Opposisie hof toe oor Molefe-aanstelling

Julius Malema in gesprek met die African News Agency (ANA) (12 Mei 2017) Foto: ANA

Suid-Afrika se opposisiepartye het Vrydag gesê ʼn dringende hofaansoek sal gebring word om Brian Molefe te verhoed om na Eskom terug te keer.

Leiers van die opposisiepartye, insluitend die Ekonomiese Vryheidsvegters, Demokratiese Alliansie, African People’s Convention en United Democratic Movement, asook burgerregteorganisasies soos Save SA en die Freedom Movement, het Molefe se heraanstelling as die hoof van Eskom veroordeel. Die partye beskuldig pres. Jacob Zuma daarvan dat hy ʼn “Gupta-staat” bestuur.

“Dit is duidelik ʼn Gupta-beheerde staat, dit is duidelik dat die soewereiniteit van ons land aan die privaat belange van ʼn familie geskenk is,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Ons glo daar is gronde om ʼn interdik te bekom teen hierdie skuif en ons het ons span opdrag gegee om regstappe te neem. Ons hou vol dat die parlement Molefe op dieselfde manier moet hanteer as die SAUK.”

Die partye het gesê die jongste besluit [om Molefe weer aan te stel by Eskom], beskryf as ʼn “tipiese skuif deur die omstrede Gupta-familie”. Molefe het slegs twee maande as LP gedien nadat hy by Eskom bedank het.

Prince Mashele, wat die Freedom Movement verteenwoordig, het gesê Molefe is by Eskom weg “onder die voorwendsel dat hy sy naam in ere wil herstel”. “Hy is in die sakkie van die parasitiese Gupta-familie. Hulle het Molefe na Eskom teruggebring om die staatskas te plunder. Dit is ʼn belediging vir Suid-Afrikaners.”

Themba Godi van APC, oor voorsitter van die parlementêre staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa), het gesê die komitee het verwag om Eskom se steenkoolkontrakte met die Gupta-beheerde Tegeta-maatskappy te ondersoek, wat nooit deur die tesourie goedgekeur is nie. “Uit die inligting wat ons ontvang het, was dit duidelik dat iets nie reg was met die manier hoe die kontrakte gestruktureer is nie. Daar is nog baie wat aan die lig gebring moet word. Diegene wat vir dié kontrakte verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word. Dit kan nie wees dat ʼn man, wat onder ʼn donker wolk by Eskom weg is om sy naam in ere te herstel, net weer só kan terugstap nie.”

Julius Malema, leier van die EFF, het gesê die saak kan nie voortgaan nie, aangesien “dit ons land in ʼn piesangrepubliek sal verander”. “Aangesien die man gesê het hy gaan Maandag werk toe, het ons ons regspan versoek om te sien of ons ʼn dringende aansoek kan bring. Hy word hof toe gesleep.”

Molefe het verlede jaar by Eskom bedank ná ʼn verdoemende verslag deur die openbare beskermer wat geïmpliseer het dat hy bande het met die Gupta-familie. Molefe het gesê hy wil graag sy naam in ere herstel en het daarom bedank.

Gevolglike pogings deur die Eskom-raad om ʼn pensioen van R30 miljoen aan Molefe uit te betaal, het telkens gefaal, aangesien Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, telkens ʼn stokkie hiervoor gesteek het.

Lees alle vorige berigte oor Brian Molefe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

snoefie ·

hulle sal nerens kom nie. Zuma wil sy deel hê uit die oprig van daardie kernkrag voordat sy termyn tot einde kom. ek dink die anc wil dit vir hom gee. niemand gaan sy rugkrappertjie daar uit kry nie.

Justice ·

As die Guptas eenkeer jou vir jou drankie betaal het in watter shebeen ookal wil hulle hul pond vleis terug he – ongeag wie se korthare hulle ookal moet draai of een vir een uitpluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.