Optog teen korrupsie sal glo Pretoria, Kaapstad beset

Uniegebou in Pretoria Foto; Davinci77 via Wikimedia Commons

Uniegebou in Pretoria Foto; Davinci77 via Wikimedia Commons

Zwelinzima Vavi, voormalige sekretaris-generaal van Cosatu, het Vrydag werknemers by Nissan se aanleg in Pretoria-Noord aangemoedig om volgende week aan ʼn optog teen korrupsie deel te neem.

“Ons mobiliseer werkers. Ons kom hier om werkers gereed te kry, om hulle te laat weet waar die vervoer gaan wees en om seker te maak hulle weet hulle moet een dag se salaris opoffer om ʼn groter probleem te ondersteun om die toekoms van Suid-Afrika te red,” het Vavi buite die motorvervaardiger se aanleg aan verslaggewers gesê.

“As ons nie die krisis van korrupsie gaan aanspreek nie, wat so direk verband hou met die drie ander uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid, sal die land sy rigting verloor en dit sal gesteel word deur die magtigste in politieke kringe wat geen belang hoegenaamd het by die gewone belange van ons mense nie, maar slegs hulself en hul families.”

Vavi het gesê hy is “heel tevrede” met die reaksie wat hy tydens die massamobilisasie-veldtog kry.

Die optog word vir 30 September in Pretoria en Kaapstad beplan.

“Dit is nou vyf dae voor die optog. Die land vibreer. Ons het ʼn ongelooflike ondersteuning vir die optog. Ons het die grootste koalisie nog ooit in hierdie land geskep – wat laas in die dae van die Verenigde Demokratiese Front gesien is. Ons is heel tevrede daarmee,” het Vavi bygevoeg.

Hy het gesê die optog sal plaasvind voordat Pretoria en Kaapstad beset word. “Ons gaan sê die regering het ʼn primêre verantwoordelikheid om korrupsie in die privaat sektor hok te slaan, om privaat maatskappye te verhoed om miljarde rande na ander lande te laat vloei. Ons het self daardie geld nodig.”

Hy het gesê betogers sal ook ʼn beroep op die regering doen om op te tree teen praktyke in die privaat sektor soos die gebruik van ‘belastingparadyse dwarsoor die wêreld’, “want ons het die belasting nodig”. Hy het gesê almal in Suid-Afrika moet deur middel van belasting tot die nasionale fiskus bydra.

“Maar die belangrikste is dat die regering korrupsie binne die regering moet voorkom. Die verslag van die Instituut van Interne Ouditeure dui daarop dat ons die afgelope 20 jaar R700 miljard verloor het. Die verantwoordelikheid lê ten volle by die regering,” het hy bygevoeg.

Vavi het gesê Suid-Afrikaners moet verstaan hulle is nie ʼn “hopelose, hulpelose skare” wat niks aan die huidige stand van sake kan doen nie. Hy het gesê “ʼn paar hiënas met politieke verbintenisse” beroof Suid-Afrikaners van ʼn blink toekoms. “Kom ons kry die mag terug van diegene wat aktief die toekoms van ons kinders vernietig.”

Hy het bygevoeg die optogte sal met ʼn direkte gesprek met die regering begin oor dringende sake, waaronder die beskerming van fluitjieblasers en respek vir die kantoor van die Openbare Beskermer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OuVrou ·

Goed so, moes dit al lankal gedoen het. Dit is Jan Publiek se belasting geld wat so skreiend gesteel en wanaangewend word. Hoekom betaal om te suffer?

Petrus ·

Waarom Kaapstad waar die D.A. in beheer is, hoekom nie eerder n plek waar die All National Criminals is nie?

Zirk ·

Sterkte Vavi. Korrupsie in die regering was aan die orde van die dag toe jy jare lank die hoof van Cosato was. Waarom nie toe al ‘n veldtog daarteen geloods nie.? Seker maar stilswyend toegelaat, want as dit pap reën, moet mens skep.! En wat jou skynheiligheid omtrent korrupsie in die private sektor betref, hulle doen dit om te kan oorleef, want ons korrupte regerings amptenare sit en wag met bakhande tydens die uitdeel van die tenders.
My siening is, dat die magsdronk oligarge die staatskas besteel en die magtige vakbonde soos Cosato die hele land se ekonomie gyselaar hou. En die Kommunistiese party is die regering se skoothondjie wat net moet blaf om die groot honde se politieke temperatuur altyd opgesweep te hou.

Mike de Beer ·

Dit is goed dat hy werkers mobiliseer teen korrupsie, maar besef hy dat hy Nissan wat ‘n maatskappy met wins as motief skade berokken deur hulle werkers aan te moedig om te “march” teen korrupsie. Ek hoop hy het darem met Nissan se bestuur gekonsulteer oor die massa aksie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.