʼn wenk ontvang het dat hy in Newcastle gevind is. “Die taakspan het hulle dadelik na Newcastle gehaas om by Siya uit te kom,” het Kekana gesê.

Siya is Dinsdag ontvoer nadat twee verdagtes sy ma na die gesin se huis gevolg het. Hulle het die huis binnegegaan en geld van die ma en die baba se oppasser geëis.

Die verdagtes het die ma in haar motor ingedwing en na ʼn kitsbank gery waar hulle haar gedwing het om geld te trek. Met hul terugkeer na die huis het hulle die ma en oppasser vasgebind.

Kekana het verduidelik die twee vroue is die hele aand lank gyselaar gehou en die ontvoerders is die volgende dag daar weg met Siya. Hulle het ook van sy klere en ander bababenodighede soos kos gesteel voor hulle gevlug het.

Die twee vroue kon hulself uiteindelik loswikkel en het die polisie ontbied. “Die polisie het dadelik ʼn taakspan saamgestel onder leiding van kol. Van Wyk en ʼn forensiese span het ook op die toneel inligting versamel. ʼn Identikit is ook saamgestel en met behulp van die media kon ons die inligting vinnig versprei,” het Kekana bygevoeg.

“Terwyl ons die oppasser, wat ook die ma se niggie is, ondervra het, het ons ʼn oproep ontvang dat die kind moontlik in Newcastle gevind is. Die span is dadelik na Newcastle waar hy veilig, gesond en ongedeerd gevind is.”

Kekana het bevestig ʼn 22-jarige sangoma en ʼn 25-jarige man is in Newcastle in hegtenis geneem. “Die niggie is by die polisiestasie gehou terwyl die span na Newcastle is, omdat die span onraad vermoed het. Sy is ook in hegtenis geneem toe die span teruggekeer het.”

Hy het gesê die polisie is steeds op soek na ʼn vierde verdagte. “Ons weet presies wie hy is, en ons is dankbaar vir die polisie in KwaZulu-Natal wat ʼn noodsaaklike rol in die saak gespeel het.”

Kekana het gesê die ontvoerders het reeds vir Siya ʼn nuwe naam gegee.

“Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn,” het hy bygevoeg.

Siya se ma was ook by die perskonferensie. “Ek is dankbaar dat God my kind teruggebring het. Dankie aan al my kollegas en vriende vir julle ondersteuning.”

Lees alle vorige berigte oor Siya Mlambo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

elize naude ·

ai dit is woes… ek hoop die gesin kom oor die skok en wens hulle beterskap toe!!!

marlene ·

Ai dis baie hartseer. ‘n Mens moet iemand met jou lewe vertrou wanneer jy jou kind in daardie persoon se sorg laat. Moes ‘n groot skok vir die ma wees. Ek wil nie eers probeer dink waardeur sy moes gaan nie. Baie dankbaar sy het haar baba terug. Sy moet regtig vir berading probeer gaan. Baie sterkte!

marlene ·

Ai dis baie hartseer. ‘n Mens moet iemand met jou lewe vertrou wanneer jy jou kind in daardie persoon se sorg laat. Moes ‘n groot skok vir die ma wees. Ek wil nie eers probeer dink waardeur sy moes gaan nie. Baie dankbaar sy het haar baba terug. Sy moet regtig vir berading probeer gaan. Baie sterkte!

Sarie ·

So ‘n mooi baba.. Ek vertrou nie ‘n sangoma naby ‘n kind nie! Netnou maak hulle hom dood & gebruik sy liggaamsdele in hul brousels… Sekere dinge is naie gekompliseerd… Kan dit ongelukkig nie hier bespreek nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.