Organisasie gaan metro se kragtariewe teenstaan

Argieffoto (Pixabay)

Die elektrisiteittariefverhogings in die Jakarandastad het pas ʼn nuwe kinkel in die kabel by gekry met die burgerregte-organisasie AfriForum se besluit om enige buitensporige verhogings teen te staan.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikkoördineerder vir die groter Pretoria-Noord, het gesê die Tshwane-metro het die afgelope maand drie verskillende elektrisiteittariefverhogings vir die 2019/2020-termyn aangekondig.

“Dié tariefverhogings sluit ʼn elektrisiteitverhoging van 12% in, maar daar is nou al drie verskillende vaste heffings, onderskeidelik R56, R120 en R200, vir elektrisiteitspunte bekendgemaak. Die heffing sal betaalbaar wees voordat enige elektrisiteit verbruik kan word.

“AfriForum staan dié buitensporige verhogings teen en doen ʼn beroep op Nersa om die verhogings af te keur. Ons sal ook met ons regspan konsulteer om die verhogings, indien dit goedgekeur word, tersyde te stel,” het Grobbelaar gesê.

Die nuwe tariewe is veronderstel om Maandag 1 Julie in werking tree.

Volgens Grobbelaar het die eerste verhoging wat aangekondig is, in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) verskyn en was toe ʼn basiese tarief van R56 wat op alle verbruikers van toepassing sou wees.

Die tweede aankondiging oor die vaste heffing het op 19 Junie in die Staatskoerant verskyn en is as R200 aangedui.

Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die metro, het ná mediaberigte oor die implikasies van die heffing ontken dat die tariefverhoging so buitensporig hoog sal wees. Tau het toe gesê die vaste heffing sal net R120 wees en slegs op verbruikers ingestel word wat meer as 650 kWh elektrisiteit per maand gebruik. Hy het verder benadruk dat die metroraad by Nersa se riglyne van ʼn 13,07%-verhoging van elektrisiteitstariewe sal hou.

AfriForum het ook deur ʼn PAIA-proses die derde vaste heffing van R120, wat die metro voorgestel het, bevestig.

“Volgens ons berekeninge sal die basiese heffing van R56 soos aanvanklik in die GOP voorgestel is, nie ʼn probleem wees nie en verbruikers mag dalk minder betaal as voorheen, maar die ander twee voorgestelde basiese tariefheffings sal nie Nersa se afsnypunt van 13,8% haal nie,” het Grobbelaar gesê.

Volgens AfriForum is Nersa se riglyne vir elektrisiteitsverhoging vir munisipaliteite ʼn voorgestelde 13,8%, maar die Tshwane-metro het hom glo daartoe verbind om die verhoging onder 13,07% te hou.

Die burgerregte-organisasie is verder ook ontevrede omdat spesifieke prosesse gevolg moet word voordat ʼn tariefverhoging ingestel mag word. Een hiervan is ʼn openbaredeelnameproses, soos met die GOP, waar die publiek die geleentheid gegee word om insette op die verhoging te lewer waarna Nersa die verhoging kan goedkeur.

“Die basiese tarief beteken dat kragverbruikers dié tarief sal betaal voordat enige elektrisiteit verbruik word. Vir koopkragverbruikers beteken dit indien jy R56, R120 of R200 se krag aankoop, jy geen eenhede sal ontvang vir die kragaankope nie en bykomende krag sal moet aankoop voordat jy enigsins eenhede ontvang.

“AfriForum glo die Tshwane-metro het op ’n slinkse wyse ’n manier gekry om verbruikers veel meer te laat opdok as die toegelate 13,8%. Die heffings van R200 en R120 is skerp verhogings van die voorgestelde R56 en blyk onredelik te wees en kan nie geregverdig word nie.”

Maroela Media het berig dat ʼn taakspan Maandag aangestel is om die tariefverhogings te hersien. Volgens Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Tshwane-metroraad se openbarerekeningekomitee, was almal op die taakspan dit eens dat veral die vaste heffing aandag moet kry.

Erasmus het gesê die taakspan se voorstelle sal nou aan ʼn spesiale vergadering van die burgemeesterskomitee voorgelê word waarna dit Donderdag by die Tshwane-metro se maandelikse raadsvergadering sal dien.

Nersa sal nou glo teen Vrydag moet besluit of die voorgestelde tariefverhoging wel ingestel mag word.

AfriForum het verder ʼn beroep op die inwoners van Pretoria gedoen om die verhogings teen te staan.

Die publiek kan op AfriForum se webwerf teen die tariefverhogings beswaar maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Andre ·

Hoe kan jy vir krag betaal wat jy nie kan gebruik nie. Dit is geld ontvang vir geen dienste gelewer nie.

Christien vd Westhuizen ·

Dit is vir soweto diepsloot alexandra en al die ander plakkerskampe waarvoor daar betaal gaan word

zoom zoom ·

Tshwane word bestuur deur geldwolwe en kan nie diestr lewer. Ek is seker as hulle minder skenkingsmaak van miljoene op allehande bollie wat niks beteken vir ons wat elke maand maar betaal kan die tarief verminder. DA is besig om aan te jaag en dit gaan hulle kos met die volgende misluktepaliteit verkiesing

Jimmy ·

Sover ek weet is die VF+ deel van die koalisie wat die metro beheer.

Kallie ·

Is hierdie tipe heffings in lyn met munisipale regulasies?

Petrus ·

Indien daar kragonderbrekings is moet die heffings mos terugbetaal word. Dit lyk nou of verbruikers se planne om van die netwerk af te kom begin byt.

Johann cb ·

Wat presies is die “elektrisiteitpunt” waarna verwys word? Verskoon my onkunde!

Koos de Meyer. ·

Melk sal hulle ons melk tot die koei opdroog. Die verkiesing is mos nou verby.

tshwane inwoner ·

Groot probleem is die basiese heffing is vir elke verbruiker se rekening begin op R 56 en dan eweskielik R200 dan na al die druk R120 en weer terug R50 odd want dit was n vinger fout .Diegene wat tariewe opstel het nie n idee wat hulle doen nienbeste besluit wat hulle kan neem vat bestaande en sit 13.07% anders gaan die begroting nie klop nie en verbruikers word uitgebyt

Gert van Wierdapark ·

Die DA-beheerde Tshwane Stadsraad is reeds op Dun Ys met sy EFF samewerking-ooreenkoms. Hy is besig om vir hulself ‘n politieke graf te grawe met die uitbuiting van inwoners met die beplande heffings! Ons “watch julle my china’s”!!!

Belastingbetaler ·

Dit is kommerwekkend om die minste te sê. Kaapstad sit die afgelope maande met dieselfde probleem. ‘n “Home User Tariff” van R150 voor enige gebruik! Dis laf. Net vir die voorreg om gekoppel te wees aan ‘n verpligte stelsel. En die buitensporige salarisverhogings wat hulle hulself toeëien. DA, julle mors met die mense. Leer julle nie? Of probeer julle skep wanneer julle kan?

Skroef ·

Hoekom betaal julle? DEMOKRASIE beteken glo EEN VIR ALMAL EN ALMAL VIR EEN. so as Kaapstad daardie heffing betaal en jy kan bewys een persoon in Khayelitsha, Nyanga of een van daardie gemeenskappe betaal dit nie, of net n sent minder, gaan gelykheidshof toe

Leeu ·

En vir wie moet Tswane en Kaapstad (of die hele Wes-Kaap dan!) bedank?
Die Demokratiese Alliansie (DA).
…en dan heul die VF+ ook nog saam met die DA én EFF!!
Welkom terug aan die Konserwatiewe Party (KP) – hoop jul bereik dieselfde hoë hoogtes as vroeër!

Frik ·

Volgens my betaal jy alreeds al die jare vir jou kragpunt,dit word uitgewerk vir die area waar jy bly en die grote van jou stroombreker wat op die paal of meterkas is en of dit n enkel of drie fase aansluiting is,dit word by jou rekening of aankope ingewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.