Opposisiepartye vra parlement moet ontbind

Foto: DA/Twitter

Opposisiepartye het Maandagmiddag tydens ‘n mediakonferensie gesê hulle wil met die proses begin om die parlement te ontbind.

Mmusi Maimane, leier van die DA, Julius Malema, leier van die EFF, Corne Mulder, hoofsweep van die Vryheidsfront Plus, Bantu Holomisa, leier van die UDM, Mosioua Lekota, leier van Cope, Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, en Godrich Gardee, hoofsekretaris van die EFF, was by die mediakonferensie teenwoordig.

Maimane het gesê leiers van die opposisiepartye het vroeër vergader en ‘n aantal besluite geneem. Hy het gesê die EFF se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma wat vir 22 Februarie geskeduleer is, moet hierdie week nog plaasvind. “Ons kan nie sit en wag vir die ANC se voortgesette beraadslaging wat nêrens heen gaan nie.”

Maimane het ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om op die dag wat die mosie aangehoor word, in hul massas die strate in te vaar en te eis dat Zuma as ‘n saak van dringendheid verwyder word.

Die leier het ook versoek dat die parlement ingevolge artikel 50 van die Grondwet ontbind word, aangesien daar in ‘n hof bevind is dat die parlement misluk het in sy taak om Zuma aanspreeklik te hou. Hulle het ook versoek dat volgende jaar se verkiesing vervroeg moet word sodat daar ‘n nuwe mandaat van Suid-Afrikaners verkry kan word.

Malema het op sy beurt gesê Baleka Mbete, speaker van die parlement, het nog nie op die EFF se eis gereageer dat die mosie van wantroue vroeër moet plaasvind nie. Hy het gesê die EFF sal ‘n dringende hofaansoek bring indien hulle nie teen Dinsdag om 10:00 terugvoer hieroor gekry het nie.

“Ons wil nie hê Cyril moet president wees nie. Cyril is net soos Zuma — hulle is dieselfde. Cyril was deel van die mense wat Zuma se oortredings verdedig en hom gehelp het om die Grondwet te skend.”

Volgens Malema is die probleem nie Zuma of Ramaphosa nie maar eerder die ANC. “Die mense van Suid-Afrika kry nou die geleentheid om hierdie keer reg te kies.”

Mulder het gesê die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) kan nie vir Zuma verwyder nie. “Zuma moet óf uit eie wil bedank óf die parlement moet hom verwyder. As die parlement dit moet doen, dan is of deur middel van ‘n mosie van wantroue of deur hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas.”

Die NUK vergader tans om oor Zuma se toekoms te besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ou Skaakmat Ystervark @ #ZexitInOut? ·

En so strompel skaakmat Suid-Afrikaners die toekoms in . . . . met of sonder water . . . met of sonder Grondwet . . . met of sonder visie . . . met of sonder hoop . . . met of sonder “Awuleth’ Umshini Wami” . . . met of sonder . . . ware leierskap. Tragies. Maar die son van sukses sal weer eendag skyn wanneer die ANC DNS iets van die verlede is.

Pieter ·

Ontbind die parlement, dis in elkgeval useless. Gebruik sommer die geleentheid om dit weg te vat uit Kaapstad.

Cherokee ·

Corne Mulder, Leier van die Vryheidsfront Plus? Ek het dan gedink dit is Pieter Groenewald se posisie.

Gwen ·

Fout in die tweede paragraaf: Dr. Corné Mulder is nie leier van die VF+ nie, hy is die party se hoofsweep in die parlement. Dr. Pieter Groenewald is die leier.

Elize ·

Ja die opposisie partye moet maar doen wat hulle kan want dit lyk nie of Cyril enige iets uitgerig kry met sy vriend nie.

Johan Smith ·

Al die jare vir my kinders geleer van Afrika demokrasie “you vote me in,you not vote me out”

Nettie ·

Ja-nee, hoe jy ookal daarna kyk, SA is in Tamatiestraat (op die ordentlike manier gesê). Die NUK van die ANC het nie die mag om Zuma af te dank nie, Zuma sal nie self bedank nie, die opposisie-partye kan maar “Ontbind die Parlement!!!! Ontbind die Parlement!!!” skreeu tot hulle persblou in die gesig is, maar Mbete sal dit nie doen nie, net soos sy ook nie aan die EFF se eis dat die mosie van wantroue vervroeg moet word, sal toegee nie. Volgende jaar se verkiesing sal nie vervroeg word nie en dan ……. (“drumroll”) – het enige een al gedink daaraan dat die ANC-kiesers wat (dalk) nie meer in 2019 ANC wil stem nie, vir niemand anders as die EFF sal stem nie? As die EFF ‘n meerderheid stemme kry in die 2019 verkiesings, kan al wat blanke persoon in SA is, maar nou al die tassies pak of sommer net see-in swem, want dan is ons doppies geklink.

lizl ·

Trek maar nader die toiletpapier en pak maar julle tassies … Ferreira se tyd is uitgedien

Mich ·

Wat my bekommer is dat Mmusi Maimane,Leier van die DA,
In paragraaf 4 van die berig sê “dat daar ‘n beroep op alle
Suid Afrikaners gedoen word om die dag van die mosie,
die strate in te vaar en
te eis dat Zuma verwyder word”.
Besef Maimane nie die implikasie van sy woorde nie?
Om honderde duisende of dalk miljoene woedende (of gelukkige) mense die strate in te stuur klink nie vir my na die antwoord nie…
Dis ‘n resep vir ‘n ramp !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.