Orania se ora word gedigitaliseer

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep. Foto: Forum Nuus

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, het Donderdag meer lig gewerp op ’n “eksperiment” waarby hy betrokke is met die digitalisering van die ora, die geldeenheid van Orania.

Roodt is besig met navorsing om te bepaal wat die impak van die digitalisering gaan wees. Een van die vrae wat onder meer beantwoord moet word, is of meer mense in die toekoms die ora sal gebruik. Die ora is ’n voorbeeld van private geld wat op ’n koopbewysbeginsel werk.

Roodt het verduidelik dat die digitalisering van die ora, of enige ander geldeenheid, daarop neerkom dat jy self of elektronies geld aan die bank gee wat in ruil daarvoor geld op ’n app op jou foon plaas. Kortliks beteken dit dat jou selfoon jou beursie word. Daar is geen verskil tussen dié geld en fisieke ora’s nie. Wat wel verskil, is hoe mense dit gebruik. Wanneer met ora’s betaal word, is twee of meer mense self by die transaksie betrokke. Met digitale ora’s hoef mense nie fisiek bymekaar te wees nie en kan hulle die geld elektronies vir mekaar stuur.

James Kemp, woordvoerder van die Orania Beweging, en Meyer le Roux, baasbrein agter die Buffelsfontein Baard-olie-handelsmerk, met ’n Ora wat le Roux se restaurant in Pretoria ook in die toekoms sal aanvaar. Foto: Forum Nuus

Die ora gebruik die randwaarde. Dus vir elke rand wat jy inruil, kry jy een ora van die bank. Die voordeel wat daar vir die gemeenskap van Orania is, is dat hulle rente op hul rande kan verdien wat die dorp se ekonomie sterker maak.

Roodt het beklemtoon dat die digitalisering van die ora bloot ’n eksperiment is om te bepaal of die gebruik daarvan kan uitbrei en meer mense, ook buite Orania, daarvan sal gebruik maak.

Roodt het ook na die verskynsel van Bitcoin verwys wat volgens hom geen belegging is nie omdat dit nie deur ’n bank gaan nie. Hy voorspel wel enorme ekonomiese veranderinge in die toekoms met die veranderinge wat tegnologie gaan meebring. Hy meen dit kan selfs die einde van banke beteken en dat belastingstelsels in die wêreld kan verander. Dit gaan moeiliker wees om mense te belas wat gaan beteken regerings gaan al hoe minder geld kry. Die mag gaan na die hande van individue verskuif met groter vryheid vir hulle.

Carel Boshoff IV, president van die Orania Beweging. Foto: Forum Nuus

Carel Boshoff IV, president van die Orania Beweging, het ’n oorsig gegee oor hoe die dorp die afgelope 20 jaar ontwikkel en gegroei het. Daar is tans sowat 1 500 inwoners en meer as 100 ondernemings.

Hy het gesê Orania is veel meer as net ’n dorp. Dit is ook ’n beweging wat gelei word deur die Orania-gedagte.

Hy het na die realiteite in Suid-Afrika verwys en gesê Orania is ’n gemeenskap binne die groter gemeenskap. Orania maak nie aanspraak op enigiets wat hy nie vir ander gun nie. Orania se politieke denke is gebou op erkenning.

Orania is gebou op die beginsel van selfstandigheid en nie onderhorigheid nie.

Boshoff het verwys na die posisie waarbinne Afrikaners hul tans as minderheid bevind wat nie gunstig is nie. Daarom word Orania as ’n simboliese verwysingspunt gesien waar ʼn konsentrasie van Afrikaners moontlik is. Terwyl baie die toekoms tans as ’n donker plek beleef, is die mense in Orania en dié wat in die gedagte glo positief. Die dorp bied geleenthede en heelwat kragte kan ontsluit word. Vernuwing op alle lewensterreine is hier moontlik en dit is waarvoor mense wat in Orania glo werk.

Meyer le Roux, eienaar van die Buffelfontein Beesboerdery-restaurant, asook die Eric Barnard Meubelgroep gaan in die toekoms die ora-geldeenheid aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Fritz Deelman ·

Pragtige dorp. Goeie idee. Gesonde vesting. Maar iets skeel met daai Boshoff…

semaarnet ·

Dis nie ‘n restaurant nie. Dis olie vir jou lang baard. Joe Black gebruik dit ook.

Pieter ·

Buffelsfontein Restaurant
22, Greenlyn Village Centre, Menlo Park, Pretoria, 0181

marous ·

Waar is die verligtes wat na ORANIA as verkramp verwys het?

jaco ·

daar bly skaars 1200 mense in Orania. so hulle gedigitaliseerde geldeenheid kan nie n reuse positiewe inspuiting vir die SA ekonomie wees nie.
toe Orania in 1991 gestig is, was daar skaars 60 mense byeen, alhoewel amper 1 miljoen mense in 1992 NEE gestem het vir FW de Klerk se onderhandeling met die ANC. Die dag wat Orania gestig is, het wyle prof. Carel Boshoff gehoop Orania sou na 20 jaar 60 duisend inwoners hê. Vandag, na 26 jaar, bly daar skaars 1200.
Van die amper 1 miljoen nee-stemmers in 1994, het net 425 000 in 1994 vir die Vryheidfront gestem. En vandag staan die getal kiesers vir die VF-Plus op omtrent 160 000.
So van Afrikaner-selfbeskikking het maar min gekom. Ons kon dit onder die ou NP-bewind reeds met hulle onderhandel het. Ons het tog toe reeds geweet wat kom: Angola, Mosambiek, Kenia, Zambië ens ens was reeds grootskaalse mislukkings, so hoe dan dat selfs konserwatiewe Afrikaners (al die nee-stemmers), dan gedink het dat dinge anders vir ons sou uitwerk SONDER om daadwerklik ons vir n volkstaat te beywer?
Mense wat deesdae so gedurig die vinger na FW de Klerk en al die ja-stemmers wys, moet my kommentaar goed lees en ook kyk na my syfers: die gevolgtrekking is duidelik: Ons eie mense help lekker aan om ons eie graf te grawe

Attie No1 ·

Skuus wil jou net reghelp. Daar bly skaars net oor die 1500 mense. Daar het n paar jaar terug skaars oor die 1200 mense daar gewoon, en oor n paar jaar sal daar skaars 2000 mense bly. Maar ja gaan dan nou maar voort.

Pieter ·

Jaco,
Om as ‘n JA-stemmer ‘n vinger na die NEE-stemmers te wys is dieselfde as om te se dat ek het ons familieplaas weggegee sonder julle toestemming maar ons moet nou raamwerk om dinge reg te maak. Niks wat jy nou doen kan ooit weer die familieplaas terugbring nie. ‘n Ander voorbeeld is die man wat sy pa doodskiet en dan verwag dat sy broers en susters hom vergewe want dit was op die tyd die regte ding om te doen. Niks wat jy doen kan die pa terugbring nie. Die NEE-stemmers was 100% in die kol want dit wat dr. Treurnicht en Terblanche teen gewaarsku het, het net so gebeur en nog erger, hoe kon julle JA-stemmers dit nie insien nie?

Pieter ·

Jaco,
Ek moet darem byvoeg dat daar baie bitter min JA-stemmers is wat bereid is om dit te erken, eintlik is ‘n JA-stemmer baie skaars.

jaco ·

1500 mense tans in Orania is VER vanaf:
-die amper 1 miljoen nee stemmers, wat vanaf 1994 met elke verkiesing DRASTIES MINDER geword het tot by die huidige skaars 160 000 stemme vir die VF-Plus
-die 160 000 wat darem tans nog vir die VF-Plus stem.
-naby prof Carel Boshoff se hoop van 60 000 in Orania na 20 jaar
Waars die res van die amper 1 miljoen nee stemmers van 1992? Dis onmoontlik om te glo dat hulle almal dood is of almal in die buiteland is of dat hulle en hulle kinders almal na 1994 skielik “die lig” gesien het en vir die DA begin stem het.
As die Vryheidsfront 1 miljoen stemme in 1994 gekry het en nie skaars 425 000 nie, was dit 5% van die stemme en ‘n gewaarborgde kabinetspos vir hulle leier. Mandela het self gesê dat, as hulle darem 5% van die stemme kry, hy definitief die haalbaarheid van n volkstaat sal laat ondersoek. Maar toe bly meer as die helfte van die 1 miljoen mos weg. so asof hulle “rol” in SA nou klaar is omdat daar nie meer n wit regering is nie. Ek het in regse kringe beweeg. Ek weet wat vir my gesê is. Hierdie apatie is feite.
Ons eie mense se apatie en gebrek aan belangstelling help baie mooi aan om ons eie ondergang te bewerkstellig.
En terloops, ek het in 1992 NEE gestem dink en stem nog steeds vandag in daardie rigting.

Adam ·

Ek is so sat vir die JA en NEE stem storie. Hoe lank gaan dit julle neem om te besef dat beide opsies verloor-opsies was. Daar is net mooi geen manier wat ‘n minder as 10% minderheid ‘n meerderheid van meer as 90% tot in ewigheid kan oorheers nie. Indien jy sukkel om dit te verstaan, raadpleeg ‘n aktuaris en ek glo jou kan sal heelwat minder wees as om die lotto te wen.

Nouja ·

Jaco, vir wie is jy nou eintlik kwaad? Die ja stemmers of die nee stemmers of dalk vir jouself? Terloops, wat dink jy van die digitale Ora ou maat of is dit te dik vir ‘n daalder?

DeonC ·

Waar kon ons meer inligting kry oor die Ora eksperiment en belegging. Dis n goeie idee wat hopenlik ook in praktyk gaan werk. Dis tyd dat ons weer begin groot dink en iets kry waarop n mens weer trots kan wees.

Naomi ·

As die gesprek nou ook oor die JA en NEE stemmery gaan, lees gerus:
Prediker 10:2-3 (1933 vertaling)
:2 Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van die dwase is na links.
:3 Ja, ook as die dwaas op die weg wandel, ontbreek sy verstand; en hy sê aan elkeen dat hy n dwaas is.

buo ·

Waarom die Ora koppel aan die Rand wat nie veel werd is nie?Orania sal nie vinnig in populasie groei nie want daar word die arm witman nog meer onderdruk. Wat is die lewenskostes en minimum salaris in Orania?

Stofskoen ·

Ek stem saam.

Dit is nie ‘n goeie idee om dit aan die rnd te koppel nie.

Hulle moet die Ora vrystel op Bitcointalk soos al die ander digitale geld eenhede waar dit gekoppel is aan BTC, die USD en die EUR.

Dit moet bemark word vir internationale gebruik en sal dan sterker as die Rand word.

Ander Suid Afrikaanse digitale geld ontwikkelaars het dit reeds so gedoen en is baie suksesvol bv. Monero en Dimcoin

FM ·

Dis malligheid om vir die saak te stem en dan te vrek van die honger. Ons moet ons laat geld waar ons woon deur met die regte gesindheid met mense om te gaan. Almal kan nie in Orania gaan bly nie.Oraniërs sal nog steeds onder die beheer van die nasionale regering wees. n Mens kan jou nie losmaak van die werklikheid nie. Hoe meer mense in Orania gaan bly hoe meer sal die hardkoppigheid na vore kom. Jy kry Afrikaners wat mekaar sal uitroei vir n voortbestaan, familie of nie. Ons moet n verskil maak waar ons bly. Vlug sal net n tydelike oplossing bring want om te vlug is nie die realiteit nie.Voorspoed vir die wat in Orania bly. Hou aan en bewys my verkeerd en ek sal die eerste een wees wat sal erken dat my standpunt hierbo verkeerd was en ek sal die gevolge self dra.

rassie ·

Die artikel handel oor die Ora en ‘n Afrikaner poging tot beterskap. Ek wens hulle daarmee sukses toe.

Nou gaan die gesprek ook oor wedersydse verwyt tussen JA en NEE stemmers, ‘n kwart eeu gelede in 1992.

Die twee (of al amper drie) Afrikaner generasies wat sedert 1975 gebore is en waarvan die oudstes nou al 42 jaar oud is kon nie JA of NEE stem nie. Die geslagte wat dus met mekaar oor JA en Nee kan baklei is dus reeds by die middeljarigheidsmerk verby, of het reeds al menslike rakleeftyd bereik of is reeds oorlede.

Wie ookal van hierdie oorlewende middeljariges en bejaardes nou die bekgeveg gaan wen oor wie toe reg of verkeerd was, gaan niks aan die saligheid van die generasies wat nou self al middeljarigheid bereik het en almal wat nog jonger is, doen nie. Dit help nie ons kinders en kleinkinders en die derde geslag wat noual begin kop uitsteek vorentoe nie.

Kleinerwordende Afrikanergetalle is ‘n feit. Moontlik moet die oorblywendes van ons wat ons as sodanig identifiseer ophou verwyt en baklei en mooi na al die wettige Afrikaner planne wat tans bestaan kyk en dan rustig met mekaar oor die haalbaarheid al dan nie daarvan praat. So kan ons moontlik by iets uitkom wat onder bestaande omstandighede prakties en wettig implementeerbaar is en dan saam ons gewig agter so ‘n plan plaas.

Moontlik is dit egter ook maar net nog ‘n onwerkbare Afrikaner droom? Intussen stap die tyd aan.

Nouja ·

Ditsem Rassie. Jy slaan die spyker op die kop met jou ontbloting van die ouderdom van Orania se leunstoel kritici. Hierdie ouens kan ook as die agtergeblewenes beskou word wat eintlik niks positiefs bydra tot die gesprek nie want hul denkwyses en oplossings bly vasgevang in die verlede. Orania het hierdie lot in alle opsigte verbygesteek. Oraniers is nie links of regs in die tradisionele betekenis van die woord nie, hulle is reg voor. Hulle is ook nie konserwatief of liberaal of agterlik nie, hulle is kreatief, vindingryk en vernuwend. Hulle is nie ja stemmers of nee stemmers nie, hulle is vooruitstemmers. Die gesprek moet inderdaad gaan of die Ora aan die Rand of Bitcoin etc gekoppel moet word, nie oor generasiegapings en die uitryg van derms van die verlede nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons was ‘n paar keer in Orania en uiters bedindruk met wat hul doer ver van ons af vermag het. Die rede waarom ONS nie soontoe is nie is dat ons ons lewensbestaan slegs hier waar ons is kan beoefen. Ek ken geen gesin wat nie minstens en in meeste gevalle al hul kinders aan die buiteland moes afstaan agv hul beroepe nie. Hoe sou hul dit kon doen in Orania? Maar my ondersteuning bly steeds by die mense wat die moed gehad het om daar in die middel van nerens te gaan nesskop en ek salueer hul daarvoor.

John ·

Solank Orania versukkeld en klein bly en die ora net ‘n kredietnota van die Mandela-rand bly, sal die dorpie uitgelos word. Sodra nuwe lewe ingepomp word en wit getalle groei, sal plakkerkampe rondom verrys en politieke-kaders die teerpad vol gate skrop; ‘n lae profiel wit 4e-span is nie ‘n bedreiging nie nog aanloklik, maar wag net totdat die ‘Cherries’ die 1e-span troef, dan hoor jy die dreunende treursange en word fantome gebeeldsend oor grondeienaarskap… befonds deur die ryk prutpotte…. Hierdie is nie ‘n witdoek-depressie-aanval nie, maar ‘n versoek vir nuwe planne en raad oor hoe om volgehoue voorspoed te verseker… want verseker is jaloesie ‘n oerkwaal wat net met wet en krag teengestaan kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.