‘Oppervlakkige grondoordrag benadeel landbou’

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

TLU SA is nie oortuig dat die regering die verskil tussen landbou en sosio-maatskaplike hulp besef nie.

Maroela Media het vroeër berig Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vanoggend aangekondig dat 135 117 hektaar staatsgrond vanjaar aan 275 boere – onder wie jongmense, vroue en mense met gestremdhede – oorgedra is. Sy het verder aangekondig dat nog ongeveer 260 000 hektaar staatsgrond binne die volgende twee weke geadverteer sal word. Vroue, jeugdiges en gestremdes sal voorkeur ontvang.

“Die minister maak ʼn punt daarvan om boere te bedank dat hulle tydens die inperking voortgegaan het om kos aan die land te voorsien,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Maar tog kom dit voor asof alles moontlik gedoen word om landbou – en veral kommersiële boere – te benadeel.

“Die opheffing van mense kan slegs gebeur as hulle self verantwoordelikheid neem. Wanneer dit in die landboubedryf gebeur, moet die nuwe landbouers die plase volhoubaar winsgewend bedryf om ʼn bydrae tot landbou, en die ekonomie, te maak. As dit nie gebeur nie, is dit bloot ʼn politieke spel om mag te wen.”

TLU SA verwelkom graag nuwe toetreders tot die landboubedryf. Dié landbouers moet egter ʼn billike geleentheid hê om ʼn sukses van hulle boerderye te maak. ʼn Verantwoordelike regering sou bestaande landbou-organisasies betrek by die evaluering, toekenning en daarstel van die kriteria waaraan nuwe toetreders moet voldoen.

“Suid-Afrika se landbougrond word as marginaal beskou vergeleke met ander produserende lande,” voeg Geldenhuys by. “Dit is daarom belangrik dat die beskikbare landbougrond met groot oorsig benut word. Dit is noodsaaklik dat die beginsel van ekonomie van skaal hier toegepas moet word.

“Ons het vir die toekoms kundige boere nodig wat hulle plase winsgewend in produksie moet kan hou. Die ANC se rekord van grondoordrag het in hul eie erkenning die skaars landbougrond op groot skaal uit produksie gehaal. Dit plaas voedselsekerheid in die weegskaal.”

Geldenhuys sê as die regte ekonomies-gedrewe benadering nie die kern van grondbenutting is nie, is dit bloot ʼn politieke punte-insameling in plaas van ʼn volhoubare oplossing vir die welstand en vooruitgang van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Hier kom weer n klomp nuwe “informele nedersettings”

Sarel

Grond alleen beteken niks
Die mense moet geleer word om die grond te bewerk

Stemwerwing en Politieke foeffie.

annie

Is dit wat ook met die ander plase moet gebeur… a la Zim? Wie sal vir die begunstigdes wil werk as daar net een kriteria is, nl verontregtes. Dan kwalifiseer alle kaderiane mos. Wat is ‘n jeugdige? Watter gestremdes is uitgesluit? Hierdie game se reèls stem ooreen met diè van die Covid-staan-in-die-ry-vir-miljoene-‘gone-in-the-wind-charity-fund-and-now-for-food-packages-and-laptops-and…’.

Lian

Hoe groot gaan elke lappie grond wees? Gaan mense ‘n bestaan daarop kan voer ? Weet hulle hoe om te boer ? Of gaan dit ook ontaard in plakkerkampe wat ‘n bedreigin vir die omgewing gaan inhou ?

Yvonne

Kan n landbouer met n lappie bewerkte grond n nasie voed? Ek dink nie so nie…hoe kan n gestremde grond bewerk…iets maak nie sin nie