Opwindende eerste vir Statebondspele

(Cornelle Leach, Christian Sadie en Alani Ferreira. Foto: Verskaf)

Twee siggestremdes wat Suid-Afrika vanjaar by die Statebondspele verteenwoordig, is opgewonde om deel van die geskiedenis te wees.

Dit is die eerste keer sedert die Spele in 1930 begin het dat siggestremdes toegelaat word om aan swemitems deel te neem.

Cornelle Leach (23) en Alani Ferreira (24) neem Saterdag aan die 50 m‑vryslag (S13) deel en is saam met Christian Sadie (23), nóg ʼn gestremde atleet van Suid-Afrika, tans hard aan die oefen in Birmingham. Die byeenkoms het Vrydag afgeskop.

“Ons is soos ʼn klein familie, ons is almal op een of ander manier gestremd, en ons verstaan mekaar net eenvoudig,” vertel Cornelle Leach in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Leach en Ferreira is albei met Stargardt se siekte gediagnoseer.

( Alani Ferreira en Cornelle Leach. Foto: Verskaf)

“Ons kyk na mekaar, jy weet,” skerts Leach, “ek en Alani is albei siggestremd, ons het dieselfde kondisie. Ek was so dankbaar toe haar pad drie jaar gelede met myne gekruis het; ek het uiteindelik iemand ontmoet wat regtig verstaan waardeur ek gaan en dieselfde belangstellings as ek het.”

Leach vertel dat sy nie haar ore kon glo toe sy vanjaar vir die span gekies is nie. “Hulle vat net die beste agt swemmers uit 72 lande, en dit is slegs vir die S13‑kategorie. Ek swem eintlik in die S12‑kategorie, wat beteken dat ek Saterdag teen mense gaan swem wat heelwat beter as ek kan sien.”

Vir Leach is dit die belangrikste om haar persoonlike beste tyd te verbeter. “Ons is deel van geskiedenis; ons is die eerste siggestremdes om ooit aan die Statebondspele deel te neem. Selfs al kry ek nie ʼn medalje in my item nie, voel dit of ek gewen het deur net hier te kan wees,” sê Leach trots.

Om te swem as jy siggestremd is, is nie maklik nie. “Daar is merkers op die vloer om aan te dui hoe ver jy al geswem het, maar jy kan regtig nie sien of dit die 15 m‑ of 25 m‑merk is nie, so jy swem net een spoed – volspoed – en hoop maar vir die beste.”

Sy sê daar is nie baie groot sportbyeenkomste waarvan siggestremdes deel kan wees nie. “Ek droom nog nie lank om deel van hierdie byeenkoms te wees nie, want voor dié jaar was dit nie vir ons moontlik gewees nie.”

Christian Sadie (S7, 100 m-borsslag en 50 m-vryslag)

Oor Sadie sê Leach: “Christian is soos ons boetie, hy loop saam met ons om seker te maak ons verdwaal nie, hy lees die spyskaarte vir ons.”

Sadie ly aan radiale displasie, ook bekend as radiale klubhand. Dit is ’n seldsame aangebore toestand waar die radiusbeen in die voorarm nie behoorlik vorm nie. RLD veroorsaak dat die aangetaste hand na binne buig, dikwels met beperkte beweging.

Hy het al aan die Statebondspele deelgeneem en ook Suid-Afrika verlede jaar by die Paralimpiese Spele in Tokio verteenwoordig. Vanjaar het hy die eer gehad om die landsvlag tydens die openingseremonie saam met die Protea‑netbalkaptein Bongi Msomi te dra.

“Dit is regtig ʼn belewenis om in die middel van die stadion te staan met die vuurwerke wat om jou afgaan. Jy voel die gees, die trots,” sê Sadie oor sy rol as vlagdraer tydens ʼn onderhoud met Maroela Media.

(Christian Sadie in aksie. Foto: Facebook)

Sadie vertel dat swem aanvanklik vir hom as ʼn stokperdjie begin het. “Ek moes aan ʼn manier dink om my bolyf sterker te kry.

“Dit is natuurlik vir my ʼn uitdaging om aan die sport deel te neem; ʼn sterk bolyf is een van die belangrikste vereistes vir hierdie sportsoort.”

Hy het swem en ander aktiwiteite soos fietsry, tromspeel en klavierspeel aangepak om sy bolyf te help versterk en koördinasie te verbeter, maar dit was swem wat hom bygebly het.

“Ek oefen ses dae ʼn week, waarvan drie dae in die gimnasium is.

“Ek sal nie sê ek is sportief nie, net mededingend. Ek dink nie ek is van nature goed in enige iets nie, ek is net ’n persoon wat baie oefen. Ek hou daarvan om sport te beoefen. Jy kry soveel testosteroon en endorfiene, en die adrenalien is verslawend.”

Sadie vertel dat hy en sy afrigters die afgelope jaar reeds op hierdie byeenkoms fokus.

Hy verteenwoordig Suid-Afrika Sondag in die 100 m‑borsslag en Maandag in die 50 m‑vryslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elizabeth ·

Sterkte aan julle! Ons is trots op julle! Bring die medaljes huistoe. ♥️♥️

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.