Opposisiepartye bereid om Zuma hof toe te vat

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Opposisiepartye wat van die ad hoc-komitee oor Nkandla onttrek het, het Vrydag gesê hulle is bereid om president Jacob Zuma tot in die konstitusionele hof aan te vat.

“Ek dink die eenvoudige en duidelike boodskap is dat ons enige aksie sal neem om seker te maak dat geen politikus ooit vrygestel word van verantwoordbaarheid nie,” het Mmusi Maimane, die DA se parlementêre leier, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Maimane het gesê hulle wag vir die Wes-Kaapse hooggeregshof se uitspraak oor die permanente aanstelling van die SAUK se omstrede bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng. Dit sal bepaal of die remediërende aksies wat deur Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, voorgestel is afdwingbaar is.

“Ons sal dan die konstitusionele hof nader om die remediërende aksies rakende Nkandla op president Jacob Zuma af te dwing. Almal van ons het ʼn eed afgelê wat sê ons is hier om die grondwet te beskerm.”

Maimane het gesê opposisiepartye sal hul eie verslag oor Nkandla in die parlement ter tafel lê. Die verslag sal dieselfde tyd in die parlement ter tafel gelê word as die ad hoc-komitee se verslag.

Madonsela het in haar verslag oor Nkandla voorgestel dat Zuma ʼn gedeelte moet terugbetaal van die R246 miljoen se opgraderings aan Nkandla wat nie met veiligheid verband gehou het nie.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het gesê hulle sal die howe nader indien hulle voel die grondwet word bedreig. “Zuma moet weet dat hy niks meer as ʼn Suid-Afrikaanse burger is nie. Ons almal word deur dieselfde wette en grondwet gereguleer.”

Volgens Malema word die Openbare Beskermer deur die grondwet beskerm en het sy die mag om remediërende aksie te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piesang ·

Julle jaag wind Zuma maak wat hy wil en lag vir julle kamstige opposisie

jakoos ·

Dis hulle goeie reg om hof toe te gaan, maar ek sal graag net groter duidelikheid wil he^ oor presies wie hulle in die hof wil aanvat en op presies watter gronde. Ek dink nie die SAUK-ding se bevinding is so belangrik vir enige hofoptrede oor Nkandla nie.

Die vraag is gaan hulle Zuma of die Parlement hof toe vat? Die parlementere komitee oor Nkandla sal waarskynlik binne die volgende week of twee, drie met ‘n bevinding kom. Die kanse is, lyk dit van ver af, baie goed dat hulle gaan bevind dat Madonsela verkeerd was deur die Wet op Sleutelpunte te gebruik as die grondslag waarop Zuma vir goed moet betaal, terwyl die Kabinetsmemorandum van 2003 oor beveiligings by huise van presidente, ens. gebruik moes gewees het. En dan gaan hulle aanbeveling Parlement toe en natuurlik daar aanvaar word.

Gaan die “opposisie” nou die Parlement in die hof probeer aanvat of gaan hulle net probeer om Madonsela se bevindings as “onbetwisbaar” af te dwing? Indien lg. gaan hulle mos onmiddellik uit die hof gegooi word want hulle wil die OB dan bo die Parlement verhef!

Ek wens tog die mense wil meer feite en substans in hulle verklarings gee ipv van emosionele en wilde lawaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.