[Foto’s] Opruimingswerk in Mpumalanga ná storm

Skade by Rossgro in die Eloff-gebied in Mpumalanga ná ʼn hewige storm Maandagmiddag (9 Oktober 2017). Foto: Verskaf

Erge skade is Maandagmiddag in Delmas, Eloff en die omliggende omgewing aangerig nadat ʼn hewige storm die gebied getref het.

In Eloff is huise se dakke afgewaai, bome is ontwortel en mure het op plekke ineengestort. Die kragtoevoer in die dorp is ook deur die storm geraak.

Skade is ook op plase in die distrik aangemeld. Volgens Brent Parrott, voorsitter van Agri Delmas, is verskeie bome by Schoeman Boerdery ontwortel en het dit op plekke op kragdrade of elektriese omheinings geval. “Hier by ons is die skade nie eintlik so groot soos op ander plekke nie. Twee van die werkershuise se dakke het afgewaai, maar ons is reeds besig om dit te herstel. Dit is maar meestal bome wat omgeval het,” het Parrott gesê.

Skade by Rossgro in die Eloff-gebied in Mpumalanga ná ʼn hewige storm Maandagmiddag (9 Oktober 2017). Foto: Verskaf

Hy het gesê die skade in Eloff is baie meer uitgebreid. “Daar is mense wat letterlik nie meer huise het nie. In die informele nedersettings was daar natuurlik ook erge skade. Ek weet van die plaaslike winkels help reeds om kos te versprei aan mense wat dakloos gelaat is en Lewende Woord Delmas word as ʼn sentrale punt gebruik waar klere, komberse en ander skenkings afgegee kan word.”

Die presiese omvang van die skade in die dorp is nog nie bekend nie.

By Rossgro, ʼn bekende pluimveeboerdery naby Eloff wat spesialiseer in onder meer eierproduksie, pluimvee en diervoedingsprodukte, is erge skade deur die reën en stormwinde aangerig. Dr. Naude Rossouw, direkteur van Rossgro, het aan Maroela Media bevestig dat die plaas erge skade gely het, maar het navrae na sy persoonlike assistent verwys.

Skade by Rossgro in die Eloff-gebied in Mpumalanga ná ʼn hewige storm Maandagmiddag (9 Oktober 2017). Foto: Verskaf

Janice Whitehouse, Rossouw se assistent, het aan Maroela Media gesê die hoofkantoor en ʼn gedeelte van die voerfabriek het die ergste onder die storm deurgeloop met dakke wat afgeruk is en mure wat omgeval het. Volgens Whitehouse was personeel steeds op kantoor toe die storm omstreeks 16:30 getref het.

“Ons finansiële hoof het die ergste beserings opgedoen. Sy ribbes is vermoedelik gebreek en hy is steeds in die hospitaal. Ons ontvangsdame het twee snye aan haar kop opgedoen wat geheg moes word, maar sy is reeds vandag weer terug by die werk,” het sy gesê. “Van die ander personeel het ligte skrape en snye opgedoen, maar is nie ernstig beseer nie. Almal is egter baie getraumatiseerd.”

Volgens Whitehouse het sy self onder haar lessenaar geskuil toe die storm op sy ergste gewoed het.

Bome in Delmas in Mpumalanga wat weens die storm omgeval het. Foto: Twitter via @IanCameron23

Sy het gesê personeel is tans besig met opruimingswerk en om die omvang van die skade te bepaal. Sy het bevestig ʼn gedeelte van die voerfabriek asook silo’s en voertuie is beskadig. Talle bome is ook ontwortel.

“Ek weet eintlik nie waar om te begin verduidelik nie,” sê sy. “Soos ek hier deur die plaas ry, lyk dit soos ʼn ramp. Dis soos iets uit ʼn fliek.” Sy het gesê werkers se huise is ook deur die storm platgevee en personeel is tans besig om kos en komberse vir hulle bymekaar te maak.

Volgens Whitehouse gaan bedrywighede op die plaas sover moontlik voort.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het vroeër bevestig paramedici het Maandag ses mense in die Delmas-gebied behandel wat beseer is nadat ʼn gebou ineengestort het. Paramedici is kort daarna ook na ʼn huis in die Bapsfontein-gebied ontbied waar ʼn gedeelte van die huis weens die storm ineengestort het. Daar het paramedici ʼn man en twee kinders vir geringe tot ernstige beserings behandel voordat hulle na ʼn hospitaal geneem is.

Verskeie foto’s is ook op sosiale media gedeel van bome in Delmas wat omgeval en paaie versper het en huise wat in die storm beskadig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Dis erg! Hoop daar is baie hulp vir almal daar – ook vir die besigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.