Oranje vaatjies wys ekonomiese herstel in Stellenbosch

In die historiese stadskern van Stellenbosch is daar deesdae ʼn nuwe toevoeging wat die aandag trek – oranje wynvate op die sypaadjies. Dit is die kenteken van ʼn projek wat enige stadsraad kan aanpak sodat plaaslike ondernemings kan herstel van die ekonomiese gevolge van die koronavirus-grendelstaat.

Die oranje vaatjies is ʼn aanduiding dat die onderneming waar hulle opgerig is, deelneem aan die inisiatief genaamd Support Stellenbosch, tot voordeel van die plaaslike verbruiker, die dorp en die sakeondernemings.

Hoe dit werk, is dat enigiemand wat met SnapScan aankope van meer as R200 by die ondernemings met die oranje vaatjies doen, outomaties die helfte van daardie geld terugkry op SnapScan, tot ʼn maksimum van R400 ter terugbetaling per transaksie.

Daardie terugbetaling kan dan, vir die duur van die veldtog, in dieselfde omstandighede weer uitgegee word by enige van die tientalle ondernemings wat deur die oranje vaatjies aandui dat hulle deelneem aan Support Stellenbosch.

Die projek word gefinansier deur onder meer plaaslike families, groot plaaslike maatskappye en die Universiteit Stellenbosch, en word onderskryf deur Wesgro (die Wes-Kaapse regering se organisasie om ekonomiese groei te stimuleer).

Die projek is ʼn reusesukses, met die omset van deelnemende ondernemings wat 20% hoër is as verlede jaar hierdie tyd (voor die koronavirus). Die aantal transaksies met SnapScan (wat terloops die geesteskind van die oud-Matie Kobus Ehlers is) het agtvoudig toegeneem.

Die burgemeester van Stellenbosch, adv. Gesie van Deventer, het aan Maroela Media gesê die gasvryheid- en toerismebedryf is twee van die munisipaliteit se grootste werkverskaffers.

“Die staat van inperking het hierdie bedrywe veral hard getref. Daarom is dit noodsaaklik om spesifiek hulle te ondersteun en weer op koers te kry, om ons ekonomie ʼn hupstoot te gee en werkgeleenthede te beskerm,” het Van Deventer gesê.

In ʼn verdere stap om die plaaslike ekonomie te stimuleer het die Stellenbosse stadsraad tydens ʼn sitting ʼn verlaging van 20% in parkeertariewe goedgekeur.

Terselfdertyd, maar in ʼn afsonderlike wending, het die Wes-Kaapse provinsiale regering ʼn bystandfonds van R27 miljoen vir informele en kleinsakeondernemings goedgekeur.

Die fonds sal slegs hulp verleen met vaste koste, verskafferskuld en bedryfskoste, het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die provinsiale LUR vir ekonomiese ontwikkeling, David Maynier, aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Puik idee!!! Kyk anc dit is hoe dit gedoen moet word!

JJB ·

Goeie idee, maar vir my uiters hartseer dat die Kaap en veral Stellenbosch nie meer in Afrikaans kan sake doen nie… Hul rangeer self aktief Afrikaans uit die publieke sfeer uit. Tragies.
Engels, Engels alles Engels…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.