OR Tambo-rooftog: Beskuldigde het gejok, sê staat

Argieffoto

Die staat en verdediging het Donderdag hul sake afgesluit in die borgtogaansoek van een van die mans wat daarvan beskuldig word dat hy verlede maand betrokke was by die rooftog by OR Tambo Internasionale Lughawe.

Prince Dube (43) was vermoedelik deel van ʼn bende wat daarvan verdink word dat hulle R20,7 miljoen by die lughawe gesteel het. Dube staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede en hy kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.

Adv. Oscar Machevele, vir Dube, het aan die landdroshof in Kempton Park gesê sy kliënt verdien om op borgtog vrygelaat te word. Hy het gesê Dube was eerlik oor sy vorige skuldigbevindings, waaronder bedrog waarvoor hy beboet is. “Hy wil sy onskuld bewys, hy sal nie probeer om sy hofsaak te ontduik nie.”

Machevele het gesê Dube kan borgtog van R5 000 betaal met streng borgtogvoorwaardes.

Staatsaanklaer Jacob Serepo het egter aangevoer die staat het ʼn sterk saak, aangesien geld by Dube se meisie gevind is. Serepo het aan die hof gesê SBV vervoer geld en daar is geen inligting dat Dube vroeër vir die maatskappy gewerk het nie.

“Geloofwaardigheid is baie belangrik in hierdie tipe aansoek. Die beskuldigde het vir die hof gelieg. Hy het gesê hy kan R30 000 borgtog betaal, maar nou sê hy hy kan slegs R5 000 betaal – die hof wou selfs by hom weet wat van die R25 000 geword het,” het Serepo verduidelik. “Die hof het hom gevra of hy R400 000 per maand verdien en hy het ingestem, maar vandag het hy gesê hy was verward en hy het per jaar bedoel.”

Hy het gesê SAID-dokumente bewys dat Dube nie belasting betaal nie en hy kan na enige ander provinsie verhuis sonder om opgespoor te word. “Daar is ook ʼn probleem met sy burgerskap. Die dokument sê hy is ʼn Zimbabwiër, maar hy ontken dit natuurlik.”

Serepo het vroeër ʼn bykomende beëdigde verklaring deur die ondersoekbeampte kol. Mabina Mahlangu ingedien met inligting van die misdaadrekordsentrum. Die verklaring sê Dube het 14 name, vyf vanne, ses geboortedatums en vier vorige skuldigbevindings.

Serepo het gesê die verdagtes wat vrygelaat is en teen wie klagtes laat vaar is, is weens verskillende tegniese punte.

Die saak is tot Vrydag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blommie ·

Hoop SARS neem kennis – hoeveel geld word so weerhou van SARS? Ons moet hoes en betaal – belasting, elektrisiteit, verblyf, sekuriteit ….
Ons tjop af en kriminele rol in geld, vermy SARS … Darem lekker in Afrika! Hopelik het die Meneer nou geleer gierigheid en gulsigheid bewerk jou ondergang!

Alwyna Holtzhausen ·

Die blinde sambok…eendag draai die wiel. Skelms dink altyd hulle kom weg…tot op n dag!

Manie ·

Wat soek die Zimbabwiers hier. Dit gaan dan so goed daar na al die grond gesteel is volgens Malema

Peet ·

Wat ‘n verligting dat sy oortredings minder is as sy vanne…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.