Opslae oor ‘nuwe voëlspesie’

Die foto van die “Tuluver” wat die aankondiging vergesel het. Foto: BirdLife SA

Die foto van die “Tuluver” wat die aankondiging vergesel het. Foto: BirdLife SA

ʼn Aankondiging deur BirdLife SA dat ʼn nuwe voëlspesie in Limpopo “ontdek” is, het talle voëlkykers en kenners warm onder die kraag.

Die ontdekking van die “Tuluver” wat in ʼn amptelike mediaverklaring deur BirdLife SA aangekondig is, is skynbaar bloot ʼn grap, maar het talle belangstellendes en mediapublikasies geflous.

Mark D Anderson, uitvoerende direkteur van BirdLife SA, het in die verklaring gesê die nuwe voëlspesie is naby Mapungubwe in Limpopo ontdek tydens ʼn vyf dae lange voëlkundige ekspedisie na die gebied. Die voël is glo voorheen deur voëlkundiges misgekyk omdat daar baie min is, hulle in afgeleë gebiede in Suid-Afrika voorkom en “geheimsinnig” in hul habitat is.

Anderson het gesê die vorm van die voël se bek dui daarop dat dit ʼn aasvretende spesie is wat siektedraende aas in die droë dele van Suider-Afrika vreet. Hy het verder gesê hoewel die spesie pas ontdek is, word dit reeds as ʼn bedreigde spesie geag weens sy klein getalle.

André Botha, bestuurder van die roofvoëlwerkgroep van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT), het aan Maroela Media gesê hy vermoed die mediaverklaring is uitgereik met die doel om bewusmaking te skep in die aanloop tot BirdLife SA se jaarlikse byeenkoms volgende week.

“Ek glo iemand met kennis van voëls sou vinnig gesien het dit is ’n foto wat saamgestel is uit ʼn verskeidenheid voëls, maar ek dink die minder ingeligte ou kon dalk opgewonde geraak het oor die nuwe spesie,” het hy gesê. “Mense probeer maar verskeie maniere en benaderings om bewusmaking rondom organisasies of kwessies te skep en of hierdie een suksesvol was, sal ek nou nie weet nie. Ek dink sommige kan dit snaaks vind, ander dalk ’n bietjie verwarrend. Maar as [BirdLife SA] daarin geslaag het om bewusmaking te skep, dan is dit bakgat.”

Talle voëlliefhebbers het op die nuus op sosiale media gereageer en gesê die grappie is “in swak smaak” en doen afbreuk aan die geloofwaardigheid van BirdLife SA. Daar is vertel hoe die nuus op talle radiostasies en ander mediabronne gedeel is, aangesien die meeste mense nie besef het die mediaverklaring is bog nie.

Talle gebruikers het ook ʼn bekende foto van ʼn tipe aasvoël geplaas wat hulle beweer die oorspronklike foto van die “Tuluver” is wat net gemanipuleer is. Sommige het BirdLife SA geprys vir die goeie “Aprilgekke-grappie” en gesê die gemanipuleerde foto is slim gedoen.

BirdLife SA kon nie Sondag vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

HEVW ·

Soos ek die “nuwe” spesie sien met wilde kroon en verder in pikswart geklee is, en wat boonop aasvretend is kan dit nogal maklik tot hededaagse nasionale embleem verhef word.

SNEL ·

Bewaar die foto, want kort voor lank word hy ook geëet deur die “volk”. Ons moet juis nou fotos van renoster bêre, want teen die trand wat hulle vermoor word gaan daar beslis niks van ons pragtige renoster oorbly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.