Opposisiepartye trek begrotingsrede uitmekaar

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het die jongste begrotingsrede as “futloos” bestempel en sê daar is geen omvattende maatreëls aangekondig oor hoe die regering beplan om regeringsbesteding te besnoei nie.

Die IVP is net een van talle politieke partye en organisasies wat nie beïndruk was met Tito Mboweni, minister van finansies, se 2019-begrotingsrede wat gister in die parlement gelewer is nie.

Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die IVP, sê dit was gepas dat Mboweni tydens sy begrotingsrede ʼn aalwynplant op die podium gehad het, aangesien dit aanduidend is “van die kern van ʼn opgedroogde fiskus”.

“[Mboweni] het niks genoem om die probleme by die sukkelende staatsbeheerde ondernemings te takel nie. Ons land probeer in effek niefinansiële probleme met finansiële oplossings regmaak, met Eskom wat nou R23 miljard per jaar gaan kry vir sy ontbondelingsoefening. Hierdie begrotingsrede was die grootste aanduiding nóg dat ons ekonomie diep in die moeilikheid is,” het Hlengwa gesê.

Volgens die IVP het Mboweni ook misluk deur die BTW van 15% nie te verlaag na 14% nie, deur nie ʼn kosteplan vir die stryd teen geslagsgebaseerdegeweld voor te stel nie, deur nie regeringsbesteding te besnoei nie en ook deur nie aandag te gee aan die kwessie rakende gratis tersiêre onderrig en die geweld by universiteite nie.

Ook die ACDP meen Mboweni het nie veel gedoen om vertroue by beleggers en graderingsagentskappe in te boesem nie. “Die minister het baie min fiskale beweegruimte gehad gegewe die lae ekonomiese groei wat ons ervaar. Gevolglik was hy nie in staat om te hou by die pad van streng fiskale konsolidasie om toenemende staatskuld in te perk nie,” sê Steve Swart, die ACDP se woordvoerder oor finansies.

Swart het bygevoeg die ACDP het gehoop om addisionele befondsing vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te sien om sy nuwe ondersoekdirektoraat te finansier. “Die direktoraat gaan ʼn noodsaaklike rol speel om diegene wat betrokke is by staatskaping en korrupsie aan die pen te laat ry en die gesteelde openbare fondse terug te kry.”

Die EFF het soos verwag Mboweni gekritiseer oor die regering se grondonteieningsplanne wat nie met die rooi barette se radikale sienings ooreenstem nie. “Die minister praat oor die allokering van geld vir die aankoop van grond, terwyl ons alle grond gaan onteien sodat dit aan die staat behoort om gelyk verdeel te word,” sê die EFF in ʼn verklaring.

Tito Mboweni, minister van finansies, met adjunkminister Modli Gungubele en direkteur-generaal Dondi Mogajane weerskante van hom kom by die parlement aan vir die 2019-begrotingsrede [20 Februarie 2019]. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

“Die geld wat vir grond geallokeer word, moet verhoog word, en dit moet geprioritiseer word vir saad, toerusting, aanstelling van landboubeamptes en die bou van voedselmarkte regoor die land.”

Die EFF is ook ontevrede oor die verhogings in maatskaplike toelae en sê die verhogings is te min om enige werklike invloed op toelaagbegunstigdes te hê. “Betekenisvolle verhogings sou wees om die maatskaplike toelae te verdubbel sodat daar noodsaaklike verligting vir die armes gebring kan word.”

Die party is ook boos dat staatsamptenare nie in die komende finansiële jaar bonusse sal ontvang nie en meen “dit is ʼn teken van die onderwaardering van die harde werk wat staatsamptenare doen”.

“Die voorgestelde afleggings van staatsamptenare is ʼn duidelike teken van ʼn nieu-liberale raamwerk wat voortgaan om die kapasiteit van die staat te ondermyn. In plaas daarvan dat ʼn kwalitatiewe staatskapasiteit opgebou word, maak die regering meer staat op die private sektor deur korrupte tenders met opgeblase pryse. Om ʼn model te bou en te bedryf wat nie gesentreer is rondom staatskapasiteit nie, sal net tot die voordeel van korrupte multinasionale korporasies strek. Die regering kan nie bekostig om vaardighede te verloor nie en daarom ondersteun ons nie die voorgestelde afleggings nie.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, is ook nie ingenome met Mboweni se reddingsboei aan Eskom nie. “Die minister faal om ʼn werklike oplossing vir die kragvoorsiener se finansiële krisis te bied. Die R23 miljard wat bewillig is om Eskom finansieel te ondersteun, is nie genoeg om hom van ondergang te red nie,” sê hy. “Dit is teleurstellend dat die minister nie die privatisering van Eskom aangekondig het nie aangesien die VF Plus dit beskou as die enigste oplossing vir die krisis.”

Alf Lees, die DA se skaduminister van finansies, sê op sy beurt die aankondiging dat daar geen verhoging in persoonlike belasting sal wees nie, beteken nie dat belastingbetalers nie meer gaan opdok nie. “Die gebrek aan enige inflasie-gekoppelde verhogings in persoonlike belastingkerwe is in effek ʼn inkomstebelastingkoers-toename wat ʼn bykomende R12,8 miljard sal oplewer,” sê Lees.

“Nog ʼn effektiewe belastingverhoging is die versuim om die mediese belastingkrediet vir inflasie aan te pas en só word ʼn bykomende R1 miljard in belasting ingevorder. Dit sal pensioenarisse hard tref, veral dié met ʼn vaste inkomste.”

Lees het ook die finansiële reddingsboeie wat aan Eskom, SAL, SA Express en die Poskantoor gegee is bevraagteken. “Die minister vra die vraag of ons werklik die sukkelende staatsondernemings nodig het, maar gaan dan voort om nog reddingsboeie vir hulle te gee,” sê hy.

“Die minister het ʼn dapper poging aangewend om ʼn begroting saam te stel wat aan die eise van verskeie rolspelers voldoen, maar wat in effek die grootste probleme omseil tot ná die verkiesing in Mei, wanneer dit waarskynlik in die skoot van ʼn nuwe minister van finansies gaan val.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Retha Roos ·

Dit was ‘n rug-teen-die-muur begroting en die minister het hom goed v sy taak gekwyt. ‘n Moontlike ander uitweg vir Eskom se drama sou wees dat die staat pa staan vir die munisipaliteite se skulde aan Eskom (aangesien dit in elk geval die staat indirek self is) en die skulde dadelik delg.
Dit kon steeds kondisioneel gedoen word en in fases. Tesame met dit moet dan onafhanklike ouditeurs taakspan saamgestel word om elke van daardie munisipaliteite behoorlik te ondersoek en opleiding te gee. Tesame daarmee ‘n elektrisiteits korting aan due armes wat die kragreus se skulde verswaar. Die verskil sou minder as die voorgestelde hulpboei wees. Dit sou SA burgers meer gerus en tevrede gestel het.

Robert Naude ·

Die feit is dat Eskom en al die instellings in die land in die moeilikheid is as gevolg van regerings beleid en wetgewing wat hulle af forseer het. Dink aan AA ,Bee, Bbee ens. Nou wil hulle hul hande in die lug gooi en nie verantwoordelikheid aanvaar vir hul idiotiese besluite nie. Tipies Anc kultuur.

D B ·

Maak nie saak hoe jy daarnaa kyk nie, die land is finaal gebreek. Om hierdie “begroting” as “gom” te wil gebruik om die stukke weer aanmekaar te sit sal, soos gewoonlik, geen verskil maak nie. Die “massas” moet 8 Mei praat en net hulle kan dinge verander. Ongelukkig gaan hulle nie, so lang storie kort, ongelukkig staar ons bitter baie geweld in die gesig na hierdie verkiessing.

pit ·

Ja die anc kyk nou na pensioen en privaat medies om sy staatskuld te delg….daar is mos miljarde in die twee enigste plekke in die land waar daar nog nie skuld op is nie.

alida ·

As hulle die miljarde en/of biljoene wat spoorloos verdwyn het en/of wanbestee is kan terugkry sal die prentjie baie beter lyk. Dit lyk nie asof hulle van plan is om ‘n poging aan te wend om van die skelms ontslae te raak en/of nuwe bekwame betroubare mense by al hierdie sukkellende instansies aan te stel nie. Wat dink hulle ? Hoe lank wil hulle nog die aasvoels voer.

Anoniem ·

Asof die petrol prys ons nie genoeg ons kele afsny nie, wprd dit opgestoot met ‘n verdure 29c. Dit lyk my ons land rol in die geld want die regering bly geld gee aan staats instansies wat bankrot is. Nie eers ‘n bank of ‘n belegger sal geld in ‘n besigheid bele as dit bankrot is nie. So moet ons net hoes en hoes. Hulle tap nou al bloed uit ‘n klip.

Gert ·

Ek hou veral van die ene oor die staatsamptenare wat so hard werk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.