Oproepe oor selfmoord styg skerp

Argieffoto.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) het hy in 2020 byna dubbel soveel oproepe op sy krisishulplyn ontvang as in 2019. Sadag is ʼn nie-winsgewende organisasie wat geestesgesondheid en die stigma daar rondom beveg.

Van Januarie tot September verlede jaar het Sadag altesaam 315 666 oproepe ontvang, waarvan 65 475 oproepe was van mense wat oorweeg om selfmoord te pleeg. Dít terwyl Sadag in dieselfde tyd in 2019 byna 180 000 oproepe ontvang het, waarvan 46 545 oproepe oor selfmoord was.

Sadag ontvang daagliks ongeveer 1 400 oproepe van mense wat hulp benodig met betrekking tot geestesgesondheid of selfmoordgedagtes. Verlede jaar het die organisasie ook 27 674 e-posse, SMS’e en boodskappe van dié aard ontvang.

Dr. Ulli Meys, psigiater wat spesialiseer in geestesgesondheid by Akeso Kenilworth in Kaapstad, sê dat selfmoord die afgelope dekade skerp toegeneem het onder 15 tot 18-jariges. Regulasies rondom die Covid-19-ramptoestand het boonop daartoe bygedra dat tieners toenemend geïsoleerd voel.

“Ons sien daagliks pasiënte wat selfmoordneigings het of wat al probeer het om hul eie lewe te neem,” sê Meys.

Die nuus van die 12-jarige Herman Odendaal se selfmoord het Suid-Afrika verlede jaar geruk.

Herman Odendaal. (Argieffoto.)

Meys sê hoewel tienermeisies vier keer meer geneig is om selfmoord te oorweeg, is tienerseuns vier keer meer suksesvol om die daad uit te voer. “Meisies is meer geneig om ʼn oordosis pille te neem, en omdat dit nie onmiddellike gevolge het nie kan hulle steeds behandeling ontvang. Seuns, aan die ander kant, bly eerder stil en deel nie sommer hul gevoelens nie. Dit maak dit moeilik om ʼn probleem te identifiseer. Hulle is ook geneig om gewelddadiger of dodeliker middels te gebruik om hul lewe te neem.”

Dr. Frans Korb, psigiater en Sadag-raadsvoorsitter, sê daar is ʼn algemene wanpersepsie oor die aantal tieners wat sukkel met depressie en selfmoordgedagtes en dat hulle dikwels net iemand nodig het wat sal luister.

Hy sê Sadag is bekommerd oor die toename in die aantal oproepe na die selfmoordhulplyn, daarom moet ouers, onderwysers en familielede ingryp sodat die waarskuwingstekens van depressie en selfmoord betyds geïdentifiseer en behandel kan word.

“Ouers is dikwels skrikkerig om met hul tieners oor hierdie kwessies te praat, want hulle dink dit gaan die situasie vererger, maar navorsing bewys dat vermyding selfmoordgedagtes eerder laat realiseer,” sê Korb.

Volgens Meys is daar verskeie hulpbronne beskikbaar aan ouers, onderwysers en tieners, veral nou tydens tienerselfmoordvoorkomingsweek – van 14 tot 21 Februarie.

Risikofaktore vir tienerselfmoord

“Daar is verskeie risikofaktore wanneer dit kom by selfdood onder tieners,” sê Meys. “Die grootste hiervan is depressie en ander geestesversteurings soos selfbesering.”

“ʼn Groot aantal pasiënte wat hul lewens wou neem het reeds letsels op hul liggame as gevolg van selfbesering. Dit word dikwels gebruik as ʼn meganisme om emosionele pyn te verwerk of om hulself te straf.”

Meys sê daar is ook ander ernstige faktore wat die moontlikheid van tienerselfdood kan verhoog. Dit sluit in afknouery, hetsy van aangesig-tot-aangesig of aanlyn, familiekonflik, gebrek aan ondersteuning en ʼn geskiedenis van selfdood in die familie of fisieke en seksuele mishandeling.

“Wat selfdood onder volwassenes en tieners so ingewikkeld maak, is die impulsiwiteit daarvan,” sê Mark de la Rey, kliniese sielkundige wat werk met adolessente en jong volwassenes by die Akeso Kenilworth- geestesgesondheidfasiliteit in Kaapstad.

“Ons lewe in ʼn wêreld waarin ons onmiddellike bevrediging soek en dikwels neem mense hul eie lewens in ʼn poging om die pyn te verlig of om aan ʼn onstellende situasie te ontsnap. Jong mense is impulsief en hulle word maklik oorweldig, daarom is tienerselfmoord veral rede vir kommer.”

Tienerselfmoord en Covid-19

De la Rey meen dat sosiale afstandshandhawing, isolasie en die algehele landwye afsonderingsregulasies veral ʼn groot impak op tieners se geestesgesondheid het.

“In jou tienerjare is vriende dikwels meer soos familie en die regulasies wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan, veroorsaak dat tieners geïsoleerd en afgesluit voel van die samelewing.

“ʼn Mens moet verstaan dat die tieners van 2020 en 2021 al etlike jare werk om belangrike mylpale in hul skoonloopbaan te bereik soos ʼn matriekafskeid, in ʼn eerste span sport te speel en tyd saam met hul vriende deur te bring. Hulle is nou ontneem van al hierdie ervarings, daarom moet daar begrip wees vir hul omstandighede en opgetree word indien enige selfmoorddreigemente gemaak word.”

Voorkoming en behandeling

De la Rey sê verskeie navorsingsverslae dui daarop dat vroegtydige intervensie tienerselfmoord kan voorkom.

“As ouers ʼn verandering in hul tiener se gedrag sien, is dit belangrik dat hul kind eers ʼn huisdokter gaan sien om enige onderliggende geestesongesteldhede of stressors te identifiseer. Dit sal tieners ook help om te weet dat iemand hul pyn erken.”

Meys sê ook dat indien antidepressante nodig is, dit saam met terapie gebruik moet word. “Dit neem twee tot vier weke voordat antidepressante werk en selfs as die pasiënt ná twee maande beter voel, moet die medisyne vir minstens ses maande voortgesit word. As medisyne te gou gestaak word, sal daar ʼn terugslag wees. Gereelde afsprake by dokters en terapeute is ook verpligtend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KB ·

‘n Paar vrae doem op terwyl ek hier lees en dit deurentyd meet aan my ervaring met die lewe daarbuite:
1. Hoeveel mense “LUISTER nog met aandag”?
2. Hoe BETROKKE is ons by ons kinders se lewens?
3. Hoeveel tyd MAAK ons vir andere?
4. Hoe lyk ons PRIORITEITE?
5. LUISTER ons werklik na God se opdragte?
Mense kan argumenteer: “Dis ‘n kwessie van oorlewing, Ek moet nou aandag gee aan die finansiële oorlewing van my mense – ek het nie tyd vir hierdie beuselagtighede nie.” VERKEERD. Dis juis nou tyd om om te sien na die welstand van jou geliefdes se vrese, hou jou kudde bymekaar (beskerm hulle teen die roofdiere daar buite), keer terug na jou Christelike verantwoordelikheid (dis ‘n Goddelike opdrag…kom dit na). Reik uit, gaan soek hulp, praat teenoor “die wat ore het om te luister”…jou kerk ís daar om te help, maar ook die barmhartige deel van die gemeenskap. “Soek en jy sal vind, klop en vir jou sal oopgemaak word”. Maar, dis ons plig om te praat as jy weet van iemand in nood.

Maggies ·

Vreemd dat hier géén kommentaar by hierdie berig is nie. So asof mense bang is vir die onderwerp.
Mense dit is ‘n realiteit. Ons jongmense is bang. Bang vir hierdie onsekere toekoms, bang vir werkloosheid, bang vir soveel dinge wat daagliks om ons gebeur.
Daarom moét ons dit erken, raaksien en met deernis optree… voor dit te laat is.

Alet ·

Ek stem saam. Die kinders kry swaar van verlede jaar af. My seun sê hy wil skool toe gaan, hy wil doen wat hy veronderstel is om te doen, net kind wees, al is hy ‘n tiener. Hy is bang en onseker oor sy toekoms. Hy sê hy is bang vir die grootmens wereld. Die misdaad en anargie in die land maak hulle bekommerd. Hy wil net land uit en ek sal hom nooit keer nie. Gelukkig praat ons baie oor sulke goed maar ek dink baie mense verstaan nie dat jong mense bang is om groot te word nie. Veral in RSA.

Linda ·

Selfdood is n werklike groot bedreiging. het my seun so verloor in 2020. Neem dit altyd erenstig op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.