Oproep tot kalmte voor beoogde St. Helenabaai-betogings

Leo Williams (9). (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het inwoners van St. Helenabaai in dié provinsie gemaan tot kalmte tydens ʼn beoogde betoging wat Saterdag op die dorp onder die vaandel van #JusticeforLeo gehou gaan word.

Fritz het sy medelye betuig ná die dood van die jong Leo Williams (9) wat verlede maand tydens ʼn gewelddadige betoging doodgeskiet is.

Leo het binnenshuis gespeel toe ʼn dwaalkoeël, vermoedelik uit die vuurwapen van ʼn polisielid, hom in die kop getref het. Hy is na ‘n hospitaal gehaas, maar is later dood.

Fritz het vroeër reeds aan die provinsiale polisiehoof geskryf en gevra vir meer inligting oor die voorval en het ʼn ondersoek deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) daarna verwelkom.

“Ek gaan Opod se aanbevelings oor die ondersoek fyn dophou en met die provinsiale minister van menslike nedersettings in verbinding tree oor verwante diensleweringsklagtes. Ek gaan ook met ʼn plaaslike gemeenskapsleier vergader en hom op die hoogte bring van hierdie ingrypings in ʼn poging om rustigheid in die gemeenskap te verseker.

“Ek doen ʼn beroep op kalmte te midde van berigte oor die beoogde betoging môre in St. Helenabaai. Ek pleit by inwoners om hulle te weerhou van enige betoging wat gewelddadig is of skade aan eiendom veroorsaak, omdat dit onwettig is,” het Fritz gesê.

“Ek wil weer eens my diepe medelye met die familie en geliefdes van Leo Williams betuig. Geen ouer behoort hul kind te begrawe nie. Sy dood is ʼn tragedie en het die gemeenskap platgeslaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

christo ·

Bheki Cele wil net nie verantwoordelikheid neem vir die polisie se doen en late nie. Ek weet nie of dit skerppunt ammunisie was nie, en of daar ballistiese toetse op die koeël gedoen is nie.
Die regering slaan nie ag wanneer mense vreedsaam protesteer nie, en dikwels ontaard in geweld. Suid-Afrika het die swakste regering ooit. Korrupsie is in alle vlakke van die ANC regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.