Oproer ná moord op polisielid

Konst. Stephano Nico Visagie (28). (Foto: Facebook)

Inwoners van Keimoes en Upington in die Noord-Kaap het die strate ingevaar ná die moord op ʼn polisielid.

Konst. Stephano Nico Visagie (28) het Dinsdagaand glo by ʼn vriend in Lennertsville in Keimoes gekuier en besluit om oor te slaap.

Sy liggaam is Woensdag om 05:40 op ʼn bed in dié huis gevind. Hy is minstens een keer met ʼn skerp voorwerp gesteek, het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, gesê.

“ʼn Span ondersoekers het onophoudelik gewerk en ʼn 35-jarige verdagte is intussen in Krugersdorp in hegtenis geneem.”

Hy word van moord aangekla en sal na verwagting Maandag in die Keimoes-landdroshof verskyn.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagte is ʼn buitelander.

Inwoners was woedend na die moord en het ‘n inhegtenisneming geëis. (Foto: Facebook)

Volgens haar was Visagie drie dae voor sy dood glo met sy vermeende aanvaller in ʼn stryery betrokke.

“Die verdagte het die huis binnegekom waar die slagoffer geslaap het. Hy was met ʼn mes gewapen en het die inwoners aangeval. [Visagie] is aan die linkerkant van sy bors gesteek,” het Mogale gesê.

Die aanvaller het ook die huiseienaar in die been gesteek en toe van die toneel gevlug.

Talle inwoners van Keimoes en Upington het gister begin betoog en geëis dat iemand vir Visagie se moord in hegtenis geneem word. Sommige inwoners het onder meer aangevoer dat buitelanders meer regte as Suid-Afrikaanse burgers het en vreesloos vir die polisie is.

Die polisie het inwoners tot kalmte gemaan en gesê geen geweld gaan geduld word nie. (Foto: Facebook)

Naidoo het gepleit vir kalmte.

“Noudat ʼn verdagte in hegtenis geneem is, doen ons ʼn beroep op die twee gemeenskappe om verdraagsaamheid te toon en toe te laat dat die ondersoek sy verloop neem,” het hy gesê.

Naidoo het inwoners ook gewaarsku dat geen geweld geduld gaan word nie en tot dusver is 23 mense in hegtenis geneem. Agt minderjariges is sedertdien vrygelaat. Die oorblywende 15 word aangekla van openbare geweld.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom.

Nóg inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Outoppie ·

Mense is reg. Buitelanders en moordenaars het meer reg in hierdie land

Boos ·

Doodgesteek met n mes! Tyd dat almal hul messe moet inhandig wat as moordwapens gebruik kan word, anders gaan die amnestie op vuurwapenens niks help nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.