Oproer: Ses ‘sleutel-inhegtenisnemings’ reeds gedoen

Die polisie het selfs beslag gelê op ‘n doodskis wat oënskynlik tydens die oproer in KwaZulu-Natal gebuit is. (Foto: SA Polisie)

Ses sogenaamde sleutel-inhegtenisnemings is gedoen sedert verlede week se opstand dele van KwaZulu-Natal en Gauteng in geweld en chaos gedompel het.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, sê drie van die verdagtes is steeds in aanhouding en sal na verwagting vandeesweek aansoek doen om borgtog.

Een verdagte is borgtog in ʼn Gautengse hof toegestaan.

“Die besonderhede van die sake sal later verskaf word, maar aanklagte teen [die beskuldigdes] sluit in aanhitsing om openbare geweld te pleeg. Nog inhegtenisnemings word verwag,” sê Ntshavheni.

Intussen is nog drie sterftes weens die opstand in KwaZulu-Natal bevestig. Dit bring die dodetal weens die oproer op 215 te staan. Geen nuwe gevalle van plundering is sedertdien in dié provinsie aangemeld nie. In Gauteng word die situasie as heeltemal stabiel bestempel. Skoonmaakoperasies in verskeie gebiede duur voort.

Die N2 en N3 is Vrydag vir verkeer heropen en geen voorvalle is tot dusver op hierdie paaie aangemeld nie.

Die polisie en weermag patrolleer intussen steeds die roetes, padblokkades word opgestel en moontlike brandpunte word fyn dopgehou.

Die minister sê die hawens by Durban en Richardsbaai is operasioneel en die uitvoer van sitrus is hervat.

Verskeie spoorlyne wat vroeër gesluit is, is ook weer in bedryf geneem. Die sluit in die spoorlyn na Kroonstad.

Ntshavheni Khumbudzo, waarnemende minister in die presidensie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Ntshavheni sê ná berigte van voedseltekorte in KwaZulu-Natal het verskeie winkels nuwe voorraad uit Gauteng en vanaf die hawens ontvang.

“Dit is in gebiede waar inkopiesentrums heeltemal beskadig is en waar mense moontlik na buurdorpe sal moet reis om voorraad aan te koop.”

Ministers in die regering se ekonomiese groepering werk ook nou saam met die sakesektor om te verseker volle ekonomiese bedrywighede word hervat.

In hierdie stadium word verskeie ingrypings oorweeg om te verseker selfs kleinsakeondernemings wat onder die plundering deurgeloop het, kan binnekort weer hul deure open.

Voedselhulp word verskaf aan huishouding wat deur die oproer geraak is en waar mense in hierdie stadium geen toegang tot kos het nie. Provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling versnel ook hulpprogramme om steun in die vorm van kospakkies, kontant en voedselkoepons te verskaf.

Daar word ook gewerk om te verseker dat alle kantore van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid, oftewel Sassa, binnekort weer operasioneel is.

Diegene wat hul inkomste weens die oproer kwyt is en lede van die regering se werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is, kan dadelik in aanmerking kom vir TERS-uitbetalings.

Ntshavheni het ook weereens ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie gesteelde items te koop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

ES ·

Hulle het alreeds verlede week Dinsdag ‘n man in Roodepoort gearresteer wat valse bewerings op WhatsApp groepe gemaak het oor onluste op plekke waar daar glad nie onluste was nie.

thejudge ·

Dit is hul konstituele reg om aansoek te doen vir borg en indien die hof tevrede is dat hul nie ‘n vlugrisiko is nie, is daar absoluut geen rede hoekom borg nié toegestaan kan word nie. Borg is nie “vrylating” nie!

Tanja ·

Dis dan hulle wat alles afgebrand en geplunder het … nou staan hulle bak hand want daar is nie kos of winkels nie…

Natasha ·

Sou Cele nie die name bekend gemaak het sodra die terroriste in die hof verskyn het nie? Hoekom word hulle identiteite so groot geheim gehou? Dit kom voor asof niemand weereens verantwoordelik gehou gaan word nie.

Tersia ·

Laat mens wonder of hulle enigsins iemand in hegtenis geneem het.

Francois ·

As hulle reeds in die hof was en die name word nie bekend gemaak nie laat dit my nogal wonder of daar regtig persone in hegtenis geneem is…of is dit nou beeldpoetsery…. As ek hoor dat daar voor die gebeure van verlede week reeds redelike detail inligting aan die owerhede bekend was en hulle het steeds niks gedoen om dit te verhoed nie, sal dit baie vat om enigsins my vertroue te wen….

Windhond ·

Aanhitsing tot geweld, nou toe nou, hoekom hulle nie eerder aankla vir lelik op straat nie?, hierdie is nou window dressing van die ergste graad – hierdie “10” is nou die pak esels en gaan nou vir jare en jare uitgestel word totdat mense belangstelling verloor, hulle name word nou van die twitter en facebook ens gevind – en nou begin die security cluster – wat ookal dit is – soek vir getuienis

Kokerboom ·

Die ANC se Robin Hood benadering byt hul in die hakskeen: 215 mense sover dood, 50 000 mense werkloos, 80 miljard se skade, 100 skole beskadig onberekenbare skade aan beeld van land, en so kan ons aangaan. Regtig ‘n verwronge beeld hoe ‘n land bestuur moet word!! En is hul jammer of stort hul n traan? GLAD NIE. More stem massas weer vir hul!!!

Anoniem ·

Dink hul vir een oomblik hul moet geglo word. Lagwekkend.

Esme ·

Jy gee nooit vir sulke gevaarlike kriminele borgtog nie. Hulle, en hulle makers, gooi byna die Regering omver, maar hulle kry borgtog. Hulle het heelwaarskynlik maskers gedra en ‘sanitizer’ gebruik. Ongelukkig is ‘n onskuldige ou, wat sy hond vir ‘n stappie neem, nie so gelukkig nie. Hy word summier aangekla.
Afrika bly nou maar eenmaal Afrika – chaos, onluste en korrupsie is die enigste styl wat hier gehandhaaf word.

Persheks Adri ·

Gee die name! Nou is 1 klaar uit op borg mmmmmm laat my wonder of hulle regtig iets gaan oorkom. Pateties verby!

Zors ·

Hierdie is niks anders as ‘n “PR stunt ” om te wys hulle is in beheer…. 12 mense wat die “instigators was!!!” … twak man.. hulle het nie ‘n clue hoe diep en wyd die pobleem is nie… nie eens om te praat wie almal in die regering en sy instansies deel daarvan was nie… Rampies is in groot moelikheid en SA in nog groter gevaar…

ES ·

Ja nee… die ANC stel die ANC aan om die ANC te ondersoek en aan te kla vir die ANC-lede se aanhitsing tot geweld. Wat ‘n grap.

Jaco ·

‘n Engelse nuus webwerf sê een van die aanhitsers is Ngizwe Mchunu. Blykbaar ‘n omroeper by ‘n gemeenskapsradiostasie.

Arthur ·

Berigte wil dit hê dat plundering nou gestaak is… want als is reeds gelunder en verwoes! Sotheid!

marius ·

Net mense wat in feetjies , kabouters en vlieende matte glo ,vertrou dat geregtigheid in die hool geskied .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.