Optelhond wat harte aangryp, kry haar aftreehuis

Adira by haar nuwe huis. (Foto: Verskaf)

Die optelhond Adira het ’n groot bed by haar nuwe huis in Pretoria waar haar nuwe ounooi deesdae lank by haar kom lê en saggies streel oor die geneesde wonde aan haar pote wat vroeër deur kabelbinders vasgebind is.

“Ek het dadelik geweet ek wil haar hê. Ek het op my knieë gegaan en gebid vir haar. Sy was mý hond,” vertel Michelle Pretorius van Magalieskruin in die noorde van Pretoria van die oomblik toe sy besluit het om aansoek te doen om Adira aan te neem.

Maroela Media het vroeër berig al vier Adira se pote is in Oktober met kabelbinders vasgebind waarna sy vir dood in ’n beboste gebied in Louis Trichardt in Limpopo agtergelaat is. Fietsryers het dae later op haar afgekom en haar na die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem wat haar behandel en vir aanneming voorberei het.

Pretorius verklap dat sy nie graag berigte lees oor diere wat seergemaak word nie aangesien dit haar te veel ontstel. Sy het egter verlede maand om een of ander onverklaarbare rede besluit om die berig oor Adira te lees en dadelik besluit sy wil haar aanneem. “Dit is die snaaksste ding. Sy was genuine vir my bestem.”

(Foto: Verskaf)

Pretorius is een van vele wat aansoek gedoen het om Adira ná haar trauma aan te neem. Tog was die Pretorius-gesin en hul drie Jack Russels die beste pasmaats vir Adira, vertel Alicia Thomas, adjunkvoorsitter van die DBV-komitee in Louis Trichardt.

“Hulle het nie klein kindertjies nie en Michelle werk van die huis af, so sy is heeldag by Adira. Ons is baie gelukkig met die huis wat sy gekry het. Michelle wou haar só graag gehad het.”

Ook Hayley Waller, die vrywilliger wat ná Adira se trauma agt weke lank na haar omgesien het, is tevrede met haar nuwe tuiste.

“Ek verlang al klaar na haar, maar ek wil net hê sy moet gelukkig wees. Sy moet ’n hond wees en nooit weer bang wees dat iemand haar weer leed gaan aandoen nie. Sy is die wonderlikste hond. Sy is so happy go lucky. Dit is merkwaardig na wat sy moes deurmaak.”

Adira se nuwe gesin het haar Vrydag ontvang en hoewel sy nog nie heeltemal op haar gemak is nie, begin sy stadig maar seker ontdooi, vertel Pretorius.

“Sy wou aanvanklik nie hê ek moet aan haar stert vat nie, maar laat my nou al toe. Sy het ook eers weggeruk wanneer ek aan haar pote vat, maar laat my toe wanneer ek saggies aan hulle vat. Ek bestee baie tyd aan haar en besef dit gaan ’n lang herstelproses wees, maar ek is nie oomblik spyt nie.

“Ek het haar reeds lief. Ek sal haar vir niks in die wêreld verruil nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ronalda ·

So bly om te sien sy het n liefdevolle huis gekry na al die trauma!

Maggies ·

Ek het al gewonder wanneer ek weer ‘n pragtige berig kan lees wat my hart gelukkig maak. Hierdie is een. Dit het trane van dankbaarheid in my oë laat oor loop. Dankie aan die DBV en ook die Pretorius gesin. Mag julle baie baie seën ontvang vir die goeie daad.

Lynette ·

Ek is bly vir haar. Dit wat julle vir julle nuwe hondekind doen sal eendag meervoudige Kerr na julle terugkom. Salani gathle, Adira.

Di ·

Dankie dat jy omgee en haar ingeneem het. Kan nie glo dat daar mense is wat genot daaruit put om diere te mishandel nie, dit gaan my verstand te bowe. Ek is seker dat sy julle nog baie vreugde gaan besorg. SO bly sy is nou gelukkig en tuis by ‘n liefdevolle gesin.

Karina ·

Michelle ek is so dankbaar daar is mense soos jy wat die goedheid, die liefde van hierdie siek wêreld uitstraal. My gebede vir ‘n lang en gelukkige lewe saam met jou honde kindertjies. Seenwense en dankbaarheid van ‘n diereliefhebber.

Genis ·

Wonderlik, geseend is jul! Ek persoonlik dink mense wat diere en kinders mishandel gaan baie swaar gestraf word eendag! Dis lafaards wat dit doen…

johanf ·

So dankbaar, dankie…..net hierdie daad toon jy is ń wonderlike mens…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.