Orania dalk gou ook studentedorp

Studente aan die Bo-Karoo Opleidingsentrum. (Foto: Facebook)

Die droom van ’n studentedorp in die Bo-Karoo blyk ál meer ’n moontlikheid te word namate ál meer studente hulle in Orania vestig en bekwaam in boerderybestuur-, tuisversorging-, elektries-, loodgieter- en bou en siviele konstruksie-kwalifikasies.

Altesaam 108 studente het vanjaar ingeskryf om hul studentejare by die Bo-Karoo Opleidingsentrum (BKO) onder die inheemse wag-’n-bietjie-, doring- en kareebome van Orania aan die oewer van die Oranjerivier deur te bring.

Die opleidingsentrum is in 2016 op die been gebring danksy die dorp se vinnige vooruitgang en bied studente “’n vry en gesonde studentelewe binne hul geloof- en kulturele oortuigings wat jy op geen ander plek in die wêreld kan ervaar nie,” aldus Paul Vogel.

Vogel, voorheen bedryfshoof van Akademia, is pas aangestel as die nuwe uitvoerende hoof van die BKO en sal vanjaar fokus op die verdere uitbou van die BKO.

’n Tussentydse kampus en nuwe koshuise word vir die opleidingsentrum beplan terwyl daar vanjaar hard gewerk sal word om die opleidingsentrum se aanbod vir verdere opleiding uit te brei.

Studente aan die Bo-Karoo Opleidingsentrum. (Foto: Facebook)

Carla Loots, bemarker van BKO, sê die bestaande bouers en vakmanne op die dorp kon voor die stig van die opleidingsentrum nie byhou met die vraag na nuwe huise en ondernemings in Orania nie en daar is besluit om vakmanne deeltyds in boukunde op te lei.

Orania se bevolking het die afgelope sewe jaar jaarliks met 10% toegeneem. Die gemeenskap het in 2021 met ’n indrukwekkende 15% gegroei en in 2020 het die bevolking van Orania met 16,5% toegeneem.

In 2017 het die BKO opleiding in elektriese werk en loodgieterswerk begin aanbied toe die vraag na dié dienste in die omgewing al hoe groter geword het. “Dít is wat BKO uniek maak,” meen Loots.

“Ons kyk na ons dorp en omliggende omgewing se aanvraag in die arbeidsmag om sodoende die opgeleide mense in ons gemeenskap werksaam te maak.”

Daar word blommetjies gevou by die Bo-Karoo Opleidingsentrum. (Foto: Facebook)

Die BKO het teen 2019 begin om studente voltyds op te lei. “Ons het begin met een kursus en vyf studente,” onthou Loots.

Toe kry die BKO in sy tweede jaar nóg 38 studente by. Daar is in daardie jaar ook drie nuwe kursusse tot die aanbod bygevoeg en ’n koshuis is geopen.

Teen 2021 het die BKO 83 studente gehad. Opleiding in tuisversorging is daardie jaar tot die aanbod bygevoeg en boerderybestuur het verlede jaar gevolg.

Die opleidingsentrum het verlede jaar 88 studente gehad.

Studente aan die Bo-Karoo Opleidingsentrum. (Foto: Facebook)

Sowat 95% van die BKO se studente word in diens geneem in hul opleidingsveld met die kwalifikasie wat hulle by BKO verwerf het. “Ons studente pak nie net die vraag na kundiges op die dorp aan nadat hulle aan BKO studeer het nie, maar bring ook ’n ander energie na die dorp en gemeenskap,” sê Vogel.

Waarom BKO?

Vogel het vandeesweek aan Maroela Media gesê die enorme potensiaal wat die BKO inhou, het hom eindelik laat besluit om die groot taak as uitvoerende hoof op te neem.

“Die omgewing waarin ek self studeer het, raak ál kleiner en minder. Ons het nou die geleentheid om studente ’n studentelewe te bied waar hulle vry in ’n hele dorp kan beweeg en waar die gemeenskap betrokke is en saam die student opvoed.

Studente aan die Bo-Karoo Opleidingsentrum. (Foto: Facebook)

“Ons kan aan studente ’n plattelandse gevoel bied waarin hulle hulself kan uitleef.

“Die uitdaging is nou om BKO na die volgende fase te neem.”

Maroela Media het verlede jaar berig Orania se dorpsraad beplan om binnekort sy stadsontwikkelingsplan bekend te stel en is reeds in gesprek met onafhanklike stadsbeplanners.

“Ons wil graag ’n moderne Afrikanerstad bou waar ons steeds ons Afrikanerwaardes kan uitleef. Ons praat hier van ’n plattelandse, vriendelike en veilige stad,” sê Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Weens die diskriminasie teen huidige benaadeelde kinders is dit seker die enigste uitweg,ek weet nie of Orania onafhanklik is of net ‘n groot plaas in sa is wat onder ANC reëls en regulasies val nie.

Madz ·

Dis regtig wonderlike nuus! Ek wens uit die diepte van my HART dat ek my kind(ers) DIE geleentheid kon skenk om in so ‘n omgewing hul tersiêre opleiding te kon ontvang! Vir die wat dit voor moontlik is: Tel jou sëeninge! Julle is baie bevoorreg!

Veronika ·

Dit is fantasies!! Presies waarheen ons my kleinkinders gaan stuur om te swot!! Bravo Orania!! Sal nie omgee om self daar te kon bly nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.