Opslagkoeël tref driejarige in PE

Argieffoto

Drie persone, insluitend ʼn driejarige seun, is Donderdagoggend beseer tydens ʼn skietery in Helenvale, Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Kol Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê twee slagoffers, onderskeidelik 19 en 22 jaar oud, was omstreeks 11:15 op die hoek van Elk- en Stagstraat toe ʼn man hulle genader het. “Hy het verskeie skote op hulle gevuur. Die twee slagoffers het in Stagstraat af gehardloop en die man het steeds op hulle bly skiet. ʼn Opslagkoeël het ʼn driejarige seuntjie getref wat in die straat gespeel het.”

Die seuntjie se wang is beseer. Die ander twee slagoffers is onderskeidelik in die linkerbeen, boud en hande getref.

“Die twee slagoffers is vermoedelik deel van die Boetie Rus Boys-bende. Dit is nie duidelik aan watter bende die skieter behoort nie.”

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder vir Mount Road, doen ʼn beroep op die gemeenskap om saam met die polisie te werk om dié misdadigers uit te ken. “Dit is die tweede voorval hierdie week waar twee jong kinders beseer is deur opslagkoeëls. Die gemeenskap kan nie ʼn veilige hawe bied aan hierdie misdadigers nie, want onskuldige jong slagoffers beland in die middel van die bendeoorlog. Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om na vore te kom en hierdie misdadigers aan te meld. Julle is die oë en ore van die polisie.”

Die bestuur van die polisie en die gemeenskap het Donderdagmiddag by die Helenvale-hulpbronnesentrum vergader.

Die provinsiale eenheid wat bendebedrywighede ondersoek, sal drie sake van poging tot moord ondersoek, het Naidu bygevoeg. Enigiemand met inligting kan lt.kol. Mike Grobler kontak by 082 442 1825.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LB S ·

Hou julle kleintjies uit die strate, man! Dis nie meer soos dit meer as 30 jaar gelede was nie. Waar het jy nou gesien jy laat jou 3-jarige kind buite in die straat speel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.