Oproep na sy ma lei polisie na kinderporno

Tyrone James. Foto: Met vergunning van die George Herald.

ʼn Man van Wildernis naby George het op die harde manier met die langarm van die gereg kennis gemaak.

Tyrone James van Wildernis in die Wes-Kaap sal op 22 Mei hoor wat sy lot is nadat sy pad en dié van die lang arm van die gereg op ʼn vreemde manier gekruis het.

Hy het reeds skuldig gepleit op die vier aanklagte teen hom – een hou verband met die besit van kinderpornografie en die ander vir die besit van dwelms.

James is op 17 Maart 2016 deur die polisie in ʼn padblokkade naby die Touwsrivierbrug in Wildernis voorgekeer.

Hy en sy voertuig is deursoek en daar is op dwelms, waaronder dagga, afgekom. James is summier in hegtenis geneem, maar sy probleme het nie daar geëindig nie.

Hy het toe die polisie gevra of hy sy ma op sy selfoon kan bel. Terwyl hy die oproepe gemaak het, het die polisie hom dopgehou. Een van die polisielede het gesien daar is ʼn foto van ʼn naakte kind op sy foon.

Sy het die foon by hom gevat en polisie het dieselfde dag nog ʼn bevel vir die deursoeking van sy eiendom gekry.

Later die dag is sy huis deursoek. Beslag is onder meer gelê op ʼn Samsung-selfoon, rekenaartoerusting, DVD’s en CD’s. Dié items is na ʼn spesialis-eenheid van die polisie in Kaapstad gestuur .

ʼn Lid van die kinderbeskermingseenheid van die Rolprent-en-Publikasieraad het dit ondersoek. Hy het ʼn verslag opgestel en bevind dat van die foto’s op die rekenaartoerusting binne die definisie van kinderpornografie val.

Altesaam 56 578 foto’s/beelde van kinderpornografie en 240 video’s van kinderpornografie van kinders tussen die ouderdomme van twee en 18 jaar is ook gevind.

James het Dinsdag in die George-landdroshof verskyn en skuldig gepleit. Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer op 22 Mei in die hof verskyn. Hy sal dan gevonnis word.

Marius Fourie is die landdros en Candice Simon die staatsaanklaer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Denise ·

SKOKKEND groot fout met die man wat is dit met die mans ek is gewalg hoe slaap jy????????

adriana ·

OP borgtogg?
my genade – hy gaan dit mos nou weer doen!

Koos ·

Goeie werk deur ‘n toegewyde polisiebeampte. Ons kort meer van hierdie soort. In baie dorpe kyk hulle (wit en swart) anderpad alhoewel almal weet waar die dwelmtransaksies beklink word.

Nico ·

Wat ek vreemd vind is, dat ons gereeld hoor dat besitters van kinderpornografie gevang en vervolg word. Dit is uiters raar om te hoor dat die uitvaagsels wat kinderpornografie vervaardig gevang en vervolg word.

JM ·

Hy gaan dit weer doen of hy gaan na Dubai vlug en saam met die Guptas bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.