[Opvolg] Drie sterf in waterpyp

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Netcare 911

Reddingswerkers op die toneel. Foto: Netcare 911

Die twee werkers wat Dinsdag in ʼn waterpyp by die Rutledgeparkdam in eShowe in KwaZulu-Natal vasgekeer was, is dood gevind.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep van agt kontrakwerkers het opdrag gekry om glo ʼn blokkasie in die hoofwaterpyplyn te gaan oopmaak.

“Dit wil voorkom of die werkers met ʼn petrolaangedrewe kragopwekker in die pyp in is om te help om die blokkasie oop te maak en lig te verskaf,” het Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, gesê. “Dit wil lyk of die dampe hulle binne-in die pyp oorweldig het.”

Hy het gesê drie van die agt werkers kon omstreeks 11:00 daarin slaag om self uit die pyp te kom en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.

“Met paramedici se aankoms op die toneel het ons twee van die werkers in ʼn ernstige toestand aangetref en hulle behandel. Die ander werker was reeds dood. Die twee mense wat vasgekeer is, was voor die kragopwekker in die pyp.”

Botha het gesê reddingswerkers moes eers die kragopwekker uit die pyp verwyder het om by die twee vasgekeerdes uit te kom. “Reddingswerkers het die mans net ná 14:00 bereik. Hulle was ongelukkig reeds dood en daar kon niks vir hulle gedoen word nie,” het hy gesê.

Die polisie en departement van arbeid ondersoek die voorval.

Klik hier om meer foto’s van die voorval te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vra maar net ·

Hoe nalatig kan werkers wees om met ‘n kragovwekker in ‘n pyp in te gaan.
Weet hulle nie die brandstof gasse gaan hulle oorval nie?

M ·

Daar is baie duidelike regulasies omtrent die tipe van werk. Die mense het duidelik elke wet wat dit betref oortree. Waar het hulle opleiding gekry? Vir watter maatskappy hulle ookal gewerk het, het groot probleme. (As dit nie weer toegesmeer gaan word nie.)

Rupert Ashford ·

Seker ‘n BEE tender maatskappy met die regte “contacts”. Ons sal nie weer hiervan hoor nie.

Johann ·

Ek is innig jammer vir die families van die oorledenes. Dit is ‘n aaklige dood om te sterf. Sulke ongelukke kom in noodgevalle voor. Sterkte.

scalla ·

Weet hulle nie jy kry n verlengingskoord om die werk te doen nie, die kragopwekker hoort buite kant, wonder wie die kontrakteurs se naam is, die gat is so nou die onderste een het dit seker op sy kop laat afgaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.