Oproer: Ramaphosa moet regering se ‘mislukkings’ erken

Een van die talle winkels wat in verlede jaar se oproer geplunder is. (Foto: Rajesh Jantial/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa moet Donderdag in sy staatsrede die mislukkings wat uitgewys is in die ondersoek na verlede jaar se Julie-opstande erken en tasbare stappe aankondig om iets daarom te doen. Anders, waarsku die verslag én kenners, kan dit ʼn teelaarde skep vir verdere grootskaalse opstande.

Dr. Johan Burger, verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies, sê ook die president moet selfs verder gaan as net dié verslag en ook verwys na al die vorige oplossings vir voortgesette probleme wat oor jare heen net nooit in werking gestel is nie.

Die verslag, wat ʼn paneel kundiges in opdrag van Ramaphosa saamgestel het om te bepaal of die reaksie van die land se veiligheidsdienste op die Julie-oproer tydig, gepas en voldoende was, het die regering se talle mislukkings opnuut aan die groot klok gehang.

Volgens die paneel het nie net die polisie nie, maar ook die intelligensiedienste klaaglik misluk, terwyl die ministers van verskillende departemente mekaar openlik weerspreek en klaarblyklik agteraf gekibbel het.

‘Kruitvat’ nog nie ontlont

Burger sê een van die belangrikste elemente van die verslag is die gevolgtrekkings oor die regering se mislukking om hoë vlakke van werkloosheid en armoede oor jare heen te pak. Mense sit sonder krag, water en werk en daar is groot frustrasie oor voortgesette armoede.

“Al wat die organiseerders van die geweld gedoen het, was om ʼn vonk by die kruitvat te plaas.”

Dié omstandighede duur voort en die paneel waarsku in die verslag dat die sogenaamde kruitvat nog lank nie iets van die verlede is nie.

Die paneel het bevind groot maatskaplike verandering moet plaasvind om armoede en ongelykheid uit te wis.

Burger sê maatskaplike en ekonomiese probleme skep ʼn teelaarde vir hierdie amperse “revolusionêre potensiaal” en solank dit voortduur, gaan die moontlikheid vir verdere oproer net groter word.

Volgens die verslag is die werklike organiseerders van die oproer steeds nie aangekeer nie.

“Mense wat belang daarby het om die land te destabiliseer, is mense wat waarskynlik belang het daarby dat daar nie strafregtelike vervolgings moet wees vir staatskaping en ander soortgelyke misdadigheid nie,” sê Burger.

“Hulle sal enige ding onder die son doen – selfs die land in vlamme laat opgaan – net solank hulle kan vermy om in die howe aanspreeklik gehou te word vir vergrype.”

Hy sê talle van die uitstekende aanbevelings in die paneel se verslag is al in verskeie ander verslae gesien – maar die aanbevelings word net nie geïmplementeer nie. “As die aanbevelings vroeër in werking gestel is, kon die regering se vermoë derhalwe beter gewees het om die situasie te hanteer.”

Die paneel het voorts bevind die Nasionale Veiligheidsraad het nie gereeld genoeg vergader en oor bedreigings teen die nasionale veiligheid van die staat – nie die regering nie – beraadslaag nie. Die land se intelligensiestrukture en die veiligheidsraad het ook nie juis aandag gegee aan probleme wat lankal reeds bestaan nie.

“Dit is ʼn direkte aanklag teen die president en die kabinet oor die middele wat hulle tot hul beskikking gehad het, maar nie behoorlik aangewend het nie.”

Intelligensiemislukking

Opruimingswerk word na die oproer in Soweto gedoen. (Foto: GCIS)

Volgens die paneellede was hulle tydens ʼn besoek aan KwaZulu-Natal verstom oor die hoeveelheid intelligensie wat voor die oproer beskikbaar was. Dit blyk talle mense het geweet iets is aan die broei en Burger sê dit is verbasend dat nie die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), die polisie se misdaadintelligensie of enige ander amptelike strukture kwansuis hiervan bewus was nie.

“Daar was ʼn mislukking van intelligensiedienste en die verslag bevind daar moet weer na hierdie strukture gekyk word.”

Dit is egter nie die eerste keer dat hierdie aanbeveling gedoen word nie. ʼn Paneel onder leiding van oudmin. Sydney Mufamadi het in 2018 al bevind die staat se wanfunksionele intelligensiesektor moet hervorm word. Die aanbevelings in die verslag is egter nie in werking gestel nie.

Burger sê dit is nie duidelik presies waarmee die intelligensiestrukture besig was nie, maar dat die verslag die tallose leierskapsprobleme in die polisie en intelligensiedienste uitwys. “Solank as wat die leierskapsprobleme voortduur, gaan die amptenare ondertoe nêrens kom nie. Iemand het dalk inligting oor die oproer gehad, maar kon dit nie by die hoër strukture soos die parlement, kry nie.

“Dit is ʼn mislukking van die topbestuur,” sê Burger, self ʼn oudpolisie-offisier.

Polisie misluk op bykans elke vlak

Pres. Cyril Ramaphosa het dele van geweldgeteisterde KwaZulu-Natal verlede jaar na afloop van die geweld saam met verskeie ministers besoek. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Burger sê nog een van die belangrike kwessies wat die verslag aanroer, is die polisie se “mislukking op byna elke terrein”.

Hy sê die polisie het geen gebeurlikheidsplan gehad om ʼn situasie soos die Julie-oproer te hanteer nie. Tydens die oproer kon dikwels gesien word hoe enkele polisiebeamptes op ʼn toneel opdaag waar honderde, soms selfs duisende, mense besig was om te plunder. “Daar is geen manier dat hulle die situasie op hul eie kon hanteer nie.”

Burger sê die polisie se openbare orde-eenhede is wel opgelei om dit te doen, het die gepaste toerusting – nie-dodelike wapens soos traanrook, rubberkoeëls of waterkanonne – en daag op in groot getalle om skares te beheer.

“Waar was hulle?” vra Burger.

Lede van hierdie spesialiseenhede is wel in die Nkandla-omgewing ontplooi weens kommer dat geweld kan uitbreek wanneer oudpres. Jacob Zuma vir sy tronkstraf moet aanmeld. Dít het sonder voorval verloop en die openbare orde-polisielede is na hul basisse in verskillende provinsies teruggestuur.

“Terwyl hulle op pad terug was, het die geweld uitgebreek – maar niemand het hulle klaarblyklik laat weet om terug te draai nie,” sê Burger.

Minister van polisie Bheki Cele het die skuld op nasionale polisiehoof Khehla Sitole gepak, terwyl dié op sy beurt gesê het die polisie is oorweldig. Sitole het in ʼn stadium voor die paneel getuig dat hy die situasie uit sy kantoor gekoördineer het en dit op hierdie manier baie beter kon doen as om op die toneel te wees.

Burger sê dit is onsin.

Burger sê hoewel die polisie voorbereid moet wees om op voorvalle soos die Julie-oproer te reageer, lê die antwoord nie by die polisie nie, maar in ʼn politieke oplossing.

Wanneer die polisie jaarliks sy misdaadsyfers bekend maak, word die 30 stasies met onder meer die meeste voorvalle van moord, gewapende roof en seksuele misdrywe ook uitgesonder. “Die stasie is gewoonlik in armer, verwaarloosde gemeenskappe – maar dan verwag almal die polisie moet die probleme uitsorteer.

“Die polisie het ʼn verantwoordelikheid, maar hul taak kan soveel makliker gemaak word as staatsdepartemente en die regering hul eie werk doen en iets aan hierdie kwessies doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Hy sal dit op appartheid blameer, enige iets om die ANC te red!
Om sy eie woorde te gebruik.
Hy voel vere vir die mense van die land.

AW

Ditsem !!!!

Kokerboom

Die tydbom tik! My hare rys as ek dink wat verwaarloosde wettige en onwettige massas kan doen! STEEDS kry ANC regime NIE die boodskap!!

JohanR

Cyril Ramaphosa is ‘n mislukking!

H.A.

AL WAT DIE LAND KAN RED IS N STAATSGREEP – SOOS DIE NORM MAAR IN AFRIKA IS – laat die anc diktators vlug uit S.A. na Kuba.