Opposisiepartye verwerp verslag oor grond

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Die DA en VF Plus het die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou se verslag wat Sondag openbaar gemaak is, verwerp.

Thandeka Mbabama, DA-LP en skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê hoewel die party glo dat wettige en deeglike grondhervorming noodsaaklik vir Suid-Afrika is, die ANC‑regering se mislukkings die afgelope 25 jaar dit in die wiele gery het.

“Die DA verwerp derhalwe die uitkomste van die paneel met betrekking tot onteiening van grond sonder vergoeding en ander onhoudbare voorstelle wat gemaak word. Die voorstelle is hoë risiko en beloof hoogstens ’n lae beloning vir diegene wat ’n betekenisvolle grondhervorming nodig het.”

Volgens Mbabama sal die sleutelaanbevelings in die verslag rampspoedig wees vir die ekonomie en beleggersvertroue indien dit geïmplementeer word.

“Die DA sal die volledige verslag noukeurig bestudeer met die oog op die indiening van ’n omvattende alternatief, in ooreenstemming met ons jarelange standpunt oor die bevordering van grondhervorming sonder onteiening. Ons ondersteun onomwonde die regs- en grondwetlike prosesse vir grondhervorming. Die ANC kan egter nie voortgaan om sy mislukkings rakende grondhervorming die afgelope 25 jaar op die Grondwet te blameer nie.”

Mbabama het gesê indien grondhervorming nie korrek aangepak word nie, sal die gevolge rampspoedig wees.

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het die verslag as ʼn klug en ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld beskryf aangesien die ANC se besluit om dit deur te voer, lank reeds bekend is.

“Die ANC het reeds aan die einde van Julie verlede jaar deur president Cyril Ramaphosa gesê die proses is aan die gang gesit om die Grondwet te wysig, en dat niks dit sal omkeer nie. Verlede Donderdag is ʼn mosie in die parlement aanvaar wat die proses verder voer om artikel 25 van die Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.”

Groenewald het gesê die VF Plus wil dit benadruk dat die wysiging aan die Grondwet en die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding, die land se ekonomie sal vernietig. “Dit sal Suid-Afrika onomkeerbaar op die Zimbabwe-roete plaas.

“Vir die ANC om te sê die proses moet deur ʼn onteieningswet onderlê word, is misleidend. Daar word reeds verwys na die betrokke wysigingswetsontwerp rakende onteiening deur byvoorbeeld grond wat net vir spekulasie-doeleindes gehou word, sonder vergoeding te kan onteien.”

Die enigste positiewe aanbeveling van die presidensiële paneel is dat ʼn behoorlike grondoudit gedoen moet word om te bepaal wie hoeveel grond in Suid-Afrika besit, meen Groenewald.

“Die VF Plus vra al jare lank hiervoor aangesien die ANC die narratief dat wittes meer as 80% van die grond in die land besit, vir politieke doeleindes misbruik. Hierdie leuen kan slegs weerlê word deur ʼn akkurate grondoudit.”

Volgens Groenewald moet in gedagte gehou word dat die Grondwet wel gewysig moet word met ʼn tweederde-meerderheid. “Maar wanneer dit eers gedoen is, kan ʼn gewone wet oor die kwessie daarna gebruik word met ʼn blote meerderheid van 50 persent plus een.

“Wat sou in die toekoms gebeur wanneer Suid-Afrika ʼn ander president kry wat grond wil nasionaliseer? Dan is ʼn tweederde-meerderheid nie nodig nie, maar slegs ʼn gewone meerderheid.

“Die presidensiële paneel se verslag bevestig bloot die bestaande standpunt van die ANC om grond te onteien sonder vergoeding en dit is totaal onaanvaarbaar vir die VF Plus.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johanna Botha ·

Ag help dit tog …want niemand luister nie die anc doen wat hy wil ! Die slimste mense kom verduidelik en praat maar nee die anc wil die land verongeluk ! Het die anc al iets reggedoen in die laaste 25 jaar …alles die staatsinstansies in bangkrot en niks werk nie !

TDW ·

Daar moet maar aan die swartmense verduidelik word, dat indien daar weer ‘n wit president aan bewind kom, sal dit hom die mag gee om al die swartmense se grond te vat. As hulle sê daar sal nooit weer ‘n wit president wees in Suid-Afrika nie, herinner hulle dis wat die wit mense ook geglo het. In politiek kan mens nooit sê nooit nie.

Werner ·

Dis van al die praat dat ons sit waar ons sit en ongelukkig is dit al wat die FF en DA kan doen

Hendrik ·

Wel dit is al wat hulle kan doen. Die VF+ het 10 sitplekke in die parlement. Die ANC het die meerderheid. Die somme tel maar tot ‘n minderheid vir eweig.

John ·

En CR sal heel moontlik, om sy posisie te versterk, aan druk vanaf die grypers toegee wat dalk net aan hom, soos vir Xi, koningskap tot aan die einde der dae mag beloof. Die VF Plus sowel as die DA probeer punte wen onder die skare. Groenewald vry reeds na ‘n grondjie vir hom en allemaal wat onder sý bestuur wil dien en die DA probeer verlore skapies met sy bulderende wolfhond aanjaar na die kraal waar die heining reeds meegegee het… eenkant in, anderkant uit. Hierdie is ‘n eenpartystaat. Hoekom glo ons dit nie?

Lollie ·

Die VF en DA doen wat hulle kan. Hulle probeer dit uitpraat en uitredeneer. Wat meer kan hulle doen? ń Vuurwapen teen CR se kop hou?
ANC wil eintlik maar 2 dinge bewys: 1 is om te bewys hulle regeer en hulle is baas, 2 is om vir JM te wys dat hulle eintlik vir hom bang is en sal doen wat hy wil hê. Soos ń puppet on a string!
Hulle dink nie eers aan voor- en nadele nie! (Om die waarheid te sê hulle kan nie so ver dink nie!)

Adri ·

Lollie, as die VF+ en DA niks kan vermag deur dit wat hulle probeer doen nie; wat maak hulle in die parlement? Ons sal ander maniere moet soek om die meerderheidsregering te stuit en ons belange te beskerm.

Jerry ·

CR was dus reg toe hy verlede jaar einde Julie gese het dat die grondwet verander gaan word en dat niks die proses sal omkeer nie. Opposisiepartye kon vanaf Julie verlede jaar niks daaraan doen nie en die kanse is uitstekend dat opposisiepartye ook nou na die verslag niks noemenswaardig sal doen om die proses te stop nie. Opposisiepartye moet eerlik wees met kiesers en erken indien dit die geval gaan wees. Dit help nie om pogings van stapel te stuur om die proses te probeer stop, wanneer opposisiepartye weet dat hulle dit nie kan stop nie. Al wat die kiesers van opposisiepartye vra is dat die politici eerlik moet wees en nie moet probeer om valse hoop by kiesers te skep nie. Waarvoor probeer politici kiesers in SA hou wanneer die ANC/eff nie gestop kan word nie? Politici is dit aan die kiesers verskuldig om ook ander opsies, onder andere, emigrasie sonder beperkings na lande van herkoms vir kiesers te beding wanneer politici daarvan bewus is dat die Suid Afrikaanse opsie van sosialisme gepaardgaande met konflik nie n lewensvatbare opsie is nie! Politici moet eerder hulle tyd en energie begin spandeer op dit wat politici kan beheer en dit is om ander lewensvatbare opsies vir kiesers te beding!

Kobus ·

Jy is reg Jerry! Politici regs van die ANC vertel ons allerande “feel good” stories, sonder om ander opsies op die tafel te sit en daarvoor te veg nie. Maar nou ja, hulle kry goeie salarisse en leef al te lekker met mooi karre en besigheidsklas vliegtuigkaartjies. Die arme kiesers wat vir hulle gestem het sink stadig weg in die dryfsand.

Grondloos ·

Ons is maar net nog staat in Afrika. Hoekom sal dinge dan nou anders hier gedoen word? Maak maar gereed vir nog n Zimbabwe!

Ja nee ·

As jy nog nie jou tassie begin pak het nie beter jy dit maar vinnig begin doen, SA se tyd loop uit.

JKL ·

Ja nee “2de Zim” “SA se tyd hardloop uit” jul doemprofete sing dit nou al van die 80’s af. Glo seker ook als wat “siener” gese het? Kry jul mekaar by Huilbron se spar as die huis alarm afgaan? Hoeveel blikkies kos het julle?

Jimmy ·

So, jy reken alles wat krom is sal regkom, met die ANC in beheer? Gesonde ekonomiese groei, stygende buitelandse investering, werkskepping, stabiele rand, positiewe, investeringsgraderings, minimale begrotingstekort, sterk landbousektor, wêreldklas onderwys en gesondheidstelsels, infrastruktuur wat met die beste in die wêreld vergelyk, gelukkige arbeidsmag, geen rassisme, regverdige regstelsel, lae staatsskuld, geen kragonderbrekings, wet en orde, voldoende skoon lopende water, werkende sanitasie, geen korrupsie, suksesvolle munisipaliteite en SOEs, insluitend Eskom. Indien so, dan is die doemprofete verkeerd.

Maljan ·

As hulle so gesteld is op grondhervorming, hoekom gee die ANC lede, hoës wat skielike PLASE het, nie alles behalwe een vir self gebruik op nie? Transformasie kom sekerlik van binne. Plase, huise, blink swart SUV’s top poste in staatsinstellings en die vrye ekonomie het nie van skelms eerlike mense gemaak nie. Transformasie begin by jouself. Begin by die begin.
Gaan vandag plase kry, volgende week verkoop hulle terug aan vorige eienaars. Geldgierigheid, botter min drang om te boer.

marous ·

Span maar die trekkers en stootskrapers in en begin plat vee . Geboue , damme , windpompe , gewasse , lyndrade , boorgate , kanale , alles. Grond will hulle he en dis al wat hulle sal kry , net grond

Swannie ·

Nee, Marous, hulle wil juis die windpompe, drade en besproeiingspype ook hê om as skroot te verkoop binne die eerste maand wanneer `n plaas aan hulle toegeken word. Dit word als as “ekstra”inkomste gesien.

Jerry ·

@marous. Jy hoef regtig nie al daardie moeite te doen nie. Die kaders verstaan nie instandhouding nie en sal so met die verloop van tyd dit in elk geval self vernietig!

Klipindiebos ·

Vandag (2019-07-29) net na die 1 uur nuus op 702 gehoor dat die jeugliga van die EFF met wapenopleiding en gorilla-oorlogvoering tydens ‘n kamp deur ‘n onbekende individu opgelei gaan word. Dit is iets waarvan ons behoort kennis te neem. Die omroeper was baie verontwaardig toe hierdie nuus gebreek word. As die werkloosheid en grondonteiening sonder vergoeding en die moontlike weerstand waarmee dit begroet gaan word is hierdie nuus nie noodwendig fopnuus nie. Die toestand waarin die SADF homself bevind, moet ook verreken word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.