Oranjerivier naasvolste in dekade

Die Oranjerivier (Foto: Verskaf)

Die Oranjerivier was Dinsdag in Prieska in die Noord-Kaap die naasvolste wat dit die afgelope tien jaar was. Die rivier sal na verwagting Donderdag ook in Upington sy piek bereik. Die rivier was egter amper 40 jaar gelede veel voller.

Die Oranjerivier Landbou-unie (ORLU) – ʼn unie wat boere op die hoogte hou van die toestand langs die Oranjerivier – het die afgelope twee maande statistieke oor die styging van die rivier bymekaargemaak.

Volgens hierdie statistieke het die rivier Dinsdag in Prieska teen 3 033,94 kub. m per sekonde gevloei en ʼn hoogte van 5,835 m bereik. In 2011 het die rivier ʼn hoogtepunt van 4 733,84 kub. m per sekonde bereik. In 1974 en 1988 het die rivier onderskeidelik ʼn vloei van 7 900 en 7 350 kub. m per sekonde bereik.

By Upington het die vlak van die Oranjerivier Woensdag met 6,056 m en 2 816 kub. m per sekonde gestyg. Wilco Fourie van die ORLU sê hulle verwag dat die rivier Donderdag daar ʼn hoogtepunt kan bereik.

Die riviervloei styg sedert 10 Januarie. Dit het amper ʼn maand gelede ʼn vloei van 1 164,21 kub. m per sekonde en watervlak van 3,286 m bereik.

Volgens Fourie is die hoofoorsaak van die aanvanklike styging in Januarie hoofsaaklik water wat uit die Vaalrivierstelsel by die Oranjerivier aangesluit het. Die Oranjerivier se hoogte en vloei het toe weer afgeneem namate die Vaalrivier ook afgeneem het.

Die Oranjerivier het ‘n hoogte punt vir die jaar bereik (Foto: Len Fourie via ReënvalSA, Twitter)

Die volgende hoogtepunt is op 4 Februarie aangeteken, toe die rivier by Prieska ʼn hoogte van 5 628 m en vloei van 2 866,4 kub. m per sekonde bereik het. Teen Dinsdag (9 Februarie) het die rivier nog ʼn verdere halfmeter gestyg.

“Die laaste styging kan toegeskryf word aan bykomende water wat vanaf die Vaalrivierstelsel asook die Riet- en Modderrivier by die Oranjerivier aangesluit het.”

Intussen het die departement van water en sanitasie Donderdag die sluise van die Vaaldam oopgemaak om die watervlakke in dié oorvol dam te beheer. Die Vaaldam is tans 106% vol.

Die departement se hidroloë was genoop om vloedbeheer toe te pas om te verhoed dat die dam te erg oorloop.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, sê hoewel die aanvanklike ontleding daarop dui dat slegs drie sluise van die dam oopgemaak moet word, gaan daar heel waarskynlik vier oopgemaak word. Dit is omdat nog reën tot middel Februarie vir die Bo-Vaal-gebied voorspel word.

Die Vaaldam se sluise is Donderdag oopgemaak (Foto: Water&SanitationRSA, Twitter)

Die departement het vroeër die week lede van die publiek verseker dat die infrastruktuur van die land se groot damme nie sal ineenstort nie en ontwerp is om swaar watermassas en oorstromings te kan hanteer.

“Formele veiligheidsinspeksies word ook minstens elke vyf jaar uitgevoer,” sê Wally Ramokopa, die departement se direkteur in die eenheid vir die regulering van damveiligheid.

Die Gariepdam in die Vrystaat was teen Woensdag 112,3% vol. Wateroordragte vanaf die dam – deur die Oranje-Visrivier-tonnel – na die Algoa-watervoorsieningskema in die Oos-Kaap, is tans aan die gang. Die Algoa-watervoorsieningskema is tans amper 20% vol.

Die Grootdraaidam in Mpumalanga was teen Dinsdag 107,8% vol en die Bloemhofdam in Noordwes is 109,31% vol. Die Tzaneendam in Limpopo was Maandag 77% vol.

Die Vanderkloofdam in die Vrystaat was teen die naweek onderskeidelik 112,25% en 110,75% vol. In Mpumalanga was die Driekoppiesdam 103,9% vol en die Westoedam het ook sy 100%-kapasiteit bereik.

Maroela Media het vroeër berig besoekers van oor die land stroom na die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap om dié skouspel van kolkende, skuimende waters te aanskou. Water vloei tans meer as 2 000 kub. m per sekonde.

Verder het die kabinet ʼn bywerking ontvang oor die inwerkingstelling van ʼn seisoenale rampbestuursplan asook ʼn geïntegreerde reaksie op die tropiese sikloon Eloise en gepaardgaande reënvaltoestande.

Swaar reën, wat weens die tropiese sikloon Eloise veroorsaak is, het sedert einde Januarie in groot gedeeltes van die land verwoesting gesaai. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie is nou ontoeganklik weens reënskade. Infrastruktuur is ook aansienlik deur stormweer beskadig.

Volgens ʼn verklaring uitgereik deur die kabinet, werk die regering met gemeenskappe en nieregeringsorganisasies (NRO’s) om diegene wat hul huise tydens die swaar reën verloor het, by te staan.

Die kabinet betuig ook sy innige meegevoel met almal wat geliefdes verloor het tydens die onlangse hewige storms. Hy wens ook diegene wat tydens hierdie stormweer beseer is ʼn spoedige herstel toe.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku teen nog swaar reën en die moontlikheid van oorstromings wat in die komende dae Limpopo, Vrystaat en Noordwes sal tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Water water water, lewens water. Kan niks in die lewe doen sonder water…..dankie dankie dankie!

SomeOne ·

daar is omtrent vir alles ‘n “instant”, ongelukkig is daar nie ” instant” water nie

Francois ·

Net jammer al die gemors wat uit die strate en plakkerskampe kom spoel ook nou in die damme in

Hennie J ·

So verblydend maar so jammer dit beland in die see. Dink net: As alle langtermyn gevangenis gedwing kon word om handewerk te verrig en ons kanale vanaf die Oranje na die dorre binneland kon grawe, hoe ons land se landboupotensiaal sou verbeter, hoe ons die tronke en hulle koste sou verminder, hoe geweld sou afneem en hoe die menseregtekommissie saam met baie burgers op die straathoek vir aalmoese vra. Askies, ek mag mos droom van UTOPIA, net om vir n sekonde weg te breek van piesangland!

Sanet ·

So dankbaar om n mede-droomer hier raak te loop. Die dag wanneer ons ophou droom van hierdie UTOPIA gaan ons onself vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.