Opskud! Wes-Kaap skole verwag meeste aansoeke ooit

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Wes-Kaapse departement van onderwys verwag om meer leerders in die komende skooljaar te plaas as in die verlede. Volgens vooruitskattings sal 107 000 gr. 1-leerders en 89 000 gr. 8-leerders volgende jaar plek soek in ʼn skool in die Wes-Kaap.

Dít in vergelyking met die 104 336 gr. 1’s en 85 771 gr. 8’s wat verlede jaar geplaas is. Die Wes-Kaap sukkel jaarliks aan die begin van die nuwe skooljaar om alle voornemende leerders betyds in ʼn skool te plaas. Dit is omdat duisende leerders jaarliks uit ander provinsies na die Wes-Kaap stroom.

Bronagh Hammond, woordvoerder van onderwys in die Wes-Kaap, sê aansoeke vir skole in dié provinsie het reeds op 15 Februarie geopen. “Leerders word nog elke dag in skole in die provinsie geplaas,” sê sy. Sy kon nie sê hoeveel leerders reeds vir volgende jaar geplaas is of hoeveel haar departement nog moet plaas nie. Tog is daar steeds ouers wat nog nie hul kinders ingeskryf het nie. Die departement doen nou ’n beroep op dié ouers om hul spruite so gou as moontlik in te skryf.

Hammond verduidelik dat meer as 150 000 leerders oor die afgelope ses jaar van ander provinsies, veral uit die Oos-Kaap, na die Wes-Kaap verhuis het. Dit plaas die provinsie se onderwysstelsel onder groot druk wanneer ouers na die provinsie verhuis sonder om vooraf te beplan wanneer en waar hulle hul kinders op die laaste oomblik gaan inskryf.

Die departement sukkel gevolglik om behoorlik voorsiening te maak vir al die nuwelinge.

“Ondanks ’n toename in inskrywings is ons daartoe verbind om alle leerders wat aansoek gedoen het by skole in die Wes-Kaap, te plaas,” het Hammond verseker.

Daar is in die verlede ook ’n beroep op Wes-Kaapse ouers gedoen om hul kinders betyds te registreer. Sowat 8 100 plekke was in 2018 vir die 2019-skooljaar geblokkeer, aangesien ouers nie bevestig het waar hulle hul kinders wou inskryf nie. Sowat 5 000 voornemende gr. 8-leerders was toe by meer as een skool geregistreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.