Optrede kom teen implementering van nuwe kragtariewe

lig-gloeilampe-liggies

Foto: Vincent Tantardini/Unsplash.com

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het hom Dinsdag gedistansieer van die Tshwane-metro se besluit om die nuwe voorgestelde elektrisiteitstariewe te implementeer.

Dit volg na die party talle klagtes ontvang het oor verhogings van elektrisiteitstariewe in Pretoria. Maroela Media het self ook klagtes van ontstelde lesers ontvang wat vroeër die week voorafbetaalde elektrisiteit aangekoop het en skielik heelwat minder eenhede as gewoonlik ontvang het.

Dit lyk of die metroraad wel voortgegaan het om die verhoogde tarief te implementeer al het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) dit nie Vrydag goedgekeur nie. Nersa het glo die tariewe afgekeur omdat die reguleerder eers meer inligting van die Tshwane-metro wou kry oor hoe hulle op die tariewe besluit het.

Volgens Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Tshwane-metroraad se openbarerekeningekomitee, is dit in hierdie stadium moeilik om te bepaal presiese watter van die voorgestelde tariewe wel ingestel is omdat dit nou slegs voorafbetaalde kliënte raak.

“Dit wil egter vir ons voorkom of die tariewe wat deur die raad goedgekeur is, naamlik die vaste fooi van R56 en BTW gebruik word, wat neerkom op ʼn heffing van R64 wat betaal word voordat ʼn verbruiker enige eenhede elektrisiteit ontvang,” het Erasmus gesê.

Hy meen die metroraad moet oop kaarte met sy inwoners speel en die pad vorentoe duidelik uiteensit.

“Die VF Plus is nie gekant teen ʼn verhoging in kragtariewe nie, maar die verhoging moet billik wees en binne Nersa se riglyne val. Daar moet ook ʼn wettige en deursigtige proses gevolg word.

“Daar bestaan tans ʼn enorme kommunikasiegaping tussen die metroraad en inwoners.”

Erasmus het voorgestel die taakspan wat verlede week gestig is om insette te lewer oor die tariefverhogings na klagtes ontvang is, moet hulle werksaamhede voortsit en selfs uitgebrei word.

“Die spesiale taakspan het uit politici en tegniese amptenare van die metroraad bestaan. Die taakspan het sekere voorstelle gedoen rakende die vaste koste vir plaaslike sowel as landbouhoewe‑elektrisiteitsverbruikers en hulle insette is verwelkom.

“Dit moet uitgebrei word om ander rolspelers soos AfriForum, die TLU en die Elektrisiteitherverkoperassosiasie van Suid-Afrika (Erasa) in te sluit sodat kommunikasie verbeter kan word.”

Erasmus het verder gesê die VF Plus sal die burgemeester van die Tshwane-metro, Stevens Mokgalapa, vir ʼn tweede keer in soveel weke, gaan spreek om klarigheid oor die saak te kry.

Lex Middelberg, voorsitter van die Tshwane Money Matters‑koukus, het Sondag in ʼn verklaring gesê die stad kan onder administrasie geplaas word as die metro nie die tariefverhogings kan instel nie.

Die koukus het ʼn brief aan Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir plaaslike regering, gestuur waarin die organisasie gevra het dat die provinsiale wetgewer moet ingryp by die stad se finansiële sake as dit sou voortgaan om die “onwettige tariewe” in te stel.

In tussen het Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir die groter Pretoria, gesê die metro het ʼn eensydige besluit geneem wat nie die inwoners van die hoofstad in ag neem nie.

“Almal is tans onseker oor die werklike elektrisiteitstarief. Die feit dat drie verskillende tariefverhogings reeds bekend gemaak is en dat die raad verlede Donderdag weer op ’n tarief besluit het, laat almal in die duister oor die eintlike tarief wat geïmplementeer is. Die Tshwane-metro speel ook nie oop kaarte met die publiek nie en versuim om terugvoer op enige van die skrywes wat AfriForum aan hulle gestuur het, te gee.”

Grobbelaar het gesê AfriForum sal voortgaan om met sy regspan te konsulteer om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die verhoogde tarief wel billik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anne

R1000 SE PREPAID GEKOOP 55.5 EENHEDE MINDER AS LAAS MAAND.

Nico

Nou wil die DA nog weet hoekom ky soveel stemme verloor het. Hy moet wag vir die volgende munisepale verkiesings dan gaan hy eers lang trane huil, want daar is seker nie een munisepaleteit waar hy in beheer is wat ons nie swaar gestraf word met hul dienste rekening nie. So bly ek nie in Mei weer vir hulle gestem nie en sal ook nie gou weer vir hulle stem nie.

Louis

Dit is mos die DA wat die inwoners so verneuk. Gaan so voort DA, die munisipale verkiesing le voor.

Dafer

Wat van die res van SA. Vanderbijlpark – 22% duurder as laas maand!

KrokodilBotha

Dankie DA. Altyd ons wat vir julle onbevoegtheid en ander nie betalendes se krag moet opdok.