Oproep vir groter, veiliger pad ná jongmense sterf

Odine Swanepoel (links) en Lize en Janke Coetzer (regs). Al drie meisies is in die ongeluk buite Jan Kempdorp oorlede. (Foto’s: Facebook)

Daar is toenemende oproepe en druk op die Noord-Kaapse regering om die “onveilige” N18, veral tussen Hartswater en Jan Kempdorp, dringend op te gradeer en wetstoepassing op dié pad te verbeter. Dit kom ná die grubotsing waarin ses mense, onder wie twee sussies en hul vriendin, Saterdagaand dood is.

Die Vryheidsfront Plus het Dinsdag gesê die ongeluk onderstreep die onveilige toestand van die pad en bevestig dat die pad nou verbeter en vergroot moet word.

Die pad is deel van die N18, wat Warrenton (aan die N12 tussen Johannesburg en Kaapstad oor Kimberley) met die Ramatlabama-grenspos en Botswana verbind. Dit vorm deel van die Trans-Afrika-hoofweg wat Kaapstad en Kaïro verbind.

“Buiten langafstandverkeer, is hierdie roete die hoofslagaar van die Vaalharts-waterskema, een van die grootste en mees gekonsentreerde skemas in Suid-Afrika. Swaar vragmotors wat stadig beweeg en sigbaarheid beperk, deel dus die pad met passasiersvoertuie wat vinniger beweeg,” het Theo Joubert, die VF Plus se raadslid in die Frances Baard-distriksmunisipaliteit, Dinsdag gesê.

“Op enkele aansluitings bestaan die pad uit een baan in elke rigting, sonder ’n noodbaan links van die geel streep. Die afwesigheid van sigbare wetstoepassing deur die Phokwane-verkeersafdeling vererger die probleem.”

Joubert meen dit is duidelik dat beplanners besef dat die hoeveelheid verkeer ʼn groter pad noodsaak.

“Die padreserwe en konstruksie van brûe bewys dat ’n dubbelpad in elke rigting beplan was. Tot dusver het dit nog nie werklikheid geword nie. Die Vaalharts-waterskema is een van die swaartepunte van die Noord-Kaapse ekonomie en regverdig ʼn belegging in infrastruktuur. Die vraag is hoeveel sterftes nodig is om die owerheid daarvan te oortuig.”

Maroela Media het vroeër berig dat sibbe Janke (19) en Lize (16) Coetzer en hul vriendin Odine Swanepoel (19) dood is toe hul Volkswagen Polo kop-teen-kop met ʼn Hyundai Tucson gebots het. Al drie insittendes van die Hyundai is ook dood, maar nog nie deur die polisie geïdentifiseer nie. Nog twee passasiers van die Polo, Albie Coetzer en Martine Degenaar, is ernstig beseer en steeds in die hospitaal. Dis nog nie duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie, maar na verneem word, het die Hyundai ander voertuie glo op ʼn sperstreep verbygesteek en die Polo getref. Sommige ooggetuies op die toneel beweer dat ’n drankbottel tussen die bestuurder van die Hyundai se bene gesien is.

Die Vaalharts-distrikslandbou-unie (VDLU) het ook die afsterwe van die slagoffers betreur en sê onder meer dat hulle bekommerd is oor motoriste se verontagsaming van padreëls en die gebrek aan sigbare wetstoepassing.

“Alhoewel verskeie ander ongelukke ook al op die N18 plaasgevind het, lê hierdie ons na aan die hart aangesien van die jongmense uit ons landbou gemeenskap kom,” het Christelle Stoman, VDLU se bestuurder, gesê.

“Die toenemende verkeer op die N18 en die totale wetteloosheid van padgebruikers, is ’n groot bekommernis vir die landbou-unie en is reeds by verskeie vergaderings met die onderskeie instansies bespreek. Van die grootste probleme wat uitgesonder word, is die nie-sigbaarheid van verkeersbeamptes op die pad. Daar is geen wetstoepassing ná 16:00 en oor naweke wanneer die meeste oortredings plaasvind nie.”

Stoman sê die toename in onpadwaardige voertuie, dronkbestuur en die oortreding van bykans alle verkeersreëls is al verskeie kere tevergeefs met die toepaslike instellings bespreek.

“Die feit dat padgebruikers ook weet daar is geen vorm van wetstoepassing en strafregtelike gevolge nie, maak dat hierdie oortredings sal bly toeneem.”

Stoman sê nog ʼn tekortkoming is die feit dat Vaalharts nie ʼn plaaslike brandweerdiens het nie en genoodsaak was om van ander provinsies se dienste gebruik te maak om die insittendes uit die wrakke te bevry.

Die VDLU het sedert die ongeluk ʼn versoek aan die plaaslike rampbestuur gerig om kake van die lewe, wat gebruik word om slagoffers uit wrakstukke te bevry, vir Vaalharts te bekom.

Annette van Wyk, die DA se raadslid in die Phokwane-munisipaliteit, sê die voortdurende en tragiese lewensverlies op die provinsie se paaie is hartverskeurend en onaanvaarbaar.

“Met die feestyd op hande doen die DA ’n beroep op die munisipale verkeerskantoor om met die departement van vervoer saam te werk sodat daar meer sigbare verkeerswetstoepassing kan wees.

“Wetstoepassing moet veral verbeter by die gevaarpunte waar motorongelukke aansienlik toegeneem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SwartBees ·

Haal trokke van ons paaie af!!!! Doen liewers iets om spoor vervoer op te gradeer en veilig te maak. Trokke is tans die middelpunt van meeste ongelukke.

Hannelie ·

Ek kan nog nie glo dat daar nie iets gedoen is aan daai pad nie, dis ‘n lang en nou pad van Warrenton se afdraai tot verby Magogong. Dis net jammer dat talle lewens verloor is, en nou eers moet daar iets gedoen word.

Kokerboom ·

Ek stem maar jy kan ‘n pad hoe veilig maak maar as bestuurders sperstrepe ignoreer gaan geen maatreels dood op paaie keer

Astrain ·

Maar wat as daar nie gesteur word aan sperstrepe, blinde hoogtes, bestuur onder invloed, of spoed nie? Paaie moet breed genoeg wees dat ‘n motoris darem kan PROBEER koes vir ‘n roekelose bestuurder. Ek ken daardie pad goed en dis maar een van vele uiters dodelike paaie in ons land. Gaan kyk maar hoe lyk die pad tussen Letsitele en Eiland waar vd grootste sitrusboere in die land boer….dis uiters gevaarlik!!!

Christine ·

Ek kan net raai wie was in die Hyundai wat gedrink het en nie sperstreep verstaan nie. Jammer, maar dis feite.

Veronika ·

Op sperstreep verbygesteek……..drank bottel…….. dit sê alles. Mense net geduldig wil wees op die paaie en reels gehoorsaam!! Nou is jongmense wie se lewe nog skaars begin het weg! En ouers in rou gedompel wat mooit oor hul kinders se dood sal kom nie, en dit oor n ongeduldige padvark!!!

Elene ·

Daardie is die aakligste pad in hierdie omgewing. Selfs bedags is dit ‘n nagmerrie. Daar is motors wat 40km per uur ry, dan hoop die motors op agter daardie voertuig, en mense raak ongeduldig. Die pad is smal en dra baie verkeer. Ekself probeer daardie pad ten alle koste vermy, maar mens kan nie altyd nie omdat dit die enigste pad is. Baie gevaarlike pad. Daar sal iets gedoen moet word aan daardie pad. Nie slaggate soos met al die ander paaie nie, maar opeenhopings agter stadige voertuie (wat heel moontlik onpadwaardig is en dus nie vinniger kan ry nie) en dan persone wat kanse vat om verby te gaan en ander se lewens in gevaar stel. So bitter jammer vir die groot verliese aan geliefdes van al die families betrokke. So onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.