Opposisiepartye kap staatsrede

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Kleiner opposisiepartye het te velde getrek teen pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede, wat hulle as ontoereikend en as veel lawaai, weinig wol beskou.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê die EFF het met sy ontwrigtingstaktiek die staatsrede op ’n lae noot laat begin. Die president het boonop op dié teleurstellende trant voortgeborduur met geen aankondiging wat ekonomiese groei sal aanwakker nie.

“Verskeie kernsake is wel aangeraak, maar die oplossings wat aan die hand gedoen is, was baie gering,” het hy gesê.

Groenewald beskou die besluit dat munisipaliteite elektrisiteit kan aankoop van onafhanklike kragvoorsieners as ’n ligpunt in die staatsrede, maar Ramaphosa se stelling dat Suid-Afrikaners moet vrede maak met beurtkrag wys op die diepliggendheid van Eskom se probleme.

President Cyril Ramaphosa lewer die 2020 staatsrede. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die VF Plus-leier meen voorts dat die president se versekerings oor pensioengeld se gebruik om Eskom te help sonder risiko vir pensionarisse, blote praatjies vir die vaak is. “Rasgebaseerde verkrygingswetgewing beteken ook ras word steeds bo kwaliteit gestel.”

Mkhuleko Hlengwa, nasionale woordvoerder van die IVP, het gesê die omvattende beloftes deur Ramaphosa wys hoe diep Suid-Afrika in die moeilikheid is.

“Die president weet wat gedoen moet word, maar hoe hy die politieke wil gaan bymekaarskraap om dit in die praktyk reg te kry, weet nugter,” aldus Hlengwa.

Die IVP meen ook te min tasbare oplossings word aan die hand gedoen, en die oorsaak van die probleme word nie getakel nie.

“Die president praat groot oor gevolge van korrupte dade. ʼn Mens wonder of hy in Suid-Afrika woon – ons sien daar niks van nie,” het Hlengwa aangevoer.

Die EFF-leier Julius Malema het gesê die staatsrede het nie veel om die lyf gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Magda ·

Ag regtig EFF – wat het julle om die lyf – CHAOS – JULLE MOET VERWYDER WORD VAN DIE POLITIEKE LYS AS N PARTY AF – ASAP.

Gato ·

Dalk sommer van die planeet af dan is ons seker hulle pop nie weer op ‘n ander plek uit nie. Kan ons nie geld insamel om vir die EFF kaartjies te koop op Elon Musk se Mars sending nie. Daar kan hulle maak en breek net soos hulle wil. Ou Juju kan sommer die hele Mars regeer en heeldag sy rooi Baret dra teen die skerp son daar.

Willem ·

As hierdie president gisteraand aangekondig het dat Black Economic Empowerment en Affirmative Action iets van die verlede is, sou ek hom nogal geglo het. Nou dink ek dis alles net pie in the sky.

Chris ·

Die staatsrede sou heelwaarskynlik baie vrotter gewees het, indien die 11 jarige hom nie “gehelp” het nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.