Opvolgstryd in ANC: ‘Geen duidelike leier’

mkhize-dlamini-zuma-ramaphosa

Zweli Mkhize, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma en Cyril Ramaphosa. Foto: Twitter/Gov.za

Die ANC staan voor sy grootste uitdagings in die 105 jaar sedert sy totstandkoming. Die party is gewikkel in ʼn opvolgstryd, terwyl verdere verdeeldheid binne die party ten alle koste probeer verhoed moet word.

Kenners meen die ondersteuningskampe, vir twee moontlike opvolgers vir president Jacob Zuma, kry al meer gestalte, maar daar is nog ʼn derde moontlike leier, Zweli Mkhize, die ANC se tesourier-generaal, wat stadigaan ook meer steun kry.

“Die ANC-vroueliga en -jeugliga, die sogenaamde premiersliga, wat uit die premiers van KwaZulu Natal, Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga bestaan, die veiligheidsgroepering en die MK-veterane, steun dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die voormalige voorsitter van die Afrika-Unie. Kabinetsministers soos Malusi Gigaba en Fikile Mbalula is ook in hierdie kamp,” het dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteitsnavorsinginstituut, gesê.

Volgens kenners skaar Cosatu en die SAKP hulle weer by adjunkpresident Cyril Ramaphosa as volgende leier van die land en party. Dit sluit ook provinsies soos Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap in, asook Suid-Afrika se korporatiewe sektor en die ANC-veterane. ANC-hoës, soos Gwede Mantashe, Aaron Motsoaledi en Derek Hanekom, het ook al hul steun aan Ramaphosa toegesê.

“Mense moet onthou baie van die sogenaamde lojaliste is nie noodwendig pro-Ramaphosa nie. Hulle wil eerder net vir strategiese doeleindes van Zuma en sy faksie ontslae raak. Dit gaan eintlik oor wie kry wat en die Ramaphosa-groep is nie noodwendig meer edel of minder korrup as die Zuma-faksie nie. ʼn Mens kan eerder van ʼn Zuma-kamp en ʼn anti-Zuma-kamp praat,” het Brink verduidelik.

Prof. André Duvenhage, ʼn politiek ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê dit is vir hom nog nie ʼn uitgemaakte saak dat Ramaphosa die gekose leier vir die anti-Zuma-kamp is nie.

Duvenhage voorspel soos 2017 vorder, sal daar meer konflik binne die party wees, sowel as al hoe meer intimidasie en binnegevegte. “Die ANC is egter ʼn organisasie wat net tot op ʼn punt baklei voordat kompromieë aangegaan en die kampe dan nie meer so strak afgebaken is soos nou nie. Onthou die ANC besef as hulle verder sou verdeel, hulle beslis die 2019-verkiesing sal verloor en dan verloor hulle alles. Dit is die grootste enkele risiko wat die ANC tans probeer bestuur.”

As hy ʼn berekende raaiskoot moet waag, sal die beste kompromie vir die ANC beteken dat Ramaphosa die president van Suid-Afrika word, terwyl Mkhize die adjunkpresident is en Dlamini-Zuma tot die voorsitter van die ANC verkies word.

“Die politiek laat ʼn mens dikwels met vreemde keuses. Die beste keuses is nie altyd die wenner nie en die keuses is veral vreemd waar die politiek gemanipuleer word,” het Duvenhage gesê.

Hy reken ook die ANC is nog nie gereed vir ʼn vrouepresident nie, ten spyte van wat die party en Zuma al gesê het.

Beide kenners meen die drie kandidate het onderskeie sterk- en swakpunte wat hul presidentskap kan bevoordeel en benadeel, maar dat Ramaphosa kwalitatief loshande die beste opsie sou wees.

“Ek dink Dlamini-Zuma is die swakste keuse. Sy het nie oortuig as minister nie en sy het nie legitimiteit binne die breë kringe van die ANC nie, maar Ramaphosa het byna nog nie ʼn voet verkeerd gesit sedert hy die amp as adjunkpresident beklee nie. Die albatrosse om sy nek is egter die gebeure by Marikana, sy verbintenis met wit kapitaal en die feit dat hy Venda is tel ongelukkig teen hom,” het Duvenhage gesê.

Hy meen Mkhize het die beste kans om die Zoeloe-kamp binne die anti-Zuma-kamp te plaas. “Hy kwyt hom goed van sy taak en in die Zoeloe-kringe word hy as die sterkste leier naas Zuma gereken. Iemand soos die politieke wetenskaplike en Britse joernalis, RW Johnson, reken dit is reeds ʼn uitgemaakte saak dat Mkhize die opvolgstryd gaan wen.”

Hoe moet Jan Publiek, wat buite die politiek van die ANC staan, die politieke gebeure van die dag beter begryp?

Die ANC is volgens Duvenhage ʼn komplekse organisasie met verskeie vlakke wat mekaar beïnvloed. “Tans word deur die prosesse beweeg na die nasionale konferensie, wat op ʼn komplekse manier saamgestel is. Hierdie konferensie se besluite is bindend in die aanwysing van die ANC se top ses en nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat vir die volgende vyf jaar die beheerstruktuur van die party sal wees.

“Van die sowat 4 500 lede is die meeste Zoeloes, ongeveer 940 lede – dit is die stert wat tans die hond swaai. As ʼn mens die premier-, vroue- en jeugliga saam met die MK-veterane sou tel, maak dit 50% van die lede uit. Dié syfers vertel ʼn verhaal.

“Die Zuma-groep is tans besig om lede by die takke van die ANC te werf. Die takke vorm die grondslag van die ANC en 90% van die afgevaardigdes by die nasionale konferensie kom gewoonlik van die takke af. Daar is soms ook in die verlede spooktakke in Noordwes en die Vrystaat gestig, wat dan twee of meer kandidate nomineer. Hierdie soort wanpraktyke en korrupsie het ʼn reuse uitwerking op die finale uitkoms. Dit is ook hier waar Mahumapelo, Mabuza en Magashule (die premiers van die Noordwes, Mpumalanga en Vrystaat) en die KZN-bendes die meesters van die politiekspeletjie is.”

Brink beveel aan dat die publiek so wyd as moontlik lees. “Iets soos The Economist is ʼn objektiewe buitelandse bron vir goeie politieke ontleding van die dag. Plaaslike moet lesers soveel moontlik webwerwe, Sondagkoerante en dagblaaie as moontlik lees om ʼn geheelbeeld van die politiek van die dag te kry.”

Kenners is dit eens dat dit nog nie ʼn uitgemaakte saak is wie die wenner in die ANC se opvolgstryd gaan wees nie.

“Die feit bly staan dat die wenner ʼn verdeelde ANC gaan erf en daar sal vanjaar baie verdagmakery en beskuldigings tussen die onderskeie faksies wees. Die Zuma-kamp sal kwessies soos grondhervorming en radikale ekonomiese transformasie gebruik om steun te werf vir die nasionale konferensie in Desember en die anti-kamp sal hulle nie daarvoor repudieer nie. Suid-Afrika sal inteendeel nie vanjaar in ʼn betekenisvolle rigting beweeg wat beleid betref nie,” het Brink gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Theresa B ·

Ag what ever. Dis klaar besluit. Die kat-en-muis-speletjie is net vir sensasie.

Alida ·

Stuur haar terug EU toe ASSEBLIEF. Nie nog ‘n Zuma nie. Dit sal rampspoedige gevolge vir ons almal inhou.

zoom zoom ·

Is dit nie nou tyd vir ‘n Gupta as ons nuwe president
Hulle is ook geklas as swart al noem hulle himself as Indiers

snoefie ·

enigeen sal beter as die huidige Zuma wees maar asb nie weer n Zuma nie. onthou due Zulu tradisie. die vrou sal onderdanig wees. hulle is al hoe lank geskei maar sy dra steeds sy naam. nee dankie. vervang eerder met thuli madonsela.

Lance ·

Asb net nie NOG n zuma nie …die vrou kom regtig swak oor en sal net NOG en WEER n verleentheid vir SA wees. En ons almal weet sy wil haar korrupte man beskerm ….sien deur sy plannetjie

Jan maak n Plan ·

Zuma sal net toelaat dat iemand by hom oorneem wat hy verseker weet hom nie sal ondersoek en toesluit vir al sy misdade nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.