“Ek dink die eenvoudige en duidelike boodskap is dat ons enige aksie sal neem om seker te maak dat geen politikus ooit vrygestel word van verantwoordbaarheid nie,” het Mmusi Maimane, die DA se parlementêre leier, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
Maimane het gesê hulle wag vir die Wes-Kaapse hooggeregshof se uitspraak oor die permanente aanstelling van die SAUK se omstrede bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng. Dit sal bepaal of die remediërende aksies wat deur Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, voorgestel is afdwingbaar is.
“Ons sal dan die konstitusionele hof nader om die remediërende aksies rakende Nkandla op president Jacob Zuma af te dwing. Almal van ons het ʼn eed afgelê wat sê ons is hier om die grondwet te beskerm.”
Maimane het gesê opposisiepartye sal hul eie verslag oor Nkandla in die parlement ter tafel lê. Die verslag sal dieselfde tyd in die parlement ter tafel gelê word as die ad hoc-komitee se verslag.
Madonsela het in haar verslag oor Nkandla voorgestel dat Zuma ʼn gedeelte moet terugbetaal van die R246 miljoen se opgraderings aan Nkandla wat nie met veiligheid verband gehou het nie.
Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het gesê hulle sal die howe nader indien hulle voel die grondwet word bedreig. “Zuma moet weet dat hy niks meer as ʼn Suid-Afrikaanse burger is nie. Ons almal word deur dieselfde wette en grondwet gereguleer.”
Volgens Malema word die Openbare Beskermer deur die grondwet beskerm en het sy die mag om remediërende aksie te neem.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
Gee gas Johanna gee gas
Julle jaag wind Zuma maak wat hy wil en lag vir julle kamstige opposisie
Dis hulle goeie reg om hof toe te gaan, maar ek sal graag net groter duidelikheid wil he^ oor presies wie hulle in die hof wil aanvat en op presies watter gronde. Ek dink nie die SAUK-ding se bevinding is so belangrik vir enige hofoptrede oor Nkandla nie. Die vraag is gaan hulle Zuma of die Parlement hof toe vat? Die parlementere komitee oor Nkandla sal waarskynlik binne die volgende week of twee, drie met ‘n bevinding kom. Die kanse is, lyk dit van ver af, baie goed dat hulle gaan bevind dat Madonsela verkeerd was deur die Wet op… Lees meer »