Opskort van TERS-eise ‘onregverdig’

(Foto: Facebook)

Business for South Africa (B4SA) sê die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se besluit om die betaling van sogenaamde TERS-betalings te staak, is onbillik teenoor diegene wat geldige eise ingedien het. Die DA eis intussen dat die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, verduidelik presies hoekom die betalings opgeskort is – en wanneer dit hervat gaan word.

Die Covid-19-TERS-voordeel is deel van die regering se tydelike verligting wat betaal word aan werkers en werknemers wat deur die afsonderingstydperk geraak word.

B4SA sê die organisasie verneem die betalings is opgeskort hangende ʼn ondersoek deur die ouditeur-generaal (OG) na probleme met “stelselintegriteit”.

“Die eensydige opskorting van alle betalings en die geweldige swak kommunikasie daaroor deur die WVF-leierskap is uiters onbillik teenoor werkers en hul werkgewers wat geldige eise het.

“Dat die WVF-stelsel nie in staat is om ʼn betreklike klein getal bedrieglike eise reg te stel sonder om die miljoene regmatige eisers te benadeel nie, is ʼn aanklag teen die WVF-stelsel,” het Robert Legh, voorsitter van die B4SA-arbeidswerkgroep, gesê.

Legh sê B4SA het ʼn beroep op die WVF gedoen om betalings so gou moontlik te hervat ondanks die feit dat daar geen duidelikheid is oor hoe lank die ondersoek gaan duur nie.

“Die voortgesette vertragings en gebrek aan deursigtigheid deur die WVF oor sy kapasiteitsprobleme het onbedoeld veroorsaak dat daar wantroue tussen werkers en werkgewers ontstaan het,” het hy gesê.

“B4SA slaan verder ag daarop dat die kapasiteit van die WVF se oproepsentrum sedert verlede week beduidend verminder is en dat dit ongetwyfeld bykomende uitdagings met die oplossing van navrae gaan skep.”

Legh sê ʼn span van B4SA het die WVF genader om op ʼn pro bono-grondslag te help met die proses, maar daar het dadels van gekom.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensnemings, sê die WVF se Covid-19-TERS-stelsel is uit die staanspoor geteister deur vertragings en stelselprobleme. Talle werkers het steeds nie betalings vir April, Mei en Junie gekry nie, om van Julie en Augustus nie eens te praat nie.

“Die feit dat alle betalings opgeskort is hangende die OG se ondersoek na finansiële ongerymdhede vererger die situasie selfs verder,” het Cardo gesê.

Hy sê werkers wat lankal reeds swaarkry, gaan nou selfs langer wag vir hul TERS-betalings.

“Dit beteken onbetaalde rekeninge, kos wat nie gekoop kan word nie en toenemende desperaatheid en radeloosheid in ʼn tyd van maatskaplike en ekonomiese ontbering.”

Die OG het die WVF vroeër vandeesweek gewys op die tekortkominge in sy betalingstelsel. Dit sluit in teenstrydighede tussen uitbetalings wat vantevore gedoen is, betalings aan mense wat reeds dood is, minderjariges en selfs gevangenes.

“Ons weet mense het die TERS-skema herhaaldelik bedrieg,” het Cardo gesê.

Van dié beweerde bedrog sluit in die betaling van R5,7 miljoen wat onder 1 400 werkers verdeel moes word, maar aan ʼn enkele indiwidu uitbetaal is. Dié man het die geld glo weer tussen vriende en familielede versprei.

“Die jongste verwikkelinge wys dat dít net die oortjies van die seekoei was.”

Cardo sê betalings sou ná die OG se bevindings net opgeskort word as daar gemeen is die bedrog en korrupsie by die WVF se TERS-skema is diepgewortel en wydverspreid. Hy sê die minister moet oop kaarte speel oor die ware omvang van die probleem en verduidelik wat daaraan gedoen word.

Nxesi moet ook sê of enige amptenare hangende die afhandeling van die ondersoek geskors is.

“Bowenal moet min. Nxesi vir angstige werkers sê wanneer TERS-betalings na verwagting hervat gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Persheks Adri ·

Kan niemand hul vingers uit die til hou nie? Nog korrupsie verbaas my glad nie. Patesiese regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.