OR Tambo-‘bomdreigement’ nié deel van oefening

Argieffoto

Die OR Tambo Internasionale Lughawe het Maandagmiddag sy bedrywighede voorgesit ná twee vlakke by die lughawe vroeër ontruim is weens ʼn moontlike bomdreigement.

Dit volg nadat ontruimings plaasgevind het sodat die polisie ondersoek kan instel na ʼn verdagte tas wat glo by Terminaal A gestaan het.

Leigh Gunkel-Keuler, woordvoerder van die OR Tambo-lughawe, het gesê die polisie het bevestiging gegee dat die situasie by die lughawe veilig is en dat bedrywighede soos gewoon kan voortgaan.

Gunkel-Keuler sê die ontruiming was deel van die lughawe se protokol in noodsituasies. Volgens haar mag sommige vlugte moontlik vertraag word. “Die lughawe sal ongelukkig nie onmiddellik kan bevestig watter vlugte vertraag sal word nie omdat ons bevestiging van die lugredery sal moet ontvang. As daar dus vertragings is, sal die lughawe dit aan die publiek kommunikeer.”

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie se honde-eenheid was na Terminaal A ontplooi om die tas te ondersoek. “Die honde is na die toneel geneem om vas te stel of daar plofmiddels in die tas was, maar die honde het negatief gereageer. Die tas is toe onder beheerde omstandighede geopen sonder enige voorvalle,” sê sy.

Mogale het gesê die voorval vorm nie deel van die oefening wat eers Maandagaand in Kempton Park plaasvind nie.

Sy het ook gesê die polisie dra nie kennis van gerugte dat daar ʼn onploffing of ʼn brand by die lughawe was nie.

Die lughawe het Maandag reisigers gemaan om nié hul bagasie sonder toesig in die lughawegebou te laat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel swartbrand ·

Belaglik en n skande dat daar mense in ons samelewing is wat so iets doen.

Rln ·

En ek wou later in die jaar n week of wat in S.A. kom kuier het, nee wat netnou is daar n bom as ek land in OR Tambo Lughawe. Nou skoon afgeskrik.

louise ·

Ag siestog! Bly asb by jou huis. Moenie jou kinders skool toe stuur nie WAT AS ‘n ander leerling wild en wakker begin skiet. Kafee toe stap is ook uit WAT AS iemand besluit dis tyd om met ‘n voertuig tussen voetgangers in te ploeg ens. ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.