Oproer dreig in Mpumalanga oor urelange ‘interne beurtkrag’

Inwoners van Amsterdam in Mpumalanga is raadop oor die sogenaamde interne beurtkrag wat nou geld.

Die Mkhondo- plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga sê hy probeer sy bes om die sogenaamde interne beurtkrag wat hy noodgedwonge in Amsterdam moet instel, so gou moontlik op te skort.

Oproer dreig die afgelope paar dae kort-kort in dié dorpie nadat ʼn bykomende beurtkragstelsel in werking gestel is. Benewens die beurtkrag wat volgens die Eskom-skedule ingestel word, skakel die munisipaliteit die krag vir ʼn bykomende nagenoeg vyf uur per dag af om aan die groeiende vraag na elektrisiteit te voorsien.

Giel Coetzer, ʼn sakeman van die dorp, sê inwoners is raadop. “My besigheid staan stil. Almal in die dorp se vleis vrot. Ons weet nie meer wat om te doen of waarheen om te gaan nie. Ons word geboelie.”

Inwoners het burgemeester Vusi Motha tydens ‘n gemeenskapsvergadering boonop uitgejou weens ‘n gebrek aan behoorlike terugvoer.

Maqhawe Kunene, munisipale bestuurder van die Mkhondo-munisipaliteit wat Amsterdam bedien, sê die owerheid het in dié stadium slegs 1,5 MVA krag beskikbaar vir verspreiding. Die munisipaliteit gebruik tans tussen 2,2 en 2,3 MVA en in die winter styg dit tot 2,5 MVA. Die stelsel kon dit nie hanteer nie en dit het tot enorme netwerkprobleme en skade gelei. Eskom het krag na die gebied gevolglik tot 1,5 MVA beperk.

“Ons is gedwing om interne beurtkrag toe te pas om aan die behoeftes van alle inwoners te probeer voldoen,” het Kunene gesê.

Volgens hom het die munisipaliteit verlede jaar ʼn aansoek by Eskom ingedien om die stelsel – en substasie op Amsterdam wat aan Eskom behoort – op te gradeer om aan die groeiende vraag na elektrisiteit te voldoen. Eskom-inspekteurs probeer die afgelope paar dae om toegang tot die substasie te kry, maar Kunene sê betogende inwoners het hulle verhoed. Polisielede sal tegnici na verwagting vandag na die substasie begelei.

Sonder ʼn opgradering aan die substasie, en teen minimale koste vir die plaaslike owerheid, kan die kapasiteit waarskynlik tot 2,5 MVA verhoog word. Kunene sê sodra vandag se inspeksie afgehandel is, sal Eskom terugvoer aan die munisipaliteit gee oor watter moontlikhede beskikbaar is om bykomende krag te voorsien. Die gemeenskap sal dan weer op hoogte gebring word van enige vordering.

Inwoners van Amsterdam wag tydens ‘n vergadering op terugvoer van die burgemeester.

Inwoners is egter woedend en sê die munisipaliteit doen nie genoeg om die probleem op te los nie. Die burgemeester, Vusi Motha, is verlede week by ʼn gemeenskapsvergadering uitgejou. Eers het die amptenare glo ʼn uur en ʼn half laat vir die vergadering opgedaag en daarna wou Motha net in Zoeloe praat toe hy gevra is om na Engels oor te slaan sodat alle inwoners kan verstaan.

Nature Khumalo, ʼn gemeenskapsleier, het ná die vergadering gesê Motha kon geen klinkklare antwoorde verskaf nie en het die skuld vir die onderbrekings op die apartheidsregering probeer pak. Dít terwyl die probleme voor die deur van die huidige administrasie se gebrek aan behoorlike bestuur gelê moet word, het hy gesê.

Weens die sogenaamde interne beurtkrag het inwoners nou soms net ‘n paar uur per dag krag.

Volgens Khumalo het die burgemeester die gemeenskap op grond van hul velkleur probeer verdeel deur te weier om die vrae ook in Engels te beantwoord. Dít terwyl alle inwoners, swart en wit, met dieselfde probleme sit.

Kunene sê Piet Retief, wat deur dieselfde munisipaliteit bedien word, het vantevore soortgelyke probleme ondervind. Hier behoort die substasie egter aan Mkhondo en is daar vroeër al met opgraderingswerk begin om aan die groeiende aanvraag te voldoen.

Kunene sê die probleme het ook niks te doen met ʼn versuim om sy Eskom-rekening te vereffen nie. “Ons skuld Eskom geld, maar ons betaal dit en kry wel krag.”

Hy het ʼn beroep op inwoners gedoen om geduld te gebruik tot ʼn oplossing gevind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

OMG – Apartheid – 25 jaar later – ONBEVOEGD EN NET TE SLEG OM HULLE WERK TE DOEN. Stem nie altyd saam met betogings en oproere nie, maar stem hier 100% saam. ONS AS DIE PUBLIEK HET NOU GENOEG GEHAD VAN JULLE ONBEVOEGDHEID. DOEN JULLE WERK OF WAAI.

Herman

Hulle moet nie ander mense se goed en paaie werwoes nie. Hulle moet die Staats amptenare se kantore en besittings opneuk.

Dries

Dit klink bekend. Ons het dit ook beleef die naweek. En natuurlik sonder enige waarskuwing van die munisipaliteit. Useless, daar is geen ander woord nie. Maar die vet weet, laat EK nou net ‘oproerig’ raak, dan sal jy darem nou ‘n ander reaksie sien in die ‘nuus’.

Nette

As hulle in ‘n hoek gedruk word is dit apartheid se skuld, as hulle so bietjie van apartheid vergeet is dit Jan van Riebeeck se skuld…

henndrik

Hulle het verlede jaar aansoek gedoen by Eskom om meer krag te voorsien maar op daardie stadium het hulle reeds meer nodig gehad so daar was nie vooruit beplan nie en nou moet die mense daaronder ly maar daar is mos niks wat met die swak bestuurders gebeur nie so dit sal nie ophou nie.