Opposisiepartye stap uit Nkandla-vergadering

Pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning

Opposisiepartye het Vrydag uit ‘n vergadering van die parlementêre ad hoc-komitee oor Nkandla gestap.

Dít nadat die ANC geweier het om pres. Jacob Zuma voor die komitee te roep en die Openbare Beskermer se bevindinge teen hom af te dwing.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het die uitstappery gelei nadat ʼn debat van sowat twee en ʼn half uur nie die dooiepunt oor dié kwessies kon oplos nie.

Maimane, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en ACDP het vergeefs by die ANC gepleit om ʼn regsmening in te win oor Zuma se verklaarde siening dat hy nie verplig is om die OB se verslag oor Nkandla te aanvaar nie.

“Ons het ʼn dooiepunt bereik,” het Maimane gesê. “Ons moet tot ʼn punt kom oor hierdie saak. Sal die ANC nie minstens in die stadium instem tot ʼn regsmening nie? Wat vir my duidelik is, is dat die ANC nie tot enigiets gaan instem nie. Hulle wil net hê ons moet ʼn ritueel uitvoer. Ons kan nie op die vlak voortgaan nie.”

ʼn Mediakonferensie is ná die uitstap gehou waar Maimane gesê het die ANC skep ʼn situasie waar dit aanvaarbaar is om die outoriteit van Hoofstuk 9-instellings en die parlement te ignoreer. “Dit is nie wat die samestellers van die Grondwet bedoel het nie… al die opposisiepartye onttrek dus van die Nkandla ad hoc-komitee.”

Volgens Maimane sal opposisiepartye egter nie die saak hier laat nie en sal hulle regsadvies inwin oor hoe om Zuma verantwoordbaar te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Dink Zuma hy is god dat almaal voor hom moet buig hy is skuldig dis waarom sy travante hom beskerm want hulle is almaal korup

Jakoos ·

Ek het na die uitstappery gekyk op TV – en terwyl ek die opposisiepartye se standpunt oor sekere aspekte verstaan, wonder ek of die uitstappery die beste keuse was.

Dit lyk of die ANC volgende week eenvoudig sal voortgaan met aanbevelings oor hoe die verslae voor hulle hanteer moet word – en dit na die parlement self sal neem waar dit natuurlik met die ANC meerderheid aanvaar sal word.

My bedenkinge oor die opposisie se houding gaan veral oor die standpunt dat MAdonsela se bevindinge as finaal en onbevraagtekenbaar beskou moet word. Dit kan tog sekerlik nie die geldige, wetlike situasie wees dat die OB nie alleen ondersoeker is nie, maar ook sommer aanklaer en regter!

Ek dink die opposisiepartye het dalk ‘n punt dat Zuma een of ander vorm van antwoord aan die komitee verskuldig is oor sekere beweringe, maar is ‘n persoonlike verskyning noodwendig die enigste manier om antwoorde te kry? Feit is dat hy antwoorde op ‘n hele klomp goed aan Madonsela gegee het – en dat sy eie ondersoekkomitee klaarblyklik met ander sieninge oor aspekte van M se verslag gaan kom.

Dit wil voorkom of ‘n aansoek na die Grondwetlike hof nou die opposisie se enigste uitweg is. Maar dit gaan beslis ‘n langerige proses wees – en die hele kwessie word steeds uitgerek en uitgerek. – tot Zuma se voordeel as jy my sou vra!

Daar was bespiegelinge dat die druk oor Nkandla en ander goed Zuma se gesondheid ‘n knou gegee het, maar nou is daar weer stories dat hy die man is wat ‘n kernkragooreenkoms met Poetin en die Russe deurgevoer en beklink het. Lyk dan nie of hy hom steur aan al die “druk” nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.