Opposisie hou regering fyn dop tydens ramptoestand

Pres. Cyril Ramaphosa (Maart 2020) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Opposisieleiers het aangedui hulle sal die regering fyn dophou tydens die ramptoestand en gevolglike algehele afsondering.

Die waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, het by navraag aan Maroela Media gesê sy party is baie bewus daarvan dat verskeie menseregte deur die rampregulasies en afsonderingsperiode ingekort word. “Ons is ook bewus daarvan dat die gewone regulasies oor tenders nie geld vir die huidige situasie nie. Dit laat die deur oop vir korrupsie. Dit is waarom die DA reeds aan die speaker van die nasionale vergadering, Thandi Modise, geskryf het om te vra vir die daarstel van ‘n veelparty ad hoc-oorsigkomitee tydens die afsonderingsperiode.

“Dit is binne haar magte om so ‘n komitee daar te stel. Die komitee kan per Zoom funksioneer – hulle hoef nie fisies op dieselfde plek te vergader nie. Ons hou intussen die regering fyn dop en sal diegene wat onwettig optree, tot verantwoording roep,” het Steenhuisen bygevoeg.
Die DA gaan ook vra dat die minister van finansies, Tito Mboweni, ‘n nuwe begroting opstel omdat die huidige een deur veranderde omstandighede ingehaal is.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê sy party het die tersaaklike wetgewing en die Grondwet behoorlik bestudeer, en sal almal wat onwettig optree, aan die pen laat ry. “Suid-Afrika veg gelyktydig teen twee virusse – die koronavirus en die korrupsievirus.

Hierdie kwessie is ‘n bietjie van ‘n tameletjie want die reëls vir die monitering van ʼn ramptoestand is vaer as die reëls vir die monitering van ʼn noodtoestand. “ʼn Noodtoestand kan slegs onder spesifieke grondwetlik omskrewe omstandighede afgekondig word, en wat die huidige situasie betref sal dit eers toepaslik raak indien daar grootskaalse oproerige ongehoorsaamheid is. Die VF Plus is nie ten gunste van die daarstel van ‘n ad hoc-komitee nie, want ons meen dit is onprakties,” het Groenewald bygevoeg.

Namens die EFF het die party se nasionale woordvoerder, Vuyani Pambo, gesê die praktyk van die afsonderingsperiode wys op die verhouding tussen die regering en landsburgers. “Die grootskaalse mobilisering van die weermag wys daar is wantroue tussen die regering en die landsburgers wat hulle veronderstel is om te verteenwoordig. Dit wys ook onkunde en gebrek aan meelewing met ons mense in plakkershutte. Die EFF waarsku die regering om ons eensgesindheid oor die stryd teen die koronavirus nie te misbruik om strukturele ekonomiese veranderinge en lenings van die Internasionale Monetêre Fonds of die Wêreldbank deur te smokkel nie. Dit sal die ANC suur bekom. Daarvoor sal die EFF sorg,” het Pambo bygevoeg.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Ek verstaan die DA se skierlike besorgdheid oor die mense hulle het en gaan baie stemme verloor ,maar Dr Groenewald jou mandaad is om die diskriminasie teen wit minderhede te beveg en sou dit nie werk te onderhandel vir n onafhanklike tuisland nie om die regering dop te hou in hierdie moeilike tye waarin ons nou is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.