Optog teen nuwe kernkragstasies

Earth Life Africa se lede in Johannesburg sal Saterdag in die stad ʼn optog hou en die Suid-Afrikaanse regering versoek om sy planne vir nuwe kernkragstasies te laat vaar.

“Earth Life Africa doen ʼn beroep op alle regerings om standpunt in te neem teen kernkragenergie, wat deur wetenskap en ekonomie gelei word, aangesien dit nie ʼn klimaatsoplossing is nie,” het Earthlife Africa Johannesburg gesê.

Greenpeace Africa en ander vennote-organisasies sal Saterdag by Earthlife Africa aansluit.

“Kernkrag is ʼn valse oplossing wat ons bind aan ʼn toekoms wat geskep word deur die afbreek van ons omgewing en dit is ʼn skande vir ons ekonomie. Menslike bedrywighede veroorsaak klimaatsverandering en onlangse klimaatsgebeurtenisse eis dat daar wêreldwyd opgetree word,” het Nomalizo Xhoma, programbeampte van Earthlife Africa, gesê.

“Klimaatsverandering moet nie net jaarliks by ʼn internasionale vergadering bespreek word nie. Ons word almal deur klimaatsverandering geraak, dit diskrimineer nie. Kernkrag is nooit veilig nie en internasionale ondervinding het gewys dat kernkrag nooit betyds of binne begroting plaasvind nie.”

Penny-Jane Cooke, deel van Greenpeace Africa, het gesê die organisasie glo dit is “baie duidelik” dat herwinbare energie die goedkoopste en beste opsie vir Suid-Afrika is. “Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om weg te beweeg van kernkrag.”

Die optog begin om 10:00 by Westgate-taxistaanplek in Johannesburg. Die groep sal dan deur Pixley ka Seme (Sauer)-straat beweeg en dan in Rissik- en Albertina Sisulustraat indraai. Die optog eindig om 13:00 by die Eskom-streekskantoor in Braamfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacques venter ·

Zuma het op n vergadering by Kagiso aan die Wesrand gesê. Die Weste wil nie hê dat ons kernkrag hê nie want dan kan ons ons eie bomme maak.

Waarvoor sou ons kernbomme nodig hê?

Gigaba sê ons het tans n oorvoorsiening van elektrisiteit, maar David Mhlobo se span werk dag en nag om die kernprogram voor Desember deur te kry.

Hoekom????

Cato ·

Ons kragreus het reeds miljoene rande by China geleen vir hierdie doeleindes. Wat maak hul toe, betaal groot bedrae bonusse aan hul werkers, Nou moet ons opdok vir hul wanbesteding en hulle vereis n verdere krag verhoging van 20%. Basta man genoeg is genoeg!

Rupert Ashford ·

Oor die tegniese detail van die kerntransaksie wil ek my nie uitlaat nie. Maar dat sg hernubare bronne goedkoper is, is absolute wensdenkery. Dit is ook nie meer omgewingsvriendelik nie. Skadelike mynbou praktyke word slegs geskuif na waar die snowflakes dit nie kan sien nie soos China, Indie en elders. Dit neem waardevolle grond in beslag, dit maak voels dood, en dan het ons nog nie oor herwinning van die panele en windmeulens gepraat as hulle eers hulle einde bereik het nie. Oor Greenpeace kan mens net twee woorde se: Patrick Moore.

Oom Ekonoom ·

Rupert, nee dit is ‘n mite. Tien jaar terug was dit wensdenke maar vandag is dit realiteit. Die eerste lande begin nou al om alternatiewe energie goedkoper as steenkoolkrag te produseer en dit sluit lande soos Indie in. Teen die tyd wat ons nuwe kernkragstasies in werking gaan wees, en onthou hoe lank vat dit as gevolg van sloerdery, gaan alternatiewe baie goedkoper wees.

T.Strydom ·

HY het al sy FOOITJIE ontvang en nou EIS húlle hul pond vleis

Frikkie Geld en huis ·

En die Russe speel nie. As hul jou betaal het en jy bring nie jou kant nie, gaan hul jou vir seker uithaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.