Opposisiepartye glo hof sal in hul guns beslis

bantu-holomisa

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: http://udm.org.za

Opposisiepartye is vol vertroue dat die konstitusionele hof in hul guns sal beslis rakende die versoek dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma met ’n geheime stemming plaasvind.

Die politieke partye steun die aansoek wat deur die United Democratic Movement (UDM) gebring is. Narend Singh, IVP-LP, het gesê sy party het al talle briewe aan Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, geskryf waarin hulle versoek het dat die mosie van wantroue met ’n geheime stemming plaasvind, maar sonder sukses.

“Die IVP het sedert 2012 die saak gedryf. As iemand ingestem word deur middel van ’n geheime stemming, moet dieselfde kan geld om hulle uit te stem. Ek dink die hof sal in ons guns beslis.”

Julius Malema, leier van die EFF, het gesê ’n geheime stemming is nou meer relevant as ooit tevore. “Mbete se weiering om ’n geheime stemming toe te laat wys weer dat sy nie die belange van die land op die hart dra nie, maar altyd haar eie politieke party voortrek.”

Volgens Malema sal daar geen rede wees om Zuma te herroep indien daar toestemming verleen word vir die geheime stemming nie. “ANC-LP’s met wie ons gesels het, het gesê hulle sal teen Zuma stem selfs al is dit nie ’n geheime stemming nie, so kan jy dink wat sal gebeur indien ons wel toestemming kry vir ’n geheime stemming?”

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het gesê hy voel geregverdig nadat Marumo Moerane en Ishmael Semenya, Mbete en Zuma se regsverteenwoordigers, glo toegegee het dat die speaker die verantwoordelikheid het om ’n geheime stemming toe te laat.

Daar is tydens die aanhoor van die saak spesifiek gefokus op die skeiding van magte en of die hoogste hof in die land die prerogatief het om Mbete te versoek om die geheime stemming te skeduleer.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

En saam met dit hoor ek orals hoe Zuma en sy Zumaikies die howe voor gehore aankla van als van KON isne en rassisme en nie getransformeerd en ken nie hulle plek nie…? Asif Zuma of een van sy handpippe hulle al aan N hof gesteur het? Magspel op magspel in die howe en ons moet betaal vir die petalje! Sidder om te dink wat die ANC ons kos behalwe op die tafel fakture?

Grassie ·

Ek dink Zuma sal die mosie van wantroue oorleef, al is daar ‘n geheime stemming. Daar het bv. onlangs sewe parlementslede bedank, en sewe ander is in hul plek aangestel. Die wat geloop het was Zuma-teenstanders en ek glo die nuwes ondersteun hom. Dit beteken dit is sewe stemme minder teen hom en sewe meer vir hom – as my somme reg is maak dit ‘n verskil van veertien wanneer daar getel word. Ek dink ook baie van die LP’s is bang vir Zuma en vrees dat hy op een of ander wyse sal uitvind as hulle teen hom stem. Zuma gaan oorleef en dit gaan hom in ‘n sterker magsposisie plaas as voor die stemming.

Cherokee ·

‘n Belangrike vraag is wat die verkieslikste is… dat Zuma se posisie die wantrouedebat oorleef af dat dit hom gaan uitskop. Miskien moet ons hoop hy deurstaan dit en bly SP want indien hy gaan uitgeskop word, is daar ‘n sterk moontlikheid dat die EFF weer sal aansluit by die ANC en dìt sal hulle weer oorheersend maak. Hetsy die EFF teruggaan ma die ANC of hulle dmv koalisies ondersteun, dit sal hulle vir die huidige oomblik onoorwinbaar maak en selfs die setels wat geneem is deur die DA sal teruggeneem word. Maar, selfs al bly hy in die stoel, wat gebeur na 2019? Dan bestaan dieselfde vraagstukke as nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.