Opposisiepartye hof toe oor voortgesette afsondering

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die DA en die VF Plus het besluit om hulle tot die hooggeregshof te wend rakende die voortgesette algehele landwye afsondering wat die Covid-19-pandemie bekamp. Dít nadat pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand aangedui het dat vlak 4 van die koronavirus-afsonderingstydperk nog vir die volgende twee weke sal geld voordat vlak 3 in groot dele van die land ingestel kan word.

John Steenhuisen, leier van die DA, het Donderdag in ’n virtuele mediakonferensie gesê dié party se regsverteenwoordigers het vroeër vandag hofstukke by die hooggeregshof ingedien om die rasionaliteit van drie van die afsonderingsregulasies te beveg. Dié regulasies sluit in die aandklokreël, die verbod op e-handel en die beperkte oefentye gedurende die afsondering.

Volgens Steenhuisen sal die DA se regspan Vrydag ook hofstukke indien om die grondwetlikheid van die afsonderingsregulasies te bevraagteken.

“Die bedreiging weens die algehele landwye afsondering is soveel groter as die bedreiging wat die virus inhou,” het Steenhuisen gesê.

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ook aangedui dat sy party ’n dringende aansoek by die hooggeregshof gaan indien om die geldigheid van die Nasionale Rampbestuurswet te betwis en om die hof te vra om te bevind dat die regering dié wet misbruik. Dit, argumenteer die VF Plus, sal daarop neerkom dat die ramptoestand en die gepaardgaande afsonderingsregulasies ongrondwetlik is.

Steenhuisen en Groenewald voer albei aan dat die president reeds erken het dat die landwye afsondering sy doel bereik het deurdat die infeksiekurwe genoegsaam afgeplat het om gesondheidsdienste tyd te gun om gereed te maak vir ʼn groter uitbreking van Covid-19. “Waarom nog twee weke wag?” wou Steenhuisen weet.

Groenewald sê dit was altyd belangrik om ʼn sinvolle balans te vind tussen die verspreiding van die virus en die ontsluiting van die land se ekonomie. “Om nog twee weke te wag om na vlak 3 af te beweeg, sal hierdie balans nou ernstig versteur,” meen Groenewald.

Pres. Cyril Ramaphosa kom Donderdagoggend in Port Elizabeth aan. (Foto: Twitter)

Pres. Ramaphosa het Donderdag tydens ʼn toespraak in Port Elizabeth gevra dat mense nie onnodig omgekrap raak oor die toepassing van die afsonderingsmaatreëls nie. “Ons gaan nie vir ewig op vlak 4 bly nie. Ons sal na vlak 3 beweeg, en dalk selfs vroeër as die einde van die maand. Ons besef dat die manier waarop ons die afsondering toepas nie almal tevrede stel nie, maar ons kan julle verseker dat ons ingeligte besluite neem.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rodger17

Ramaphosa speel vir tyd.Hy is besig om sy wie ondergang te bewerkstellig.Hoop en vertrou DA en VF+ wen julle saak in hof!

Alleen Wolf

Bravo, uiteindelik begin ons opposisie partye in die regering hulle kant bring, ek hoop van harte hulle slaag alhoewel ek min hoop vir ‘n suksevolle uitslag het, die regbank is lankal nie meer onafhanklik nie en ondersteun die regerende party, wie weet, miskien is hulle gelukkig en kry ‘n regter wat nog erns met sy beroep en gewete het.

Anel

Soos wat die misdaad aan gaan gaan niks van die land meer oor wees wanneer hulle ookal besluit om die inperkings op te hef. Dit moet vandag nog kan gebeur dat môre normaal kan begin.

henndrik

Deel die inligting met die publiek dan kan ons ook weet hoekom dit so moet wees

Willem

Hulle verseker ons dat hulle “ingeligte” besluite neem!? Wel, dit is baie gerusstellend veral as mens kyk wie almal in hulle “Command Council” sit – al diegene wat die besluite geneem het wat ons land tot rommelstatus laat verval het…