Orania volstoom na stadsbou

Afrikaner-werkers in aksie op Orania. (Foto: Du Preez de Villiers)

Orania se opbloei het die afgelope tyd talle kere die nuus gehaal, juis omdat nuus oor ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang in Suid-Afrika so skaars is. Orania wil dit nou na ʼn volgende stap neem.

Tydens ʼn kongres die afgelope week in Pretoria, het die uitvoerende bestuur van die Orania-beweging, die Orania-ontwikkelingsmaatskappy (OOM) en die Orania-dorpsraad al die pad uit die Bo-Karoo gekom om te vertel van hul planne om dié Noord-Kaapse dorp in ʼn stad te omskep.

Gerrit Jordaan, stedelike beplanner en argitek van NewUrban, is die meesterbrein agter die projek en is genooi om sy skeppingsplan met die kongres te deel. Hy sê Orania gaan ʼn uiters moderne stad word, wat beplan is om tred te hou met die jongste argitektoniese tendense wêreldwyd. “Dit lyk soos ʼn stad wat gaan realiseer; die stadsplanne gaan nie net ‘muurpapier’ word nie,” sê hy.

 

Gerrit Jordaan, argitek en stedelike ontwerper by NewUrban, het Orania so beplan dat dit vir geen wêreldstad sal terugstaan nie. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Jordaan het ʼn hele klomp stede reg oor Afrika op sy kerfstok en hy is ook ingekontrakteer om al die moeilike wiskunde te doen, planne te teken en vooruitskattings vir die stad Orania te doen.

In sy projek poog hy om aan tussen 10 000 en 14 000 inwoners ʼn moderne en uitsonderlike woonervaring te gee, sonder om die unieke karakter van Orania te verloor.

“Daar is ʼn verskil tussen stad en stedelikheid. Stad beteken nie groter nie, dit is ʼn leefwyse. Graaff-Reinet is ʼn voorbeeld van ‘n groterige dorp en het ʼn hoë vlak van stedelikheid, maar is nie ʼn groot plek nie. Hy het ʼn sterk leefomgewing en jy kan as’t ware die kultuur in die plek lees. Ons het baie gekyk hoe ons Orania gaan verdig en steeds sy karakter behou,” sê hy.

 

Daar is planne op die tafel vir ‘n moderne Orania. (Argieffoto)

 

Orania, wat oorspronklik gebou is om behuising vir die bouers van ʼn kanaalstelsel in die streek te verskaf, was as twee dorpe gebou, een vir die werkers en een vir die bestuur.

Weens die geskiedenis het dit tot fragmentasie gelei, maar Jordaan sê die stad sal nou aanmekaargeweef word deur skakels en bewegingsroetes, terwyl verdigting en ontwikkeling op ʼn geordende manier sal geskied.

Die 20-minute-buurt

Hy sê in Orania word daar nie huise gebou nie, maar tuistes. “Daar moet vir alle inkomstegroepe en hul leefomgewings se behoeftes voorsien word en die plan is dat Orania ʼn netwerk van buurte word en elke buurt sal sy eie node hê wat 20 minute se loop van inwoners se huise is. Hier sal inwoners al hul behoeftes kan vervul.”

Stadsbeplanners glo dat Orania ʼn stad vir ma’s met stootwaentjie, oumense met kieries en kinders op fietse sal wees.

 

Tans deel die R369, ‘n gevaarlike pad Orania in twee, maar volgens Gerrit Jordaan se plan gaan die verkeer stadiger gemaak word en dit die hoofstraat word, oftewel ʼn soom wat die twee dele aan mekaar sal heg. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit gaan ʼn veilige stad vir voetgangers, eerder as vir voertuie wees, anders word dit ʼn snelweg soos Los Angeles. Openbare vervoer sal ook gevestig word soos die stad digter bevolk word, terwyl private vervoer verminder.”

Om te keer dat die argitektoniese karakter van Orania verlore gaan, soos dikwels die geval wanneer dorpe of stede vinnig uitbrei, sê Jordaan streng ontwerpersriglyne sal ingestel word. “Baie mense hou nie van te veel regulasies nie, want hulle voel dit perk hulle in en verlaag die waarde van hul eiendom. Ons het egter gesien die teendeel is waar. Mense wat eiendom wil koop, wil sien dat daar streng bestuur is, want hulle wil sekerheid en ordelikheid hê waar hulle ʼn eiendom koop. Dus verhoog dit die waarde van die eiendom.

“Onthou, die buitemure van geboue word die binnemure van ‘n stad.”

Hy sê ook identiteit is ʼn belangrike kwessie van enige stad. Die oop ruimtes, pleine en parke moet so gestruktureer wees dat dit die stad se sitkamer word wat mense uitnooi om te kom kuier en waar mense die stad kan beleef.

“As openbare ruimtes verval, soos wat tans die geval in Suid-Afrika is, begin mense agter hul tuinmure wegkruip en die lemmetjiesdraad en alarms kom by. Vervreemding moet gekeer en bestuur word,” sê hy.

 

Op Orania gaan die skole se sportvelde deel van die publieke ruimte wees. (Foto: Youtube)

 

Voedsel binne bereik

Kosvoorsiening en landbou moet ook van meet af in berekening gebring word wanneer ʼn moderne stad beplan word. Jordaan sê landbougrond, wat ʼn belangrike deel van die Orania-konteks uitmaak, moet beskerm word en kan nie net, soos wat normaalweg gebeur wanneer stede uitbrei, “opgevreet” word nie. Dit sal geïntegreer word as deel van ʼn produktiewe stad.

Gawie Snyman, uitvoerende hoof van die Orania-dorpsraad, sê om so ʼn projek in werking te stel gaan nie sonder uitdagings wees nie en een van die grootstes is boukontrakteurs wat tans onder te veel werk toegegooi word. “Daar is ʼn groot behoefte aan boukontrakteurs in Orania wat gehaltehuise bou en geredelik beskikbaar is en daar is vreeslik baie geleenthede vir mense wat in die boubedryf werksaam is.”

 

Gawie Snyman, uitvoerende hoof van die Orania-dorpsraad, sê as jy bereid is om ʼn troffel op te tel is dit nou die tyd om Orania toe te gaan. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Lees Sondag op Maroela Media hoe daar beplan word om Orania van stad na ʼn selfstandige kanton te ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MrMagic ·

“Stadsbeplanners glo dat Orania ʼn stad vir ma’s met stootwaentjie, oumense met kieries en kinders op fietse sal wees.” Goeie idee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.