Oproerigheid in tronke is ‘onverantwoordelik, roekeloos’

(Argieffoto)

Die departement van korrektiewe dienste het gesê aanhitsing van gevangenes om teen die staat in opstand te kom, is absoluut onverantwoordelik en roekeloos.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, het gesê die departement is tans in gesprek met verskeie wetstoepassingsagentskappe om die nodige stappe te doen.

Volgens hom het ene Miles Bhudu en ander individue die gevangenes tot oproer aangehits. “Gevangenes by Baviaanspoort Medium- korrektiewe sentrum (B-eenheid, sel 7), in Gauteng, het ná die aanhitsing oproerig geraak. Een gevangene het op sy rug gaan lê en geweier om in sy sel in te beweeg. Korrektiewe beamptes moes minimum mag gebruik om die orde te herstel.”

Die departement benadruk sy kommer oor dié vorm van mobilisering, om chaos in die sentrums te veroorsaak. “Hierdie tipe gedrag word nie geregverdig nie, omdat die departement deurlopend die land op hoogte hou met die vordering van ons Covid-19-rampbestuurbeleid,” het Nxumalo bygevoeg.

“Ons benadering is gefokus op voorkoming, beheer/behandeling en herstel. Die departement het sy infeksiebeheermaatreëls in werking laat tree op alle bestuursvlakke met spesifieke opdragte om seker te maak dat beskermingstoerusting gebruik word en ontvangsareas, selle, kantore, voertuie en ablusieblokke gereeld ontsmet word.”

Volgens hom word toetse by die sentrums gedoen en voorraad word deurlopend verskaf – vir gevangenes en personeel.

“Sedert besoeke aan die korrektiewe sentrums op 16 Maart 2020 opgeskort is, het slegs een sentrum in Oos-Londen, uit die land se 243 korrektiewe sentrums, Covid-19-gevalle bevestig. Die departement het vinnig opgetree om die verspreiding te beheer en behandeling te bied waar nodig.”

Gerugte dat ʼn gevangene geskiet is, is vals nuus, het Nxumalo gesê. “Ons beamptes gebruik nie vuurwapens in die sentrums nie. Twee gevangenes is vir geringe beserings behandel deur ons gesondheidsorgbeamptes en hulle is terug in hulle selle. Die voorval is by die betrokke owerhede aangemeld en word ondersoek.”

Hy het gesê die departement sal ook lukraak soektogte by gevangenisse landswyd doen om beslag te lê op onwettige middels en seker te maak dat beamptes, wat kop in een mus is met die smokkelaars, ontbloot sal word en uiteindelik vervolg sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.