Orania-boer kritiek ná motorongeluk

Die ongeluk het Sondag kort na 17:00 op pad na Orania gebeur. (Foto: Joost Strydom)

ʼn Noord-Kaapse boer is in ʼn kritieke toestand nadat hy Sondag kort na 17:00 op pad na Orania teen ʼn vragmotor gebots het.

Die 68-jarige Dissie Kruger boer net buite Orania. Hy het veelvuldige beserings opgedoen in die ongeluk wat sowat 26 km buite Orania, op die R369, plaasgevind het.

Dit is onduidelik presies wat die oorsaak van die ongeluk was.

Volgens Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, was Kruger in die wrak van sy Land Cruiser vasgekeer. Nooddienswerkers en paramedici van Orania, paramedici uit Hopetown, boere in die omgewing asook die polisie en inwoners van Orania het saamgewerk om Kruger uit die wrak te bevry.

“Lewenskake is gebruik om die voertuig se dak en die kajuit oop te sny. Dit was ʼn gesamentlike poging tussen die noodreddingsdiens, Rocket Hems en verskeie ander nooddienswerkers van Orania en Hopetown,” het Strydom gesê.

ʼn Helikopter het op die pad naby die ongelukstoneel geland en nadat Kruger op die toneel gestabiliseer is, is hy met die lugambulans na die Mediclinic Gariep vervoer.

Een van Kruger se niere is geperforeer, van sy ribbebene is aan weerskante gebreek en een van sy skouers moet plate kry. Een van sy arms is ook op twee plekke gebreek en een van sy heupe is uit sy potjie.

Denise Coetzee, woordvoerder van die Mediclinic Gariep, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Kruger word tans in die intensiewesorgeenheid behandel.

“Hy is aan ʼn ventilator gekoppel en is in ʼn stabiele dog ernstige toestand,” het Coetzee gesê.

Die vragmotorbestuurder is glo ongedeerd.

Die lugambulans het op die provinsiale pad geland. (Foto: Joost Strydom)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Sterkte aan die beseerde en sy gesin. Ons het daardie pad so ‘n jaar gelede gery, en ongelukkig moet ek sê die padoppervlak is baie, baie swak. Na my mening is dit die grootste negatiewe faktor ten opsigte van Orania, naamlik dat die paaie daarheen in so ‘n swak toestand is. Die een na Hopetown (N12) is effens beter.

Chuck ·

Die toestand van hierdie pad het werklik niks met hierdie ongeluk te make nie. As ‘n vragmotor buite beheer raak , en skielik aan die verkeerde kant van die pad voor mens opdoem, selfs teen relatiewe lae snelheid, staan geen kleiner voertuig ‘n kans nie. Kyk na die bygaande foto’s. Sterkte Dissie , jy bly in ons gebede!

Danie ·

Al meer vragmotors gebruik die pad as n ompad aangesien die hoofpaaie in so n slegte toestand is.
En waar hierdie jaende vragmotors in hul honderde voorkom is altyd moeilikheid.
Ek haal my hoed af vir die reddingspanne en ook die helikopter bemanning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.