Oudleerders en personeel van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein treur ná die dood van ’n geliefde oudleerder.
Marizanne Strydom (20) het Donderdagoggend in ’n motorongeluk in die omgewing van Vrede in die Vrystaat omgekom. Haar ouers boer in die distrik.
Marizanne het in 2019 matrikuleer en het ten tyde van haar dood veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.
Marizanne was op skool ’n toppresteerder en het agt onderskeidings behaal. Sy was ook ’n lid van die skool se VRL (leerlingraad) en ’n kranige atleet.
Haar sussie, Michelle, het ’n jaar ná haar matrikuleer en op haar beurt agt onderskeidings ingeryg.
Medelye stroom intussen in.
Anne-Marie Klink, skoolhoof van Oranje, bestempel Marizanne as ’n “dinamiese en toegewyde leerder wat ’n ongelooflike invloed op mense gehad het.
“Net met die voorbeeld van wie sy as mens was – sy het dit absoluut uitgestraal,” sê Klink in ’n plasing op die skool se Facebookblad.
“Dit is verskriklike hartseer nuus. Ons onthou ’n sprankelende en briljante Marizanne,” het die skoolgemeenskap in reaksie op die plasing laat hoor.
“Ons het altyd gepraat oor die grootte van ’n mens se impak op ander. Ek hoop jy sien hoe groot jou impak was en altyd sal wees,” skryf ’n skoolvriendin.
Die organisasie Vet Books for Africa sê op sy beurt sy lede is gebroke ná Marizanne se dood. Marizanne was self ’n lid van dié organisasie en verantwoordelik vir sosiale media, webwerwe en fondsinsameling.
Sy word oorleef deur haar ouers Marnus en Ninon en haar sussie, Michelle.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Baie hartseer
Mag die Here Jul vertroos
Tragies, sleg vir n ouer om n kind aan die dood af te staan, innige simpatie en sterkte aan die familie.
Sy het haar hele lewe nog voor haar gehad, baie hardseer.
Lewensverwoestend vir die wat agterbly. Onverstaanbaar, onaanvaarbaar en hiper traumaties. Sterkte aan die naasbestaandes.
Hoe absoluut tragies. Mag julle spoedig berusting vind.