Optrede teen Zuma geëis

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Oudpres. Jacob Zuma se gedrag teenoor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is deur die Ahmed Kathrada-stigting beskryf as dié van “iemand wat dink hy is bo die wet verhewe”.

Die drukgroep Freedom Under Law (FUL) wys daarop dat “niemand bo die wet verhewe nie, nie eens ʼn voormalige president nie”.

Die stigting sowel as die drukgroep eis dat daar daadwerklik opgetree moet word teen Zuma nadat hy en sy regspan Donderdag tydens die teepouse sonder toestemming die sitting van die Zondo-kommissie verlaat het en net nie weer teruggekeer het nie.

Dié reaksie volg nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo geweier het om homself op Zuma se versoek aan die kommissie te onttrek.

“Dit is ʼn geregtelike kommissie van ondersoek. Die reëls en prosedures daarvan moet nagekom word,” sê Neeshan Balton, direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting.

“Indien iemand ʼn dagvaarding verontagsaam, loop hy die risiko om in hegtenis geneem of beboet te word, of albei. In die geval van die voormalige president wil ons hê dat die reg sy loop moet neem. Die strafregstelsel moet toesien dat die oppergesag van die reg gehandhaaf word.”

Nicole Fritz, uitvoerende hoof van FUL, beaam dié siening. “Freedom Under Law stel met respek voor dat sulke skandelike optrede deur ʼn voormalige staatshoof die sterkste optrede van die kommissie vereis. As ʼn voormalige president kan wegkom met so ʼn blatante uitdaging van die oppergesag van die reg, hoe kan daar van die res van ons verwag word om die wet te gehoorsaam?”

Zuma was Donderdag veronderstel om te reageer op 35 beëdigde verklarings van getuies wat voor die kommissie verskyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Werner ·

So ver is die idee wat ek kry dat hy net soos die res bo die wet verhewe is.Hy moes al toegesluit gewees het

John ·

Ek dink regtig Zuma se regsverteenwoordigers moet óók tot verantwoording geroep word! Hulle is veronderstel om die wet te ken en moes van beter geweet het! Sekakane (hoop ek spel sy naam reg!) se arrogansie gaan my verstand te bowe! Verkla hóm by die geregtelike dienskommissie!

Spyker ·

Hy verstaan nog nie die kolialiste se wette nie maar geniet die voorspoed wat dit gebring het.

annie ·

SA is ‘n tipiese oligargie en g’n demokrasie nie. En wat dit nog erger maak is dat dit skynbaar op ‘n tipe mafia-styl geskoei is saamgeklits met sosialistiese giftige kruie…. wat ‘n konkoksie. Omkoopgeld vloei soos riool al stinkende die voetpad af. Die nasie betaal en wag en wonder wie nou eintlik die land bestuur: Zuma, eks-mev Zuma, Cyril R of Ace M of die Gupta-boeties of wie? Selfs ons Grondwethof is onder beleg.

Chris ·

Sover ek weet moes hy eintlik al 10 jaar gelede toegesluit gewees het. Hy kom elke keer weg omdat die massas en die ANC party hom ondersteun.

Kerneels ·

Nie enige twee genoemde organisasies enige noemenswaardige publieke steun nie, so dit bly maar wind maak teen donderweer…

Dries ·

Wel dit is al 4 dae later… Ek het rerig teen hierdie tyd al aksie verwag.

Samuel ·

Wie gaan teen Jacob Zuma optree? Het iemand die moed om dit te doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.