Opposisie verwelkom verslag oor munisipale bestuurder

Pietermaritzburg

Opposisiepartye in die Msunduzi-munisipaliteit (Pietermaritzburg) het ʼn verslag oor die ondersoek na die geskorste stadsbestuurder Sizwe Hadebe verwelkom.

Die verslag oor beweerde korrupsie by die munisipaliteit is Vrydag uiteindelik aan die raadsitting oorhandig ná die vorige week se vergadering gekanselleer is omdat talle ANC-raadslede afwesig was.

Alhoewel ANC-raadslede oor die verslag geswyg het, het die DA en IVP die bevindings van die ondersoek verwelkom. Hulle versoek dat daar vinnig opgetree moet word om die skade te beperk wat glo die afgelope twee jaar plaasgevind het.

“Ons verwelkom die verslag, dit het ons vermoede bevestig oor die vlak van korrupsie wat in die stad plaasgevind het,” het DA-leier in die raad Sibongiseni Majola gesê.

Die verslag, wat deur forensiese ondersoekbeampte Sthembele Mhlanga aan die raad oorhandig is, het korrupsie in die stadsbestuurder se kantoor onthul, insluitend onreëlmatige aanstellings en kontrakte wat toegeken is.

Majola het gesê die DA wag nou dat dissiplinêre stappe teen Hadebe gedoen word. “Die verslag wys dat reëls en munisipale riglyne, sedert die eerste dag van sy aanstelling, verbreek is.”

Die ondersoek volg ná klagtes van algemene bestuurders, ander senior amptenare en die munisipalewerkersvakbond (Samwu) oor beweerde korrupsie in die munisipaliteit.

IVP-raadslid Thinasonke Ntombela het gesê die verslag word verwelkom. “Die ondersoekbeampte het duidelik geweet wat gedoen moet word en hy het alle kwessies aangeroer. Die sleutelkwessie is nou tugstappe teen Hadebe.”

Rienus Niemand van die ACDP het gesê alhoewel sy party die verslag verwelkom, moet politieke figure in die stad en die streek aanspreeklikheid aanvaar vir die skade wat onder Hadebe se leierskap gely is, aangesien hy nie alleen opgetree het nie. Hy is ook besorg oor die rol van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake.

Burgemeester Themba Njilo het ná die vergadering aan ANA gesê hy is verlig dat die ondersoek afgehandel is. “Die geskorste stadsbestuurder sal nou met ʼn kennisgewing bedien word van tugstappe teen hom, kragtens die resolusie van die raad.”

Hadebe sal ook in kennis gestel word dat sy skorsing verleng word. Nelly Ngcobo sal voortgaan in haar rol as waarnemende stadsbestuurder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Stem ·

Ek neem aan hy is geskots met volle salaris.
Iewers sal daar n besluit geneem moet word dat mense met rede geskots word.
Dalk is n goeie begin, halwe salaris. Sou die skorsing n fout wees, kan die res later betaal word, tydens die persoon se heraanstelling.

Lynette ·

Ondersoek is klaar gedoen! Hy moet onmiddellik afbetaal word en vervolg word. Ai hulle sorg so goed vir mekaar, hierdie boetie – boetie nonsens moet end kry!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.