Opposisie groei en ANC boer agteruit in tussenverkiesings

Foto: Maroela Media

Opposisiepartye het stewig gegroei en die ANC het nogmaals noemenswaardig teruggesak in ses tussenverkiesings wat die afgelope twee weke op uiteenlopende plekke dwarsoor die land gehou is.

Hierdie week se enigste tussenverkiesing was in wyk 9 van die Tshwane-metro. Winterveld is ‘n groot, gevestigde, brandarm gebied noordwes van Pretoria, naby Soshanguve. Dit was nog altyd stoere ANC-hartland, in so ‘n mate dat dit oudpres. Thabo Mbeki se kiesafdeling was toe hy nog ‘n parlementslid was.

Maar die wiel draai, en in Gauteng draai hy nou al geruime tyd sterk teen die ANC. Winterveld is ook nou deel van daardie neiging – die ANC het wel die wyk gewen, maar het 14 persentasiepunte swakker gevaar as in 2016, wat vir die Pretoriase ANC reeds ‘n rampspoedige jaar was.

In ‘n verrassende wending was dit die DA wat die sterkste groei getoon het. Dit is veral belangwekkend dat die DA nou die EFF vervang het as die tweede grootste party in Winterveld – en nogal ‘n groot voorsprong bo die EFF opgebou het. Dit is ‘n voortsetting van die DA se voortgesette stewige groei in uiteenlopende Gautengse gemeenskappe.

Die nuwe stadsraadslid vir Winterveld is Matshidiso Baloyi (ANC), wat 2 748 stemme gekry het. Die DA was tweede met 705 stemme, gevolg deur die EFF met 406, die Arusha Economic Coalition met 58, die Forum 4 Service Delivery met 27, Al Jamaah met 21, die ACDP met 9 stemme en die South Africa First Party met 4.

Verdere goeie nuus vir die DA het gekom uit die Wes-Kaap, waar die DA vir die eerste keer hierdie jaar in ‘n tussenverkiesing gegroei het vergeleke met 2016. In al sewe vanjaar se ander Wes-Kaapse tussenverkiesings het die DA verswak.

Maar verlede week het die DA Breedevallei wyk 3 (De Doorns en omgewing) met ‘n versterkte meerderheid behou. De Doorns was baie jare lank ‘n ANC-gesinde gebied, en die DA sal baie in hul noppies wees met hul oorwinning, wat ‘n swaai van 3 persentasiepunte na die DA vergeleke met 2016 beteken.

Luwellyn Willemse (DA) het die wyk ingepalm met 1 101 stemme, teen 990 vir die ANC en 20 vir die EFF, wie se patetiese uitslae in die Wes-Kaap onverpoos voortduur.

Ook in die Wes-Kaap het die mense van Knysna wyk 8 (die oorwegend Xhosasprekende gebiede Concordia en Joodse Kamp) om tragiese redes tussenverkiesing gehou nadat hul stadsraadslid, Victor Molosi, vroeër vanjaar vermoor is in wat lyk soos ‘n politieke sluipmoord, met een van sy mede-ANC-raadslede wat as verdagte gearresteer is.

Dit was die enigste plek die afgelope twee weke waar die ANC gegroei het. Thando Matika (ANC) het 1 452 stemme gekry, met die DA se 227 stemme wat hulle ver voor die EFF se 38 stemme geplaas het.

Die uitslag verteenwoordig groei van 17 persentasiepunte vir die ANC.

Die volgende tussenverkiesing was aan die KwaZulu-Natalse suidkus, te wete vir inwoners van wyk 19 in die Ray Nkonyeni-munisipaliteit, wat die gebiede rondom die Mbumbazi-natuurreservaat naby Margate insluit.

Die nuwe raadslid is Victor Zulu (ANC) wat 1 880 stemme gekry het. Die EFF sal baie tevrede wees met hul 233 stemme in ‘n provinsie waar hulle gewoonlik sukkel. Die IVP het 15 stemme verwerf en die swaai teen die ANC is 8 persentasiepunte.

Die laaste tussenverkiesing van die week was in wyk 26 van die Duiwelskloof/Modjadjiskloof-gesentreerde Groter Letaba-munisipaliteit. Die wyk is geleë in ‘n diep landelike gebied wat grens aan die R81-grootpad tussen Polokwane en Thohoyandou.

Daar het Makona Mohale (ANC) gewen met 1 524 stemme, gevolg deur 485 vir die EFF, 235 vir die Limpopo-inwonersvereniging, 53 stemme vir ‘n onafhanklike kandidaat en 16 vir die UDM.

Die uitslag verteenwoordig ‘n swaai van 10 presentasiepunte teen die ANC vergeleke met 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

Het ek reg gelees: het ‘n ANC-raadslid ‘n ander ANC-raadslid in Knysna vermoor? Iets maak nie sin nie. Hulle is dan so “verenig” en sien dan so neer op ander partye.

Hansie Slim ·

Kom ons hoop dit hou so aan!!!
ANC must fall!!!
EFF must fall!!!

Emma ·

Die anc moet asb val as ons n beter toekoms wil he. Hulle mors en korrup sal nooit verander nie. Veral as ons wil he afrikaans moet bly. Anc must fall. Hoop almal se oe gaan oop en nie weer vir hulle te stem nie.

John ·

Die verkiesingsuitslae sal sonder sukses beveg word, want spoke gaan hul hande in/op die stembriefie-houers kry, want die ANC gaan ver wen.

SP ·

Fantasties! Die beste nuusberig-opskrif in ‘n baie lang tyd! Sien uit na ‘n nuwe berig-opskrif wat in 2019 sal lui: Opposisie groei sterker en ANC verloor verkiessing!

Lerato ·

Ek is so bly die DA groei. Dis die enigste lewensvatbare party wat minderhede se belange beskerm.

Die tyd vir eksklusiewe partye is verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.