OR Tambo maak plan met ‘geraas’ by lughawe

Argieffoto

Die OR Tambo Internasionale Lughawe sal vanaf Woensdag ʼn ongewone nuwe maatreël instel om geraasvlakke by die lughawe aan te raak.

Leigh Gunkel-Keuler, woordvoerder vir die lughawe, het gesê vanaf 15 November sal alle mikrofone by die terminaal en hekke vir binnelandse vlugte afgeskakel word. Dit beteken passasiers sal nie meer oor mikrofone geroep word om hulle by die instaphekke aan te meld nie, maar moet op hul instapkaarte of die inligtingsborde kyk om hulle van die instaptye te vergewis.

Volgens Gunkel-Keuler sal daar slegs afkondigings gemaak word vir onreëlmatige bedrywighede soos die verandering van instaphekke of vlugtye, stelselprobleme, veiligheidskwessies of passasierprobleme soos kinders wat verlore raak.

“Ons het opgemerk ʼn voortdurende probleem wat in ons onafhanklike kliënte-meningspeilings opduik, is die geraasvlakke by lughawens. ʼn Spesifieke beswaar van kliënte is die aantal en frekwensie van afkondigings vir passasiers om hulle by instaphekke aan te meld of vir individuele passasiers wat hulle by lughawe-toonbanke aanmeld vir hul vlugte, maar dan skynbaar net verdwyn.”

Sy het gesê verskeie internasionale lughawens het ʼn “stil lughawe-beleid” aangeneem in ʼn poging om die atmosfeer by die lughawe te verbeter. “Ons is daarop gefokus om passasiers die bes moontlike ervaring te bied en hierdie besluit vorm deel daarvan om aan passasiers se verwagtinge te voldoen.”

Gunkel-Keuler het passasiers herinner dat hulle hul vir die meeste binnelandse vlugte 30 minute voor hul geskeduleerde vlugtyd by die instaphekke moet aanmeld om aan boord die vliegtuig te gaan. “Ons vertrou dat passasiers waaksaam sal wees en bewus van hul persoonlike verantwoordelikheid om betyds by die betrokke instaphek te wees om aan boord die vliegtuig te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Baie gepas. Die meeste van ons wat nie geld het nie is ook maar liefs doodstil.

Johann ·

Ja wel nou moet die “beampte” wat die mikrofoon wel gryp asb in n verstaanbare taal en aksent, duidelik praat? Want Engels is die klanke wat gepleeg word beslis nie!

wielie ·

Wil hulle dit nie ook by winkel sentrums instel nie?? ” stil winkel beleid”

Linda ·

Kan hulle nie maar eerder kindertjies onder 10 in winkelsentrums verbied nie? Dis deesdae die algemene speelplek vir kinders! Hardloop en skree en ma en pa doen niks.

JMC ·

Maar Linda van Winkel, weet jy nie die ouers mag niks doen nie.

Annatjie Rousseau ·

Jammer om te moet sê… daar sal nóóít stilte op OR Tambo of in winkelsentrums wees nie… nie solank mense oor ‘n afstand van 50m ‘n volskaalse gesprek met mekaar voer nie! Dít is die grootste geraas!!

Alida ·

Dit is beter so want mens kan in elkgeval nie hoor of verstaan wat hulle probeer sê nie. Mens hoor nie eers watter taal dit is wat hulle probeer praat nie.

Von ·

Lekker gesmile vir die ene vanmiddag want die Stil – beleid wens ek kan ook ingestel word saans as ek moeg van die werk af kom. As daar n wet is teen pakslae tuis vir kinders, bring die Stil – beleid ook in asb . . . n uur of 2 kan doen! lol

Deon ·

Dankie tog!! Ek wou verlede week ‘n oproep maak by Thambo!!! Die aanhoudende geskree oor die mikrofoon het my gedaan gehad

Steven ·

Net in Suid Afrika klink die aankondigngs so: ‘n skril geskel in ‘n tipe engels wat niemand kan verstaan nie. Op enige ander internationale lughawe, is dit ‘n plesier om na die( verstaanbare) aankodings te luister

Belaglik ·

Dis belaglik, natuurlik moet daar aankondigings gedoen word . bly dan weg van die lughawe af as jy nie wil aankondigings hoor nie . kan nie glo mense kla oor sulke strooi nie .. Kry net iemand wat ordentlik engels kan praat en nie klink asof ‘n plaat agterstevoor vashaak nie, en die probleem is op ‘n einde .. Dit gaan oor of jy iets professioneel kan doen of soos alles in SA dit opmors .. doen dit ordentlik en dit sal nie as ‘n geraas beskryf word nie!

Ruby ·

Aankondigings is een ding maar liewe land, dit klink of die aankondiger ‘n operaster wil wees.

Kalmeer bietjie die werkers self, die lawaai kom van hulle af en nie die passasiers nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.