Oranjerivier-kajaktog eis amper roeier se lewe

Edward John Hill en Taro Niehaus (Foto: Verskaf)

Twee mans wat die Oranjerivier op ʼn kajak aangepak het, moes talle struikelblokke oorkom en klippe uit die pad rol om eindelik hul taak klaar te maak.

Edward John Hill en Taro Niehaus het hulle vroeër vanjaar daaraan toegewy om duisende kilometers van Lesotho tot Namibië op die Oranjerivier in ʼn kajak te roei om vir Chris van Biljon se Bring Hoop‑ en Boeredroogtehulp-projek geld in te samel.

Maroela Media het vroeër berig die twee gaan vir sowat 50 dae op die Oranjerivier roei – van die begin van die rivier in Lesotho tot waar dit in die see by Oranjemund in Namibië uitmond.

Hulle dra ook die projek, Kajak vir Liefdadigheid, op aan die 19-jarige Klarissa Joubert wat in Januarie vanjaar haar lewe in dié rivier verloor het.

Edward op sy kajaktog (Foto: Verskaf)

Die projek het egter van die begin af haakplekke ondervind: paaie was gesluit, stormsterk winde het gewoed, ʼn gebreekte hand en ʼn ongeluk het ʼn week uit die projek in beslag geneem.

Slegs ʼn week voordat Hill en Niehaus op 30 Maart die pad moes vat Lesotho toe, het Niehaus sy hand gebreek, wat beteken het hy kon nie meer saamroei nie. Hill het hom nie laat keer nie en het besluit om steeds aan te gaan met die projek deur die rivier alleen aan te pak.

“Die tyd in Lesotho was nie maklik nie, daar was baie uitdagings. Baie van die paaie wat ons vooraf beplan het, kon ons nie gebruik nie, want dit het weggespoel. Baie van die beplande uitklimpunte kon ook nie bereik word nie,” sê Hill.

Hy het sekere dae tot 60 km alleen deur berge en dale geroei, wat meer was as wat hulle beplan het, om veilig by sy grondspan uit te kom.

Net nadat hulle verby Orania is, het een van sy grondspanlede die nuus gekry dat daar ʼn sterfte in die familie was, wat beteken het dat hy ook nie meer verder kon saamtoer nie. Gelukkig het ʼn vriend uit Langebaan vir Hill kom bystaan en selfs aangebied om vir vier dae saam met hom te roei sodat hy nie heeltyd alleen is nie.

Net ná die Augrabies-waterval het ʼn groot ongeluk Hill getref, wat die hele projek tot stilstand geruk het.

“Ek het daardie dag beplan om net 25 km te roei, maar die paaie en die hekke waar my grondspan my moes kom haal, was gesluit en ek het toe daardie dag amper dubbel die beplande afstand geroei om by hulle uit te kom. My liggaam kon nie meer nie,” sê hy.

Die boot waarin Edward die afgelope paar weke roei (Foto: Verskaf)

Sowat 4 km voordat hy by sy grondspan sou aansluit, het Hill ʼn keerwal teëgekom wat hy moes oorsteek.

“Ek het gedink dit was nie so hoog nie, en ek was te moeg om alles uit die bootjie te dra en oor te stap. Maar toe ek daar oor is, was daar ʼn rukwind wat my teruggedruk het onder die keerwal se water in, en toe gooi dit my uit die boot uit.

“Die maalgat reg onder die keerwal sluk my toe in en ek was vir ʼn tyd lank in en uit die water; ek het verskriklik gesukkel.”

Hill het nie in daardie stadium sy reddingsbaadjie aangehad nie, maar kon dit gelukkig gryp terwyl hy uit die boot geval het. Hy kon dit ook regkry om die reddingsbaadjie onder die water aan te trek. Dit het hom gehelp dat die maalgat hom later uitspoeg.

“Toe ek uitkom, was alles weg; my boot en my spane en alles wat in die boot was. Ek het uit die rivier geklim en na ʼn huis begin stap wat ek aan Namibië se kant kon sien.”

Daar het ʼn boer vir Hill gehelp om sy grondspan te bel en het hom vir die aand ingeneem.

Hill sê hy wou die volgende dag verder roei, maar ʼn dokter het voorgestel dat hy vir sewe dae moet rus omdat daar kommer was dat hy longontsteking kon hê.

“Ek het toe maar gerus en gelukkig het van die mense in die gebied in daardie tyd my bootjie teruggekry. Die ander goed wat ek kortgekom het, moes ek weer aanskaf.”

Hill is tans weer aan die roei van die Baken-mynnedersetting af en hy beplan om Maandag die projek klaar te maak.

“My kop is nog reg, maar my lyf is klaar. My spiere het al in die tweede week begin ingee en opgee. My groot doel was om die uitdaging klaar te maak, maak nie saak wat gebeur nie, so dis wat ek wil doen. Dit is my einddoel en dit is al wat my nou deurtrek.”

Hill sê ongelukkig het geldbydraes vir die projek nie ingekom soos hulle gehoop het nie, en dat die skenkings tans nie eens hul koste dek nie.

Hy hoop mense sal hul harte en beursies oopmaak vir hierdie goeie doel wanneer hulle sien dat hy wel die uitdaging klaargemaak het, ondanks al die struikelblokke en die kwessie dat hy amper sy lewe verloor het.

Skenkings vir die projek kan hier gemaak word, en meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Dis vir my skokkend dat die media nie hierdie projek gedek het nie. Hoekom? Is hierdie mense goor of is boere orals nie meer “eties” genoeg nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.