‘Optimum is uit Glencore se hande geboelie’

Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, getuig voor die Zondo-kommissie van staatskaping. (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency)

Voormalige kabinetsministers, Trevor Manuel en Siphiwe Nyanda, sal Donderdag voor die Zondo-kommissie van staatskaping verskyn om te getuig.

Dit kom nadat Clinton Ephron, voormalige uitvoerende hoof van Glencore, Woensdag sy getuienis afgesluit het oor hoe die maatskappy geboelie is om Optimum Coal Mine aan die berugte Gupta-broers oor te gee. Ephron het aan die kommissie gesê ʼn kombinasie van politieke inmenging en korporatiewe boelie-taktiek het daartoe gelei dat Glencore geen keuse gehad het as om van Optimum Coal Mine afstand te doen nie.

Ephron sê nadat Brian Molefe, destydse uitvoerende hoof van Eskom, geweier het om weer oor die bepalings en voorwaardes van Glencore se kontrak met die kragvoorsiener te onderhandel, was Glencore onder druk om die steenkoolmyn vir R2,1 miljard aan Tegeta Resources te verkoop.

Molefe het Optimum ook ʼn swaar boete opgelê vir die 16,5 miljoen ton steenkool van swak gehalte wat Eskom oor ʼn tydperk van drie jaar verwerp het. Eskom het in twee verskillende maande betalings van onderskeidelik R58 miljoen en R34 miljoen van Glencore weerhou.

Ephron sê Glencore het ʼn verlies van R166,40 per ton steenkool gely en Optimum het net in 2013 R829 miljoen deur die Eskom-kontrak verloor.

Terwyl Glencore in 2015 nog desperaat probeer het om Eskom te oortuig om weer te onderhandel oor hul bestaande ooreenkoms, het die departement skielik Optimum met ʼn reeks artikel 54-werkstakings oor “ligsinnige redes” gekap.

Ephron het getuig die kennisgewing was “onnodig hard en onvanpas” aangesien een kennisgewing uitgereik is om die hele ondergrondse operasie van die myn te staak omdat daar ʼn olielek by een van die vragmotors waargeneem is. Hy sê ander kennisgewings is oor naweke uitgereik wanneer die departement se inspekteurs nie aan diens was nie.

Die artikel 54-kennisgewings is ʼn belangrike funksie om beroepsgesondheid en -veiligheid te handhaaf, maar dit het Optimum se volhoubaarheid verder gekniehalter. “Destyds het ons dit gesien as ʼn duidelike waarskuwingskoot van die departement van minerale hulpbronne. Vir ons het dit gelyk asof ons die verkoop van Optimum moet ondersteun,” het Ephron gesê.

Glencore het geen ander keuse gehad as om Optimum onder sakeredding te plaas nie, hoewel aandeelhouers bereid was om die myn te herfinansier. Kort daarna het KPMG egter namens Oakbay Investments vir Glencore genader met ʼn aanbod om die myn vir R1 miljard te koop.

Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne.

Glencore het die aanbod van die hand gewys en gesê hy is gewillig om Optimum se bates “vir ʼn billike prys” te verkoop. Dit het die wiele aan die rol gesit vir onderhandelinge om Optimum te verkoop.

Ephron sê daar is daarna ʼn reeks vergaderings gehou met Glencore se groepshoof, Ivan Glasenberg. Die vergaderings is volgens hom ook bygewoon deur Rajesh “Tony” Gupta, Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, en Salim Essa, ʼn Gupta-vennoot.

Zwane hou egter vol hy het nooit so ʼn vergadering bygewoon nie.

Ephron sê hulle was destyds agterdogtig oor die Guptas, maar het weens verskeie redes en risiko’s besluit om wel te verkoop. “Dit was ʼn pynlike besluit,” het Ephron gesê. “Nou dat mens terugkyk, was dit eintlik maklik om die legkaartstukke inmekaar te pas. Ons was geskok om te sien wat in die Openbare Beskermer se staatskapingverslag aan die lig gekom het.”

Ephron sê nadat die ooreenkoms onderteken is, het Essa hom gebel en gesê Tegeta kort R600 miljoen van die aankoopprys. Essa het glo versoek dat Glencore die tekort finansier en dan sou Tegeta die geld aan hulle oorbetaal met die eerste betaling wat hy van Eskom af ontvang vir die steenkool wat hy lewer. Glencore wou egter nie hiertoe instem nie.

Maar in 2016 het Eskom Tegeta te hulp gesnel en ʼn verdagte R600 miljoen “voorafbetaling vir steenkool” aan die maatskappy voorgeskiet en so kon die koop gefinaliseer word.

Die ondersoek duur vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

zwane, waar daar ‘n vermoede is, is daar grondige insident om ondersoek te word
hou maar vol jyt nooit met die zuptas vergader nie, maar wag maar, jy gaan skielik jou “tune” verander as die balon bars

Jepetto ·

Die ANC is bang vir die Guptas hulle word nie aangekla nie niks

Paaries ·

Ek was toe al die tyd reg! die volgehoue bemoeienis van Mosebenzi Zwane het dit duidelik gemaak dat Glencore gekaap is deur Jacob en die klomp Guptas. Ek hoop Glencore vat terug wat van hulle afgepers en uiteindelik geroof is in die naam van n geldige saketransaksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.